Lina Spies – Sulamiet. Naledi, 2016. ISBN:
978-0-928316-47-6
Resensent: Joan Hambidge
Bevry van die kalender se heerskappy
Onvervulling en die soeke na ‘n
oplossing vir hierdie pynlike toestand, kan gesien word as die onderbou van
hierdie bundel. Daar is min digters wat hierdie eksistensiële dilemma so raak
verwoord as Lina Spies. Ons vind die bekende temas hier: liefde,
verganklikheid, die dood (met aangrypende lykdigte, o.a. oor Heinrich Grebe),
geloofsake, vriendskappe, die natuur, musiek, en ook: die immer durende gesprek
met die digkuns en ander digters. “Die huis van moontlikhede”, soos Emily
Dickinson dit dan verwoord. Eybers op haar beurt praat van “woorde - goedkoop
grabbelsak / of diamantbedryf”.
In vertalings wys Lina Spies op
die eensgesindheid tussen Eybers en Dickinson. Sy het hieroor ‘n studie
geskryf: Die enkel taak - Die merkwaardige ooreenkoms tussen Elisabeth Eybers en
Emily Dickinson. Queillerie,
Kaapstad. 1995.
By Spies is daar ‘n losser
versbou (as by bogenoemde twee digters) en ons vind hier ‘n meer narratiewe
aanslag. Daar is egter in die gedigte (dikwels onverhuld) ook ‘n spanning
tussen beeld en toepassing. In die verruklike “Himne aan die herfs” (28) bewys
sy hoe sy hiermee werk.
Sy is ‘n besondere natuurdigter
- soos Ina Rousseau en Johann de Lange - wat die unieke aard van elke seisoen
kan opvang. Deur Spies se oë sien jy die Stellenbosse berge wat verkleur.
Haar kennis van die musiek is
duidelik sigbaar in verse vir (en oor) sangers soos Cecilia Bartoli,
gekritiseer oor haar vertolkings, wat op ‘n omweg ‘n soort ars poëtika word:
elke voël sing immers soos hy
gebek is
tot eer van die Ewige Vader
(“Hemelpoort”, 72).
Politieke onreg word aangespreek
in verskeie verse, o.a. oor Nelson Mandela, en in “Dekrete van deernis” (85) praat
sy met Adam Small. Ook die sanger Randall Wicomb (“Die man met die kitaar”, 86)
word vereer met ‘n lykdig oor die pyn wat hy moes deurmaak weens die
raspolitiek van die land. Sy kyk na ‘n skildery, Inferno van Judith Mason oor verkragting van ‘n jong dogtertjie en
lewer kommentaar hierop in “Die weerloses” (64).
Breytenbach vereer sy tereg as ‘n
groot digter en taalstryder in “Uitnodiging tot die dans” (82). Die oerkrag van
sy gedigte bly vloei vanuit die buiteland; ten spyte van hoe Afrikaans tans (veral
aan universiteite) verminder en uitrangeer word. Die politieke uitsprake van
die digter is hier duidelik ‘n interteks.
Oor geloofsake lewer sy
belangrike kommentaar. Die digter se siening van die NG Kerk en geloofsake
waarin Christus “vereng” word, is algemeen bekend. Hier is “Verlies” (61) ‘n
kernvers met die besef dat ons Jesus by die kruispad kwyt geraak het. “God is
in my woordeloosheid”, bely sy in “Transendent” (76).
“Herrysenis” (69) tree in
gesprek met Olga Kirsch se besinning oor die land van verbond. Spies
transporteer die Riviere van Babilon na moderne kunstenaars soos Isaac Stern,
Yehudi Menuhin en Itzhak Perlman (die Israeli-Amerikaner). Die volk wat altyd
op vertrek staan, het viole met hulle saamgedra. In die slot wanneer sy
Zuckerman se vertolking hoor van Max Bruch se vioolkonsert in die Endlersaal,
23 Augustus 2014, bewys sy hierdie siening van die wandelende Jood.
Dit is dan Spies se
handtekening: om uit die historiese gegewe iets persoonliks te maak.
Vir my is die korter, meer gedronge
verse geslaagder. Die gespreksverse, intiem in hul aanspreek van ‘n onderwerp
of persoon, loop dikwels hier die gevaar om te wydlopig of woordryk te raak -
soos die vers oor Randall Wicomb. Dit is uiteindelik waarskynlik ‘n kwessie van
smaak.
Harold Bloom, die bekende
Jiddisj-Amerikaanse teoretikus verwys na “the anxiety of influence” en hoe
skrywers met mekaar in gesprek tree.
Spies is ‘n polemiese persoon én
digter: sy neem standpunt in teen rasdiskriminasie, die ontkenning van
taalregte, religieuse engheid. Sy is in eie reg feministies ingestel oor die
lot van die enkelvrou - “huidhonger” of body
loneliness word eerlik beskryf.
Celan se “Todesfuge” word goed
vertaal.
Bloom wys ook hoe die groot
digter “swerve” en iets nuuts bybring tot die kanon.
Hier het ons verse wat die
invloed van Eybers en Dickinson registreer, soos Bloom dit beskryf in The anxiety of influence (1975). Haar
unieke aanbod is die praatvers, die intiem-persoonlike aanslag. En tematies
verryk sy die Afrikaanse digkuns met haar verse oor Joodse vervolging en die
holokaust (Shoah). Ook die “herwonne paradys” (in gesprek met Ina Rousseau) en
die siening van Jesus as die Joodse rabbi is belangrike temas.
Die titel is uit Hooglied 6: 11 en 13 wat erotiese liefde
aktiveer:
Ek het afgeloop na die neutetuin om te kyk na die uitspruitsels in die dal, om te kyk of die wingerdstok uitloop, die granate blom … Kom terug, kom terug, Sulammitiese, kom terug, kom terug, dat ons u kan aansien.
In “Belydenis van ‘n Sulamiet”
(41) waar sy standunt inneem téén die Puriteinse siening oor die liefde, net
soos sy die kerk kritiseer vir hul beperkinge wanneer hulle Christus toe-eien
en sekere mense uitsluit.
Dit is ‘n bundel met ‘n ryke
tematiek waarin ‘n magdom van onderwerpe aan bod kom. Daar is dus iets vir ‘n
verskillende lesers opgesluit in hierdie bundel, uitgegee deur Naledi.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)