Bladsye / Pages

Sunday, October 23, 2016

Café Society: Woody Allen

Woody Allen
I
Ek is 'n Woody Allen-aanhanger en selfs Allen se "swakste" rolprente maak belangrike stellings oor die filmkuns. Sy jongste - met 'n louwarm ontvangs - heet Café Society en stal die bekende Allen-hebbelikhede uit: sy Joodse agtergrond, sy kritiese blik op Hollywood, die gebruik van die film noir (soos ook in Matchpoint) om die verhaal verder uit te dra en grappige one-liners. In die genoemde Matchpoint word die liefdesintrige tot 'n dramatiese moord uitgebou met die moordenaar wat wegkom weens 'n gelukskoot. 'n Dief word gevang met die ring van die vermoorde buurvrou wat hy in die Teems probeer gooi het. Dit het egter teruggebons (soos 'n tennisbal) en die dief wat dit optel en inbreek word dan "geframe" vir Chris se moord op sy beeldskone minnares.

In die jongste is daar weer 'n liefdesdriehoek: Bobby Dorfman (Jesse Eisenberg) en sy oom Phil (Steve Carell) is verlief op dieselfde meisie. Hy werk vir sy oom, 'n talentontwikkelaar in die filmbedryf. (Dit speel af in die dertigerjare.) Veronica (Vonnie), vertolk deur Kristen Stewart maak Bobby touwys en hy ontdek dat sy ook die minnares is van sy oom. Uiteindelik na 'n bietjie werklike tou-wysery tussen Bobby en Vonnie, val sy egter vir die ryker, ouer man. Daar is selfs 'n brief as geskenk van Vonnie aan Phil, geskryf deur Rudolph Valentino. Dit is dan die ontdekking van hierdie brief wat Bobby laat besef sy geliefde is éintlik sy oom se minnares.

Hartgebroke keer hy terug na NY, waar hy 'n nagklub-eienaar word. Sy gangsterbroer Ben (Corey Stoll) verskaf die geld en hy doen die harde werk. Hier ontmoet hy 'n beeldskone, geskeide Veronica (Blake Lively) wat dieselfde naam het as sy eerste meisie. Opsetlik? Bepaald. Allen wil kennelik hier 'n kanttekening maak oor liefdesobsessies en waarskynlik hoe sy verhale altyd maar dieselfde storie vertel. Hy trou met sy tweede Veronica, word 'n vader. Todat die eerste Vonnie weer opgedaag in die nagklub vir rykes. Hulle gaan wandel in Central Park met haar (waarskynlik net 'n verskoning vir Allen om sy liefdesverhouding met NY weer uit te stal).

Dat Allen besig is met 'n satire op die Amerikaanse samelewing se obsessie met geld, sukses en kitsrykdom, is duidelik. Ben se donker dade word aan die kaak gestel en hy word skuldig bevind aan moord. Die elektriese stoel is sy voorland. (Sy hulp aan sy familie gaan nie ongestraf verby nie en hier lewer Allen lieflike kommentaar op die Marxistiese intellektueel van die tyd en die Rosenberg-geval.) Weens die omstredenheid van sy broer se einde word die nagklub net gewilder. (Verdere siniese kommentaar van Allen.)

Die een se dood is die ander se brood. Bobby word alleeneienaar, vertrek na LA om 'n Hollywood-weergawe te begin van sy suksesvolle NY-nagklub. Hy sien weer vir Vonnie die eerste (sy vrou droom dat hy haar verneuk) en sy bely dat sy en Phil eersdaags NY sal besoek.

Beide besef dat dit beter is om mekaar liefs nie weer te sien nie.

Op nuwejaarsaand is Vonnie by 'n Hollywood-party; Bobby in NY in sy nagklub.

Albei alleen te midde van ander mense. 'n Film sonder closure en wat jou as kyker laat nadink: 'n oop slot wat dalk 'n ander rolprent gaan inspireer? (Woorde Wat Weeg/ Woody Allen. Besoek 23 Oktober 2016).

II

Ek het sopas ook gekyk na Hitchcock/Truffaut (2015) - regisseur Kent Jones - oor Truffaut se beroemde boek oor Hitchcock toe hy hom in 1962 oor 'n periode van agt dae besoek en uitgevra het oor hoe hy films maak. Hierdie uiters belangrike dokumentêr waarin ander filmmaker soos James Gray, Martin Scorsese, Paul Schrader, Wes Anderson, David Fincher, Arnaud Desplechin en Olivier Assayas kommentaar lewer, is ook op Allen van toepassing. (Hitchcock/Truffaut (film) – Wikipedia. Besoek 23 Oktober 2016).

Hitchcock se opleiding as ingenieur het hom ten goede gekom. Hierom is sy films so matematies-presies uitgewerk. En hy het verskillende modelle gebruik vir die storttoneel in Psycho om nie alles te onthul nie.

Soos Hitch en Truffaut, is daar 'n obsessie met die filmkuns. Soms nostalgies, soms self-refleksief. Ons leer uit die gesprek met Hitch en Francois: ons wil dikwels te gou na die bekendstelling van 'n film 'n kritiese uitspraak daaroor maak. Dikwels neem dit tyd om 'n film reg in te skat. Veral waar daar ook 'n outeur-filmmaker aan die werk is.

© Joan Hambidge