Bladsye / Pages

Wednesday, May 11, 2016

Boerneef, Breyten en die berggansveer


Die vuur brand laag
die winter koud
Julie is lank
ou Sampie oud
wies saans by die deur
wat wil hy hê
is aant binnetoe beur
wil laans my lê

Hierdie klein gedig staan opgeteken in Boerneef se Mallemole (Nasionale Boekhandel Bpk, 1962). In my studentejare was Boerneef aan ons bekend gestel deur wyle Annette Theron (Snyman) wat as taalkundige die unieke woordspel van die digter ontleed het. Boerneef was ook woordeboekmaker, benewens ‘n unieke digter wat vandag nog deur sangers vertolk word. Ons dink byvoorbeeld aan Laurinda Hofmeyr se lieflike “teen dusketyd” en Pieter de Villiers se toonsettings van o.a. “Die berggans het ‘n veer laat val” en “Aandblom is ‘n witblom”.

“Die vuur brand laag” bestaan uit 8 reëls. Is dit ‘n oktet? Tog nie, maar dit boots die vorm en toepassing van hierdie vorm na. Ou Sampie is oud en die oorgang (volta) tussen die vierde en vyfde reëls dui op die dood. Daardie iets / iemand wat binnetoe beur, dui op die dood.

In Breyten Breytenbach se pas verskene bundel die na-dood (Human & Rousseau) staan die volgende gedig opgeteken wat “praat” met Boerneef se vers:

Saterdag 9 Mei 2015

met oogopslag die maan nog daar
‘n bolseilskuitjie wat niet toe vaar

en roos die daagruim bo die heuwels oos
terwyl nagtegale knipper en tuit soos

toe dagherinneringe geberg in kruike
vanouds uitgelek het onder donkerder struike

en alles ewig was en alles moes sterf
tot ‘n sleepsel rou onthousels op die werf (78)

Teenoor Boerneef se oktet-agtige vers staan die distigon van Breytenbach. Beide gedigte is oënskynlik eenvoudig en toeganklik. Beide eis ‘n dieper lees op, verby die eerste oogopslag.

Die maan word metafories ‘n bolseilskuitjie wat na die niet toe vaar. Die dagbreek (daagruim) lyk roosagtig. Daagruim daag ook die leser se verwagtinge uit. Die nagtegaal herinner aan Romeo and Juliet:

Juliet: Are you going? It’s still a long time until daybreak. Don’t be afraid. That sound you heard was the nightingale, not the lark.[1] Every night the nightingale chirps on that pomegranate-tree. Believe me, my love, it was the nightingale.[2]

Daardie nagtegale knipper en tuit dus (soos in ander verse?)

Die dagherinneringe geberg in kruike lei ons na Cleanth Brooks se The well wrought urn: Studies in the Structure of Poetry, ‘n seminale teks oor die poësie. Op bladsy 207 lees ons:

The poem is a “working out of the various tensions — set up by whatever means — by propositions, metaphors, symbols.” It achieves a resolution through this working out of tensions, not necessarily a logical resolution but a satisfactory unification of different “attitudes,” or dispositions towards experience. Therefore, any intellectual proposition within the poem must be viewed in the context of all the other propositions expressed in the highly changeable language of metaphor. The poem does not try to find the truth-value of a particular idea; it tries to juxtapose many, contradictory ideas together and reach a sort of resolution. The poet is trying to “unify experience” by making poetry not a statement about experience but an experience itself, with all the contradictory elements contained in one cultural expression, i.e., the poem. [3]

En dit is die jukstaposisie van teenstrydige idees wat Breytenbach se vers so knap maak.

Die dagherinneringe geberg in die kruike (urne!) dui dus nie net op die dood waarop alles afstuur nie, maar ook op die digterlike proses.

Breyten Breytenbach tree ook boeiend in gesprek met Boerneef se berggans in die volgende vers in Katalekte (2012):

‘n kolgans doodgery op die M3
Breyten Breytenbach

die kolgans het ‘n veer laat val
van die hoogste roep van waarookal
mits dese wou sy vir ons sê
dis haar maat wat dood op die snelweg lê

die mense ry verby en kyk
vir ‘n droommoment by aanskoue van die lyk
terug in ‘n tyd van ruimte waar nou
die nikswees ‘n verlede vryheid oorvou

die kolgans het geen ritme vir sêplek meer
die kolgans laat val ‘n laaste veer
sy en haar soort wis uit teen die grens
van verlore naburigheid tussen voël en mens

mits dese wou sy dalk nog sê
hoe diep het ons liefde vir die lewe gelê

(Uit: Katalekte, 2012)

En die “rou onthousels op die werf” neem ons terug na Boerneef se ou Sampie op sy werf.
In my bundel Lot se vrou (Human & Rousseau, 2012) staan hierdie vers vir BB:

The well-wrought urn

Vir Breyten Breytenbach

Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ‘n goed gevormde, netjiese kruik.
‘n houer vir die as van uitgebrande liefde,
verlore drome en veral ónwillige lesers.
Met ‘n glasie Usquebaugh in die hand
dink ek na oor die gedig se lewensloop:
uit stof ontstaan en vol stof sal jy ondergaan!
Hef aan lê voor, want die gedig
mag kruikvormig, dus urkeolaties
met ‘n eerste oogopslag lyk;
of soos die uvea van kleur verander,
dog word met elke lesing ge-usukap,
bepaald gepraatjie-vir-die-vaak…
Boonop word vertelle ‘n vers se uvula
word deur stiksienige kritici uitgekap.
Hoe gepas, meneer Cleanth Brooks
die gedig as ‘n goed gevormde, nuttelose kruik.

Gister ontdek ek (toevallig?) Mallemole op my rak en ek doseer tans Boerneef met intense vreugde, danksy Henning Snyman se Mirakel en muse (Perskor, 1983). Die skrywer maak ons bewus van die vlegwerk van (en tussen) gedigte. Die spel tussen primêre implikasie (dubbelsinnigheid, vormspel, nie sigbare betekenisoorgange) versus sekondêre implikasie (ironie, metafoor met hulle meelopers) word beklemtoon. Sintaksis teenoor implikasie; magiese attribuut versus teenspraak.


Niks hang so rooi soos wingerdblaar by Hexrivier
niks staan so geel soos herfspamplier by Dwarsrivier op Ceres
slaan rem aan hou jul asem in en kyk en kyk
lank en eerbiedig soos ‘n mens na so ‘n herfs moet kyk
laat dit inbrand in jou vir later tyd
die warm geel en rooi vir latenstyd

So dig Boerneef. En Breytenbach se bundel is “laatwerk”.

“winterswael” sluit soos volg:

wat is die gedig
anders as die veerveeg skaduwee
voor die lig? (50)

The language of poetry is the language of paradox. Aldus Cleanth Brooks.


Voetskrif

[1] Die lewerik sing in die soggens, die nagtegaal sing saans.
[2] William Shakespeare. Romeo and Juliet, Bedryf 3, toneel 5.
[3] Cleanth Brooks. 1947. The well wrought urn: Studies in the Structure of Poetry. Harcourt Brace, New York.
© Joan Hambidge