Bladsye / Pages

Thursday, September 1, 2016

'n Nota by Dan Sleigh se roman: 1795



My taal is kuns én gereedskap: my tjello, my palet, al my fyn beiteltjies, ek word bang wanneer dom mense daarmee speel …
Geskiedenis bewaar die herinneringe van hoë dade, is getuie van die verlede, ‘n voorbeeld vir die hede en ‘n waarskuwing oor die toekoms...

I

Tydens die lees van Dan Sleigh se lywige en uitgebreide roman 1795, wat verlede jaar die groot romanprys verower het, dink ‘n mens ook terug aan die roman Eilande (wat in 2002) verskyn het. Afstande het in 2010 die lig gesien. Hierna was daar Wals met Matilda in 2011. 1795 is eers genoem: Die laaste goeie man.

Sleigh is ‘n historiese romanskrywer. Sy tekste lewer o.a. kommentaar op krygskunde, seevaart, die Kompanjie-jare, en selfs verder terug in die tyd, die gebeure vier eeue VC.

Sleigh is ook digter en ‘n vinnige goegeloer het egter niks hiervan verklap nie. Duif oor water het in 1971 verskyn.

Daar is twee kwessies wat hierdie leser wil opper by die lees van Sleigh se jongste roman. Waarom vergeet ons dat hy ook digter is (was)? Is dit omdat die Afrikaanse letterkunde genre-beperkend lees?

En: by die lees van hierdie roman, kom ek af op Jay Corwin se fassinerende studie oor die Colombiaanse romanskrywer Gabriel García Márques (MacMillan Education/Palgrave, 2016).

Corwin wys op die hantering van die historiese gegewe in die roman The General and His labyrinth en die toespeling op Simón Bolivar. Ook in Of Love and other Demons is daar ‘n portret van Cartagena de Indias (Cartagena, Colombia - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 31 Augustus 2016).

Soos Dan Sleigh is daar by Gabriel García Márques ‘n besondere kennis van die geskiedenis wat tot fiksie verwerk word. Laasgenoemde skrywer ken die Renaissance Spaanse letterkunde en die Yoruba godsdiens (Yoruba religion - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 31 Augustus 2016).


II
Dan Sleigh © Michael Hammond

Sleigh se roman word bemark as ‘n roman waarin William van de Reede van Oudtshoorn, ‘n goewerneur se seun met ‘n belangrike plek in die Kaapse regering. Hy is woonagtig op Saasveld. Sy lewe is ordelik. Die see bring vir hom ‘n vrou en in die winter van 1795 vind daar ‘n politieke omwenteling plaas.

Rondom die twee asse, die liefde en die politiek, word hierdie roman gekonstrueer.

Maar daar is ook die sensuur van die kerk en ‘n verbod op trou in enige Kaapse kerk. Sleigh verwys ook na iets wat verdere speurwerk vir hierdie leser gekos het: die roubord wat nooit teen die muur gehang sal word nie (444).

Op die internet vind ons die volgende: Sy roubord en wapen hang nog vandag in die kerk van Oudtshoorn, Nederland (Willem Ferdinand van Reede van Oudtshoorn (1755-1822) | WikiTree/ The FREE Family Tree. Besoek 31 Augustus 2016).

In hierdie verwysing is daar ‘n naam van die dosent wat destyds hierdie geskiedenis aan my gedoseer het aan die Universiteit van Stellenbosch, toe meneer Bergh, en ons vind ook die testament:
Testator(s): William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn 4 Maij 1822 Inventaris van alle zodanige goederen en effecten, als er op Zondag den agt en twintigsten dag der maand April, s avonds de klokke omtrend tien uuren, in den jaare onzes Heeren een duyzend acht honderd twee en twintig, metter dood zyn ontruymd ende nagelaten, door den hoog welgeboorene heer William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn.Hebbende de heer overledene, by beslootene testamentaire dispositie in dato 10 September 1819 opgerigt, en waarvan de superscriptie ten zelfden dage voor den notaris publicq m:r Jacobus Petrus de Wet en getuigen is gepasseerd, na alvoorens, zoo wel by dat testament, als by onderscheidene actens denzelven testamente g’annexeerd differente dispositien te hebben gemaakt, voorts tot zyne eenige en universele erfgenaamen genomineerd ende g’institueeerd de kinderen by zyne overledene echtgenoten in echt werwekt, als ….
Daar is al dikwels verwys na Sleigh se skryfvermoë. Die toneel waar William voor die kerkraad gedaag word, is so helder geskryf dat ‘n mens die hele Sanhedrin se reaksie kan sien. Dit is ook gelaai met sub-teks.

Elke goeie herder word beskou as ‘n koopman (of opperkoopman).


III

Die sogenaamde historiografiese roman is ‘n uiters belangrike deel van enige letterkunde. Die kluif boeke oor die Anglo-Boereoorlog o.a., of Dan Sleigh se falanks belangrike tekse, maak vir belangrike en stewige leeservarings.

In die hande van ‘n mindere skrywer sou die gaapkurwe hoog gewees het, maar Sleigh laai die gegewe met drama. Die romanwedstryd se eerste prys in 2015 was welverdiend.

Dieselfde geld die Nobelpryswenner, García Márques. Gerald Martin se biografie van die skrywer is ‘n belangrike teks, maar dit is veral Jay Corwin wat my met sy gesaghebbende studie weer laat nadink oor die belangrikheid van historiografiese fiksie: die waarheid gelieg / die leuen in die waarheid.

In Chronicle of a Death Foretold word ‘n historiese wending gefiksionaliseer, ‘n insident wat in Colombië afspeel in 1951. ‘n Insident wat afspeel rondom die lot van ‘n sondebok. Hoe ver hierdie skrywer sy tyd vooruit was, word beklemtoon deur Corwin. Die skrywer ontgin Latyns-Amerikaanse Oriëntalisme wat later in ons postkoloniale tyd – post-Said – ‘n gonswoord geword het (100).

Miskien is dit die hoogste tyd vir ‘n jong student om ‘n studie te onderneem oor hierdie twee belangrike skrywers!

En nou inspireer dit my so dat ek weer Borges lees in Sheila Cussons se verruklike vertaling: Die vorm van die swaard en ander verhale, wat in 1981 by Tafelberg verskyn het. Van al hierdie verhale is “Die evangelie volgens Markus” ‘n kragtige her-skrywing van die kruisigingsverhaal geplaas in Suid-Amerika.

Borges had nie ooghare vir Neruda nie en onse Gabriel het op ‘n keer vir Llosa gebliksem oor ‘n vrou. Maar wat maak dit alles saak? Elkeen is briljante skrywers in eie reg.


Die vorm van die swaard bepaal immers die litteken!

© Joan Hambidge