Bladsye / Pages

Sunday, November 27, 2016

Jacomien van Niekerk - Baie worde: Identiteit en transformasie by Antjie Krog (2016)


Jacomien van Niekerk - Baie worde: Identiteit en transformasie by Antjie Krog. Van Schaik, 2016. ISBN: 9780627035302

Resensent: Joan Hambidge

Die digter Antjie Krog is enige dosent se droom in ‘n kursus oor die feminisme. ‘n Mens kan volledige vrouwees karteer aan die hand van haar gedigte.

Krog as openbare figuur en politieke kommentator lok dikwels reaksie uit. Sy is duidelik ‘n persoon met ‘n gewete en in haar transformasie-trilogie Country of My Skull (1998), A Change of Tongue (2003) en Begging to be Black (2009), neem Krog standpunt in teen kolonialisme, onderdrukking en hoe ons binne ‘n Westerse samelewing (in Afrika) reageer teen die Ander. Jacomien van Niekerk se boek kyk dan na kolonialisme/postkolonialisme, “ras”, “identiteit” in Afrika en sy lewer inderdaad ‘n bydrae tot die komplekse en aktuele diskoers.

Oor Krog het literatore soos Willie Burger, Anthea Garman, Helize van Vuuren, Louise Viljoen, Johan Jacobs, en vele ander geskryf. Sy bly ‘n fassinerende subjek en ook digters reageer op haar werk in die vorm van palinodes en teensange; nes sy op haar beurt weer reageer op Eybers, Sexton, Erica Jong, Plath, e.a.

Krog is omstrede. Haar onlangse uitsprake oor armoede en die verdeling van rykdom het ‘n debat ontlok. Met Krog is die eerlikheid en direktheid nie-onderhandelbaar.

Die titel “baie worde” verwys na ‘n gedig uit Kleur kom nooit alleen nie (2000):

“boot”
nie van wees nie
maar van word
baie worde
verby verlore en ontheemde ruimtes
       baie baie worde

En dit som die studie perfek op: die baie worde; die baie selwe en belewenisse. Die private versus die openbare; die digter as pryssanger, as vertaler – die ander tongval, die oopskryf van Afrika, die digter as gewete van die volk. Worde aktiveer ook baie woorde …

Jakes Gerwel het haar beskou as ‘n Afrika-intellektueel en die onverwiklike debakel rondom Met woorde soos kerse (2002) het veelal bewys dat sy dit is: die tekste wat sy vertaal en teruggee, aktiveer ‘n Afrika-kollektief. (Hieroor het Helize van Vuuren insigryk geskryf in haar studie A Necklace of Springbok Ears, by SunMedia uitgegee, waar sy wys hoe vér die Boesman-gesprek teruggaan in Afrikaans en Stephen Watson se aanklagte verkeerd bewys.)

Met Jacomien van Niekerk se boek word die gesprek voortgesit. Vir my is Krog se drieluik minder as haar digkuns. Sy is myns insiens dikwels te emosioneel, maar terselfdertyd is my standpunt: dit wat die digter laat gedigte skryf, moet ons eer. En haar belangrike posisie kan nie ontken word nie.

Van Niekerk meen dat dit inkorrek is om Deleuze en Guattari van Eurosentrisme te beskuldig (38). Nou as kenner van hul werk wonder ek hoe sy so ‘n stellige uitspraak kan maak as sy self in ‘n voetnoot op bladsy 26 erken dat sy op ‘n artikel van Willem Anker steun en “geen aanspraak maak op volledigheid nie”!

Die nomaad/risoom word binne ‘n ander konteks gebruik en hierom het Spivak juis hierdie kritiek geopper.

Krog se gebruik van terme soos mineurwording, die nomaad, en dies meer, moet myns insiens eerder as ‘n kreatiewe reaksie as ‘n filosofiese besinning gesien word. Dieselfde geld wanneer sy Adorno aanhaal in Country of my skull dat daar geen poësie moontlik is nie na Auschwitz. Digters as skrywers van nie-fiksionele tekste (faksie) reageer eerder kreatief en nie wetenskaplik nie.

Deleuze en Guattari se skisoanalise is direk gerig teen Lacaniaanse denke wat Eurosentries begrond is.

Wanneer sy egter oor prysliedere skryf, die invloed van Biskop Tutu op Krog se denke, Krog as imbongi, en die kompleksiteite van Afrika ondersoek, is sy op vaster voet. (‘n Mens sou tog dat sy Luc Renders oor Relaas van ‘n moord moes aanvat, p. 54. Die kwessie van faksionalisering val egter buite die opset van die studie en by ‘n eerste aanhoor van hierdie lesing indertyd by ‘n kongres, was hierdie leser bewus van ’n vooropgestelde interpretasie van dié Neerlandikus.)

Een setfout op bladsy 56: verantwoordelik moet lees verantwoordelikheid. Van Niekerk wys op ‘n naamwoord-fout by Krog op bladsy 63, ‘n bewys van deeglike navorsing binne Afrika-tale.
Vir die hedendaagse gesprek oor ubuntu, witheid en dekolonisering, is hierdie boek wel tersaaklik en aan te beveel. Oruka, die Afrika-filosoof, se werk en die besoek aan Koning Moshoeshoe se graf, is openbarend. Die hele studie weergalm met die sub-teks hoe wit en swart verskillend na die wêreld kyk.

By Krog is daar 'n sterk gender- en ras-script.

Met ‘n pragtige voorblad na ‘n tekening van Anton Kannemeyer, is hierdie nommer 6 in die Talatala-reeks.




(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Wednesday, November 23, 2016

T.T. Cloete Die groot misterie van twee vroue


T. T. Cloete - Briewe aan Anna. Pooka uitgewers, 2016. ISBN 978 0 620 661 45 4

Resensent. Joan Hambidge

I

Op die voorblad van hierdie pragboek is daar ‘n haarlok van die digter T.T. Cloete se vrou, Anna. In ‘n brief, gedateer 17 Desember 2007, bely die digter dat hy hierdie gerfie hare afgesny het toe die geliefde in matriek was. Dit is al wat hy van haar liggaam oorhet na haar dood. Dit is vandag nog net so intakt as toe: mooi, goudkleurig en vars.


Oor die impak van die afsterwe van hierdie geliefde vrou (wat hy in sy bundels op verskeie maniere aanspreek, ook in ‘n pynlike lyksdig oor die verskillende rokke wat sy in haar lewe gedra het) kan afgelees word in die verskillende briewe – geskryf tydens haar siekte en na haar vertrek.

Jy is steeds die digter in my, na jou dood. Jy is nog.

Of, vra hy, is ek die digter in jou.

Hiermee aktiveer Cloete ‘n eeuoue-gesprek tussen digter en sy objek-van-inspirasie. Cloete het Dante deurgrondelik geken en die hele gesprek met vroue is van kardinale belang in sy digkuns. Hieroor het Heilna du Plooy uitstekend geskryf. En Cloete noem dit tereg briljant op bladsy 335. (Versindaba » Blog Archive » Heilna du Plooy. Die deurskynende kelk – Oor vorm en inhoud in die poësie van T.T. Cloete. Besoek 22 November 2016).

II

Die skryf van die brief of die hou van ‘n joernaal of dagboek hoort tot die tradisie van intieme literatuur. Daar is uiters boeiende voorbeelde in die wêreldletterkunde, soos onder andere Franz Kafka se Briewe aan Felize (uitgegee deur Penguin as The Letters to Felice); die ongelooflike briewe van Saul Bellow (uitgegee deur Penguin) waarin hy met bekende intellektuele en vriende in gesprek tree.

Die brief (dagboek/joernaal) maak van die leser ‘n voyeur. Jy lees iets wat in die eerste instansie bedoel was vir ‘n ander persoon, maar die oomblik wanneer sulke briewe of dagboeke gepubliseer word, word die intieme, aangesprokene se posisie as enigste leser ópgehef. Die leser wat die boek koop of uitneem in ‘n biblioteek identifiseer dan met die aangesprokene. Hieroor het Roland Barthes uitvoerig geskryf in Fragments d’un discours amoureux (1977) wat deur Richard Howard vertaal is as A Lover’s Discourse.

Ek verwys opsetlik na Kafka, Bellow en Barthes om iets te illustreer van die Cloete-briewe. Kafka en Bellow se briewe verklap iets van hul sieninge oor kuns, oor watter rol die kreatiewe in hul lewens gespeel het. Barthes, die bekende teoretikus, neem ‘n bekende tema in die letterkunde en musiek wat hy verteoretiseer.

Cloete se lewensmaat was sy muse. Sy het eweneens opofferings gemaak tydens sy Nederlandse studieverblyf en teruggekeer Suid-Afrika toe om geld te verdien sodat haar geliefde man verder kon studeer. Hulle was lewenslank verbonde.

Sy was die eerste leser van sy gedigte. Daar is ook vele gedigte oor haar. O.a. die prag-verse Uit die wit lig van my land gesny. Vir Anna (2010).

Ofskoon die digter hierdie briewe as lekebriewe beskou het, is dit egter meer as dit. Dit werp lig op sy kreatiewe denke, sy menswees en dit kan ook gelees word binne die kader van trauma-letterkunde. Persone wat dus ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, sal baat vind by hierdie proses van verwerking.

Die “afwesige-aanwesigheid”. Die dood van nabye persoon het soms tot gevolg dat die agtergeblewene daardie verlies so internaliseer dat die persoon deel word sy of haar psigiese Umwelt. 

Die aktrise Jana Cilliers het dit só verwoord in ‘n onderhoud met Willemien Brümmer.

Ná Flynn se skielike dood in sy slaap in 2007 het sy ervaar dat die liefde voortgaan, ongeag. “Ek onthou ek was altyd so skrikkerig ná Bill se dood, want dan dink ek ek kan nie grappe vertel nie en ek kan nie mense gemaklik laat voel nie – inteendeel, ek laat hulle ongemaklik voel – en wat gaan ek doen as hy nie meer daar is nie? Dit was eers later dat ek besef het die omvang van ons verhouding was so dat hy eintlik net voortleef. Ek’s nie hy nie, maar hy’t homself nou so half ver-my.” (Ete met Jana Cilliers/ Die sinvolheid van diealledaagse | Netwerk24. Besoek 23 November 2016)

III

Wie is die twee vroue?  En wat behels hierdie misterie?

In die inleiding verduidelik Cloete hoe hy met Anna praat in ‘n bonatuurlike infra- of ultrakommunikasie (16).

Hierdie brieweboek is ‘n besinning oor die dood en hoe mense bly leef na hul dood in ander vorme, in die herinnering, in afbeeldings …

En ja, die dood word hier, soos in klassieke tekste, as ‘n vrou voorgestel.

Kort voor Cloete se dood, ervaar ek ‘n pynlike afskeid van hom, ‘n digtersvriend deur soveel jare. Dié vers is in Indeks (2016) opgeneem:

Ikarus

About suffering they were never wrong,
The old Masters: how well they understood
Its human position:
W. H. Auden

Vroegdag in ‘n gastehuis langs die see,
Auberge Burgundy te Hermanus,
luister ek na Vers & Klank
met verse vir die digter
van die jukstaposisie
en eiesoortige idiolek.
Teen die muur ‘n skildery
so reg uit Miró, na links ‘n skynsel
uit ‘n modieuse lamp. Jy vra my leser
of ek die see kan hoor?
Bo die oseaan, magtig en onmeetlik
bo die gedruis by die hawemuur
net buite sig klink die kreet op
van ‘n jong seun wat gly en
val. Het enigeen gehoor?
Sy naam word dalk verewig op ‘n plaket.
Die voordragstem verduidelik wat ‘n troop
behels in die donker nag. Gedigte stap
vir hierdie digter jambies deur die vertrek,
vir hom van die baie ryk ure en allotroop,
enkele weke voor sy dood.
‘n Ongeleefde lewe, onvervuld
laat onvermydelik ‘n merk.
Hierdie gedig ‘n letsel, yk
van diegene wat ongevraag,
te vroeg vertrek en net deur slapeloses
aan die vergetelheid ontruk kan word.
Ook vir hulle wat daardie dag
die “forsaken cry” moes aanhoor.
Onvertaalbaar hierdie ellende.
Ek beroep my in onmag op Auden.

Die briewe begin by die Universitas-hospitaal (2002) met die besef dat sy geliefde vrou gaan sterf. Daar word deurgaans verwys na die siekte en die impak van die lyding op die digter se gemoed. Op 8 Maart 2010 is daar ‘n inskrywing oor haar hartaanval (190). Besonderhede oor liggaamlikhede word vermeld (83). Die terloopse verwysing na Riëtte se dood (waaroor Lina Spies ‘n lieflike vers, “Op die dood van Riëtte”,  geskryf het, ) ruk aan die hart. Die moeder het gevra hy moes ‘n lokkie van haar hare afsny, wat sy nooit opgeëis het nie. Na Angeline se dood het hy dit begrawe in die agterplaas. Dit was ‘n motorongeluk en Cloete moes die kind se lyk gaan uitken.

IV

M.E.R.

Daar is baie belangrike kodes in hierdie teks. Soos Elizabeth Kübler-Ross se klassieke teks oor die verskillende stappe van doodsaanvaarding. J.C. Steyn se deeglike biografie oor MER word ook vermeld en die “nugtere aanvaarding van die weggaan” (149).

Viktor Frankl is ‘n ander kode; hy en sy vrou wat opgesluit was in verskillende Nazi-konsentrasiekampe, maar het met mekaar gekommunikeer en sodoende aan hul lydende liggaamlikheid ontsnap.

Pleroma versus soma word eweneens ‘n tersaaklike kode vir die begryp van hierdie teks. Die geestelike, spirituele dimensie help ons om die ligaamlike pyn of lyding te kan oorwin.

Erich Fromm se The Art of Loving word vermeld – want hierdie brieweboek is ‘n liefdesboek.

V


Anna (met die bynaam Bessie; ook Anna Parenna; liewe ou siel; Anna Patat) word intiem aangespreek. Die literator-skrywer Heilna du Plooy, ‘n vriendin, is ook hier en sy het deur die jare insette gelewer. Cloete se erkentlikheid jeens ander kom na vore (hy verwys na Nic de Jager se musiekprogram en sy fabelagtige kennis). Hy is bewus van kleinlikhede en naywer – en hoe mense “nagaande” is wanneer jy bekroon word (354). Hy gee erkenning aan jonger digters en bedank hulle vir hul belangstelling of toesendings van boeke.

Dit is ‘n boek wat iets verklap van die binnewerkinge van ‘n groot gees en hoe hy in hierdie tyd van wanorde, soos hy dit noem, afskeid neem; en bestendig. Sonder sy geliefde is hy ‘n halwe mens (190).

Die invloed van sy digterskap as ‘n “poet’s poet” is nog nie volledig bepaal nie.

VI

Steun van sowel die ATKV as die Hiemstra trust het die publikasie van hierdie teks moontlik gemaak.

Hierdie boek met briewe, is postuum uitgegee deur Annekie Botha Du Plessis en kan bestel word by Posbus 48445, Kommetjie, 7976 e-pos: unicorn@icon.co.za.

Sunday, November 20, 2016

Joan Hambidge - The Runaway Jury

El Camino de Santiago

Daar is geen kopiereg op idees nie.

Nou onlangs word daar op Facebook geskryf teen NB-uitgewers wat 'n skrywer se idee sou steel oor die Camino. Die verskillende reaksies op Facebook behoef 'n repliek.

Verskeie mense het al die Camino gestap en daaroor geskryf. ( Walking the Way - National Geographic Magazine. Besoek 20 November 2016)

Ek ken verskeie mense wat ook die spirituele pad geloop het en een het selfs grappend vertel hoe hy saans met 'n taxi vertrek het na 'n hotel! Die volgende oggend was hy weer op sy pos.

Nou as 'n skrywer se boek afgekeur word, is dit 'n pynlike saak. Veral as dit jou ten ore val dat iemand anders se boek aanvaar is en joune nie.

Dit beteken gewoon daardie persoon het beter geskryf, is meer bemarkbaar en val binne die uitgewershuis se idee van wat 'n nie-fiksionele verslag of fiksionele verslag moet behels. Uitgewershuise is finansiële instansies en nie terapie-sentra nie.

Soek eerder na 'n ander uitgewershuis wat jou boek wil publiseer.

Marita van der Vyver

Nou onlangs het Marita van der Vyver in 'n onderhoud bely dat sy graag 'n roman in Amsterdam sou wou situeer, maar Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk het dit reeds so goed gedoen dat sy eerder 'n ander stad gekies het. (Oor middeljarigheid en ontgogeling | Netwerk24. Besoek 20 November 2016)

Die storielyn praat ook implisiet met André P. Brink se Die ambassadeur.

Misverstand vertel die verhaal van Willem Prins, ’n middeljarige Suid-Afrikaanse skrywer wat ná jare sonder veel sukses in Suid-Afrika in Parys is om ’n boekie erotika, wat hy tot sy skaamte onder ’n skuilnaam geskryf het, bekend te stel. Hier ontmoet hy vir Jackie, ’n jong Suid-Afrikaner wat as au pair werk. Dit is Jackie wat saam met hom is dié Vrydagaand die 13de toe terreur in Parys losbars.

Sy ken Parys goed, en Amsterdam is al "gedoen" deur ander skrywers. Maar niks sou enige skrywer verhoed om wel 'n roman in Amsterdam te laat afspeel nie. Trouens, gaan kyk hoeveel ander skrywers in Engels het al hierdie stad as back drop gebruik.

Soos Ian McEwan in 1998.

Daar is terloops ook nie kopiereg op titels van romans nie. Die Judaskus (1998) was my titel vir 'n roman wat Rudie van Rensburg heraktiveer het met 'n speurverhaal. Syne heet Judaskus in 2015. Dit het net lesers weer attent gemaak op die bestaan van die eerste roman.

So gestel daar verskyn drie boeke tegelykertyd oor die Camino.

Dan sal kritici vergelyk wie het die beste boek geskryf en kyk op watter lesersmark is dit gerig. Dis al.

Deon Meyer, Chris Karsten, Rudie van Rensburg en al die verskillende speurverhaalskrywers wat tans in Afrikaans skryf, skryf 'n eiesoortige speurverhaal - gerig op verskillende lesersbehoeftes.

Is dit so goed soos Agatha Christie? P.D. James? Edgar Allan Poe?

Besluit self.

Maar voor jy op Facebook klim en deel word van die "runaway jury", moet jy eers na die beginsels kyk van die saak waaroor jy baklei. (Runaway Jury Law & Legal DefinitionBesoek 20 November 2016). 

© Joan Hambidge