Bladsye / Pages

Sunday, November 27, 2016

Jacomien van Niekerk - Baie worde: Identiteit en transformasie by Antjie Krog (2016)


Jacomien van Niekerk - Baie worde: Identiteit en transformasie by Antjie Krog. Van Schaik, 2016. ISBN: 9780627035302

Resensent: Joan Hambidge

Die digter Antjie Krog is enige dosent se droom in ‘n kursus oor die feminisme. ‘n Mens kan volledige vrouwees karteer aan die hand van haar gedigte.

Krog as openbare figuur en politieke kommentator lok dikwels reaksie uit. Sy is duidelik ‘n persoon met ‘n gewete en in haar transformasie-trilogie Country of My Skull (1998), A Change of Tongue (2003) en Begging to be Black (2009), neem Krog standpunt in teen kolonialisme, onderdrukking en hoe ons binne ‘n Westerse samelewing (in Afrika) reageer teen die Ander. Jacomien van Niekerk se boek kyk dan na kolonialisme/postkolonialisme, “ras”, “identiteit” in Afrika en sy lewer inderdaad ‘n bydrae tot die komplekse en aktuele diskoers.

Oor Krog het literatore soos Willie Burger, Anthea Garman, Helize van Vuuren, Louise Viljoen, Johan Jacobs, en vele ander geskryf. Sy bly ‘n fassinerende subjek en ook digters reageer op haar werk in die vorm van palinodes en teensange; nes sy op haar beurt weer reageer op Eybers, Sexton, Erica Jong, Plath, e.a.

Krog is omstrede. Haar onlangse uitsprake oor armoede en die verdeling van rykdom het ‘n debat ontlok. Met Krog is die eerlikheid en direktheid nie-onderhandelbaar.

Die titel “baie worde” verwys na ‘n gedig uit Kleur kom nooit alleen nie (2000):

“boot”
nie van wees nie
maar van word
baie worde
verby verlore en ontheemde ruimtes
       baie baie worde

En dit som die studie perfek op: die baie worde; die baie selwe en belewenisse. Die private versus die openbare; die digter as pryssanger, as vertaler – die ander tongval, die oopskryf van Afrika, die digter as gewete van die volk. Worde aktiveer ook baie woorde …

Jakes Gerwel het haar beskou as ‘n Afrika-intellektueel en die onverwiklike debakel rondom Met woorde soos kerse (2002) het veelal bewys dat sy dit is: die tekste wat sy vertaal en teruggee, aktiveer ‘n Afrika-kollektief. (Hieroor het Helize van Vuuren insigryk geskryf in haar studie A Necklace of Springbok Ears, by SunMedia uitgegee, waar sy wys hoe vér die Boesman-gesprek teruggaan in Afrikaans en Stephen Watson se aanklagte verkeerd bewys.)

Met Jacomien van Niekerk se boek word die gesprek voortgesit. Vir my is Krog se drieluik minder as haar digkuns. Sy is myns insiens dikwels te emosioneel, maar terselfdertyd is my standpunt: dit wat die digter laat gedigte skryf, moet ons eer. En haar belangrike posisie kan nie ontken word nie.

Van Niekerk meen dat dit inkorrek is om Deleuze en Guattari van Eurosentrisme te beskuldig (38). Nou as kenner van hul werk wonder ek hoe sy so ‘n stellige uitspraak kan maak as sy self in ‘n voetnoot op bladsy 26 erken dat sy op ‘n artikel van Willem Anker steun en “geen aanspraak maak op volledigheid nie”!

Die nomaad/risoom word binne ‘n ander konteks gebruik en hierom het Spivak juis hierdie kritiek geopper.

Krog se gebruik van terme soos mineurwording, die nomaad, en dies meer, moet myns insiens eerder as ‘n kreatiewe reaksie as ‘n filosofiese besinning gesien word. Dieselfde geld wanneer sy Adorno aanhaal in Country of my skull dat daar geen poësie moontlik is nie na Auschwitz. Digters as skrywers van nie-fiksionele tekste (faksie) reageer eerder kreatief en nie wetenskaplik nie.

Deleuze en Guattari se skisoanalise is direk gerig teen Lacaniaanse denke wat Eurosentries begrond is.

Wanneer sy egter oor prysliedere skryf, die invloed van Biskop Tutu op Krog se denke, Krog as imbongi, en die kompleksiteite van Afrika ondersoek, is sy op vaster voet. (‘n Mens sou tog dat sy Luc Renders oor Relaas van ‘n moord moes aanvat, p. 54. Die kwessie van faksionalisering val egter buite die opset van die studie en by ‘n eerste aanhoor van hierdie lesing indertyd by ‘n kongres, was hierdie leser bewus van ’n vooropgestelde interpretasie van dié Neerlandikus.)

Een setfout op bladsy 56: verantwoordelik moet lees verantwoordelikheid. Van Niekerk wys op ‘n naamwoord-fout by Krog op bladsy 63, ‘n bewys van deeglike navorsing binne Afrika-tale.
Vir die hedendaagse gesprek oor ubuntu, witheid en dekolonisering, is hierdie boek wel tersaaklik en aan te beveel. Oruka, die Afrika-filosoof, se werk en die besoek aan Koning Moshoeshoe se graf, is openbarend. Die hele studie weergalm met die sub-teks hoe wit en swart verskillend na die wêreld kyk.

By Krog is daar 'n sterk gender- en ras-script.

Met ‘n pragtige voorblad na ‘n tekening van Anton Kannemeyer, is hierdie nommer 6 in die Talatala-reeks.




(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)