Deon Maas - Melk die heilige koeie: Van baarde en banting tot Zupta en zol. Tafelberg,
2017. ISBN 978 0 624 08116 6
Resensent: Joan Hambidge
Die boek word bemark met Deon
Maas op die agterblad wat meen dat die Afrikaner-geen 'n dwarstrekker-geen is.
Dis ook glo tyd om al die heilige koeie in heroorweging te neem.
Die idee van die Afrikaner as
dwarstrekker is so oud soos die berge. Hoeveel (susters)kerke had nie? Hoeveel
families is nie deur politieke verskilletjies (SAP versus NAT) tot vyande
verklaar nie?
Deon Maas is soos Koos Kombuis.
Hulle het hulle aanhang met kwirky, stroomop, aweregse, dwars, humoristiese
rubrieke. Beide het my al laat dreunlag met hul satires; beide moet (volgens
die uwe) hou by spotspraak, populêre musiek, en trends.
Francois van Coke loof die boek
op die blakerteks as "donners snaaks, skerp ... mal daaroor". In die
voorwoord word ons gevra om vir onsself te lag. Ons isolasie as nasie is verby
en ons staan nou op ons eie voete. En op die graf van 'n politieke ideologie
wat ander benadeel en ons groei gekortwiek het.
Nou moet ons vir onsself lag en
dan word daar verkeerdelik beweer dat
as jou tong in jou kies is, gaan jy baie skade opdoen in 'n vuisgeveg.
Tong in die kies beteken
lig-ironies, jokey-wokey.
Oorspronklik het die uitdrukking
minagting beteken; toe het dit later in die volksmond beteken dat 'n uitspraak
nie ernstig opgeneem moet word nie.
Maar hierdie beswaar tersyde
gelaat: wanneer jy hierdie boek begin lees met sy hoë lagkurwe, besef jy hoe eiesoortig ons gemeenskap is. Tim Noakes
en banting, sitplekke op vliegtuie, studente wat skilderye verbrand, ouers wat
spog met kinders se rapporte, is van die satiriese teikens wat opgestel en
afgeskiet word.
Oordrywing, spotspraak,
sarkasme, gekskeerdery, beledigings, aspris-wees, is van die bekendste elemente
van hierdie sub-genre. En wanneer dit in 'n rubriek of bundel opgeneem word,
dan moet jy eweneens die skrywer se persoonlikheid aanvaar.
Do you love to hate Deon Maas?
Is hy 'n blote opskepper, of kan
ons hom ernstig opneem?
Boonop moet so 'n satirikus 'n
stilis wees.
Maar hierdie intellektuele
analise het al waarskynlik vir Maas aan die knor!
Daar is 'n paar juwele (wees
gewaarsku, jy kan nie die boek in die openbaar lees nie, want jou verwoede
lagbuie gaan die omstanders steur) soos:
die een oor Adriaan Vlok wat
dalk 'n spesiale afskorting in sy kattebak moes laat bou het om te verhoed dat die
plastiekskottel waarmee hy almal se voete was, te veel rondgly;
sy enumerasie van die name vir
die manlike bultboor;
sy analise van hoe jy met 'n eks
(via Emsie Schoeman) moet omgaan;
die impak van
eenlaag-toiletpapier;
croc-skoene.
So tussen al die grappe deur is
hy soms ernstig wanneer hy byvoorbeeld slut
shaming analiseer en die dubbele standaarde van ons gemeenskap.
Sy analise van Afrikaans aan
universiteite is uitstekend. Laat die tegniese wetenskappe in Engels voortgaan
en die geesteswetenskappe in 'n plaaslike moedertaal. As musiekkenner maak hy
tersaaklike analises van waarom Jack Parow suksesvoller as sy bruin eweknieë
is. Oor Facebook is hy in die kol! Hy deel klappe uit na vele bekendes, soos
Steve Hofmeyr, maar ek is seker Steve sal dit kan vat.
Daar is verwysings na Trump,
Danny Jordaan, Louis de Villiers (die rugbyskrywer), die AWB, rugby, en wat
nog.
Die dwarsgeit van die Afrikaner
resoneer met Willem de Klerk se ernstige boek Afrikaners: Kroes, kras, kordaat.
En terloops: Maas draai ook die
mes op homself in. Sy haarkleur, tande en aknee as kind. Hy vergeet egter van
sy Ȏfrikônse aksent.
So hy slag (in plaas van melk!)
ook 'n heilige koei van satire! Die boek word aan sy ouers opgedra en ja lees
mooi: agter die ou hardegat-aanslag, is daar tog iemand wat hou van maniere,
respek vir ander en waardes soos eerlikheid.
'n Aweregse kultuurdokument,
dus.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)