Bladsye / Pages

Saturday, May 7, 2016

Resensie: Anneli Groenewald - Die skaalmodel (2016)


Anneli Groenewald - Die skaalmodel. Tafelberg, 2016. ISBN 9780624076070.  Prys: R240

Resensie: Joan Hambidge

Anneli Groenewald het verlede jaar die NB-debuutprys verower met haar roman Die skaalmodel.

Dit is die verhaal van ene Juffrou Berdina Visagie, argivaris van die Bredasdorp Skeepswrak-museum wat besluit om ’n skaalmodel te bou van die dorpie Skipskop, verewig deur David Kramer en digterlik beskryf deur Ronelda Kamfer in Grond/Santekraam (2011) en Marius Swart.

Haar poging word egter in die wiele gery en sy moet haar verweer teen Meneer die Voorsitter, want sy word aangekla van pligsversuim, wanbesteding en allerlei ander sake wat gedy op ’n klein dorpie van skinder, foonafluistering, verdagmakery, seksuele innuendo. Oor die verhaal wil ek nie meer verklap nie, want die leser word in die bieghok die afluisteraar in ’n belydenisroman waarin die geskiedenis en die verdwyning van ’n vervloë tyd aan die orde gestel word.

Dit is dus ’n historiografiese roman, maar eweneens ’n metaroman met die verteller wat alle kragte inspan (briewe, e-posse, koerantberigte, gekonkel in natuurbewaring wat leun op werklike insidente, resensies van Nuwe stemme 4, selfs ’n resep, en wat nog). Die leser word verder attent gemaak op die belangrikheid van die argief en bewaring. Orhan Pamuk se Istanbul: Memories and the City (2006) word in die bibliografie vermeld. Dit is ’n belangrike kode vir hierdie roman: Pamuk het immers ’n hele museum gebou rondom ’n roman, The Museum of Innocence (2008), waar jy objekte in die roman (soos sigaretstompies en asbakke) kan sien. So weet ons problematiseer Pamuk die verhouding tussen geskiedenis en persoonlike herinnering. Hierdie leser had die voorreg om die museum te besoek, en die belangrikheid van die skrywer-as-argivaris word só beklemtoon.

Pamuk is eweneens belangrik vir die lees van hierdie roman, omdat hy in Turkye as ’n uitprater beskou word wat die geskiedenis en politiek van sy land “verkeerd vertel”. En boonop het hy “gesteel” van historiese dokumente, het ’n verontwaardige gids op die Bosporus dit luidkeels verkondig. Kennelik begryp hierdie man niks van die postmodernisme nie. Pamuk moes ook in sy land in die hof verskyn oor verraad. Hiermee het hy die grense van vryheid van spraak getoets en in 2011 moes hy ’n boete betaal het. Glo omdat hy die eiser, Kemal Kerinçsiz, beledig het.

W.G. Sebald is ’n ander leeskode, en meer spesifiek, The Rings of Saturn (1995). Onder meer die gebruik van foto’s soos by Sebald wat eweneens die kwessie van representasie na vore bring. Kan ’n foto lieg?

Teen hierdie wyer doek word hierdie aangrypende vertelling geplaas oor die rol van die skrywer as historikus, as argivaris, as gewete. Die roman ondersoek die kwessie van onteiening en die regering wat in 1984 die Denel Overberg-toetsbaan opgerig het (bladsy 156). Die twee “buurte”, Rossebaai en Agter-die-rant se geskiedenis word dus in hierdie roman tot lewe geroep.

Geskiedenis, so weet ons vandag, word deur die maghebber geskryf, maar die romanskrywer kan altyd die stilgemaakte stem hoorbaar maak.

Die geskiedenis van Skipskop en die Birkenhead is die temas van hierdie roman. Name uit die ou Suid-Afrika duik op soos Magnus Malan. Ekologiese kwessies en natuurbewaring van indertyd word onder die loep geneem.

In ’n stadium skryf die werklike romanskrywer ’n brief aan haar romankarakter waarin sy bely hoe sy sukkel met haar roman. Hier word ook kommentaar gelewer op moderne lesers wat nie meer romans wil of kan lees wat groter uitdagings aan hulle stel nie.

Daar is mooi vinjette in die roman. Die horlosiemaker, die lykbesorger, die betekenis van die chronometer. ’n Staanhorlosie wat bly tik ten spyte van verwoesting daaromheen. ’n Man wat met ’n horlosie begrawe word en so die ewigheid ingaan.

Daardie Meneer die Voorsitter van die Museumraad van die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp kry ’n oorvol van Berdina Visagie. Die vertelling handhaaf ’n balans tussen feit en fiksionalisering.

Gaan kyk byvoorbeeld hoe hulle Bredasdorp voorgestel het, en selfs hul eiesoortige woorde soos foeitskerneels en ghal bewaar.

En in 1979 is daar ’n boek geskryf Die skeepswrakmuseum te Bredasdorp deur Jeanette Grobbelaar en Errol Hayden.

Dit is ’n debuutroman wat besondere belofte inhou. Die voorblad van Michiel Botha is suggestieryk: die geknakte Birkenhead en die posstempel na regs . . .


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)