Bibi Slippers - Fotostaatmasjien. Tafelberg Uitgewers,
2016. ISBN-13 : 9780624080732
Resensent: Joan Hambidge
Bibi Slippers se gedigte werk
met die idee dat daar niks nuuts onder die son is nie. Hierom die titel Fotostaatmasjien. Hoe sal ons hierdie
gedigte beskryf? Popverse? Hip-verse?
Dalk anti-poësie? Found poetry?
https://en.wikipedia.org/wiki/Found_poetry Besoek 9 November 2016
Found poetry dan in die sin dat
'n bekende teks nuut omraam en in 'n nuwe gedaante betekenis kry.
Dalk post-postmodernisme?
Die geel bundel – modern met ‘n
getuigskrif van ‘n Juffrou uit standerd drie (wat weer sterk herinner aan ‘n
Jan Wolkers-agterblad) wil debunk. Die vrome skrywer se CV word hier dus
uitmekaargetrek. Slippers het ook haar eie TV-program waar sy met boekmense op
en buite haar bed gesels. ( http://indiebedmetbibi.com/
In die bed met Bibi. Besoek 9 November 2016)
Hierdie bundel herinner aan die
tegnieke wat Dan Roodt gebruik het in Kommas
uit ‘n boomzol (1980) toe hy die gek geskeer het met die verskyning van
Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok
(1979). Veral waar die "meisies en moffies" in die letterkundige
laboratorium aan DJO se lippe gehang het.
Maar om die spot te dryf met die
ikoon, moet jy die stylfigure van daardie digter goed begryp. (Ons onthou
immers die vraelys in Roodt se bundel). J.C. Kannemeyer het indertyd gemeen dat
daar nie een goeie gedig in die bundel is nie. Missing the point completely.
Die bundel is heldergeel
uitgegee. Over the top. Jou konvensionele digkuns-leser sal waarskynlik ontstig
raak oor die aanslag.
Maar om hierdie soort gedig te
skryf, moet jy die kanon ken. Die gedig “Antjie Krog wat wag om te gebeur” (31)
is ‘n voorbeeld hiervan. Die ironies-siniese einde som dit alles op:
[...]
die naaste wat ek nog aan die
waarheid was
is Antjie Krog in ‘n swart
swembroek
op ‘n duikplank wat gereedmaak
om te spring
maar die oomblik voor die sprong
stop
as sy besef sy’t nog
haar ronderaambril op.
Dit is 'n bundel wat handel oor
die digkuns en die betekenis van die digkuns word ook as 'n vermorsing van tyd
gesien. Tog word daar in gesprek getree met ander (ouer) digters: C.M. van den
Heever, Barend J. Toerien, Adam Small, Breytenbach.
Dis hierdie ambivalensie wat die
bundel laat voorstu.
Die gedig as artefak word belig
in 'n polkakol-vers (44).
Alles staan in die teken van
nabootsing, afkyk (die outentieke nabootsing van 'n Gucci-sak, 72). "Die
resiesfiets en die reier" (na Paul Fattaruso, 55) speel met hierdie gegewe
van die oorspronklike vers wat in die naskrywing 'n nuwe betekenis kry.
Instagram maak ook hier die
buiging, neffens die fotostaatmasjien, selfone, YouTube, emoji's. Ja, ook Google,
die grootste, oopwaaierende gedig.
1977
dubbele moordenaar Gary Gilmore
se korneas
is na sy teregstelling op twee
ontvangers oorgeplant.
sou hulle nog sien na byna
veertig jaar? flits daar
ooit voor die oë 'n onbekende
beeld verby, 'n bord
vol steak en aartappels,
onaangeraak, ingebrand
op DNS, dié polaroid-skoot van
'n laaste maal
Polaroid en Warhol. Vinnige
kuns. Maar agter die afdruk, skuil daar baie kennis en navorsing. Daar word
geboogie-woogie met Ingrid Jonker en 'n skitterende satire gepleeg oor
Thamsanqa Jantjie oor sy "handgebare" (104). In verskillende
weergawes - met motto's selfs van Slavoj Žižek, word die bedrogspul van 10
Desember 2013 aan die kaak gestel. Die "tye en swye" verwys weer na
'n ander postmoderne bundel.
"Even if they call me a
fake, I am the great fake because I expose what is going on in the goverment and
the system". Dus waar die keisers en die kiesers ewe kaal is.
In die afdeling Dubbelfoute word Anne Carson aangehaal: "Metaphors
teach the mind to enjoy error. There is an ancient Chinese proverb that says:
brush cannot write two characters with the same stroke. And yet that is exactly
what the good mistake does." Ons ken ook Roman Jakobson se uitsprake oor
metafore en metonimia wat lyk soos die denkwyse van 'n persoon wat ly aan
afasia!
Foute, opsetlike spot met
plagiaat, pastiches, copy & paste word hier uitstekend aan die kaak gestel.
Chester Carlson, en xerografie, kom aan bod in die openingsgedig. (Chester
Carlson – Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Chester_Carlson Besoek 9
November 2016)
Die liefdesverse tref in die
maag. 'n Bloedhou soos die digter bely. Liefdesverse bly maar halfhartige
pogings; dis al soveel keer gedoen!
Die digter, reklameer die
publisiteitspamflet, neem die rol van monnik in die middeleeuse skriptorium
aan. Uit die gevormde kuns is daar wél kuns te pleeg. Die gedig word letterlik
ook artefak, soms skeefgedruk, soms gekleurd en die duidelikste interteks is
Willem Boshoff se KykAfrikaans (1980)
met sy visuele en konkrete gedigte.
Kyk byvoorbeeld na sy titels:
1. Aan 'n Lyntjie
2. Eenduisend en Een
3. Gekrap
4. Getikte Kwashale
5. Hekelskrif
6. Pro Patria
7. Skrifskerwe
8. Stadsplaas
9. Verskanste Openbaring
10. Vierletter Woorde
11. Vlegskrif
12. Ydele Herhaling van Woord
2. Eenduisend en Een
3. Gekrap
4. Getikte Kwashale
5. Hekelskrif
6. Pro Patria
7. Skrifskerwe
8. Stadsplaas
9. Verskanste Openbaring
10. Vierletter Woorde
11. Vlegskrif
12. Ydele Herhaling van Woord
Van hierdie gedigte is later
uitgestal as silkscreens. Sy bundel was 'n homage en 'n vaarwel aan die
tikmasjien. Waarskynlik is Slippers se bundel 'n homage aan die fotostaat (wat
soms ook kopiereg-oortredings impliseer). Poetry as garbage (in navolging van
Elizabeth Bachinsky), maar ook as artefak dus. Soms is die gedig as fotostaat
helder; soms is die ink al op. Soms skeefgedruk.
Opperman was immers ons eerste
postmodernis - veral met Kuns-mis,
1964 - en hierna het vele digters dit verder geneem.
Motto's word uit die pop-wêreld
en ernstige letterkundige geneem: post-postmodernisme demokratiseer en
ver-Trump immers alles. Die geel aanslag is pure Andy Warhol, 'n popkunstenaar
bekend vir sy afdrukke, maar ook vir sy roemryke loopbaan met aktrises en die
skep van 'n nuwe identiteit. Bibi Slippers se persona op Litnet en in onderhoude is speels, manies – jy kan die gedigte nie
loslees van die digter as jongleur nie. Sy debunk dan ook die gedagte van die
digter as stil, eensame, misverstane figuur. Diegene wat in die verlede
geïrriteerd was met 'n haar openbare persona en uitstal van haar self (soms met
haasoortjies, soms op 'n bed) sal moet toegee: hierdie skiewie in die
skriptorium weet van dig!
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)