Bladsye / Pages

Saturday, April 16, 2016

Joan Hambidge - Wyn in ’n digtersland

Chileense wynlande, waar kos, wyn en digkuns se paaie kruis.

Chili se wyn is verruklik. In Santiago de Chile, in die dakswembad van die hotel The Singular, bely ’n Brit weer hoe gaande hy is oor pinotage wat hy in die Kaap ontdek het. En ja, hoe goed ons wyne is. Zandvliet Shiraz, Anura, Meerlust, ag te veel om op te noem, seg hy. En Raka!

Met my besoek aan Chili het ek die wyn uit die Matetic-streek ontdek. En die vreugdes van pisco ervaar, wat die hittige weer kon troef.

Die Rosaria-vallei, waar die Matetic-landgoed geleë is, beslaan sowat 16 000 ha.

’n Uur ná my aankoms in La Casona vertrek ons op ’n wynproe-ekspedisie. Wat ’n ervaring om die gids te hoor praat van organiese wyn en hoe hulle dit volgens die siklusse van die maan en die son maak. En allerlei kruie en doepas wat in die grond geberg word. Alles gebaseer op Rudolf Steiner se antroposofiese beginsels waarvan biodinamiese landbou bepaald ’n belangrike aspek is.

In dieselfde tyd lees ek ’n artikel oor die digkuns van TT Cloete en hoe alles in hierdie digter se digkuns saamhang.

Aan ons word verduidelik hoe alles op die plaas werk. Elke druif word deur die werkers met die hand gepluk. Hierna word wel van gesofistikeerde masjinerie gebruik gemaak om wyn te maak. Steiner het immers gepoog om ’n soort sintese tussen die natuur en die wetenskap te vind.

Om so ’n plaas te begin moet jy by die voorskrifte van die internasionale raad hou. Een seun het glo sy pa oorreed om hom met die finansiering te help toe hy nie sy graadstudie kon voltooi nie. Die suksesverhaal is nou bekend!

Die EQ-wyne (die EQ staan vir equilibrium) is uitstekend.

Die 2015-sauvignon blanc het ’n tropiese smaak, en die 2013-chardonnay is in Franse eik verouder; maar nie oordonderend nie. Baie subtiel neus jy die Franse afkoms.

Ek was nooit gaande oor pinot noir nie, maar hier sluk ek my woorde. Soos hulle indertyd gesing het: “Dis rond, dis vol, dis tralala!”

Die wyne hier in die San Antonia-vallei het al ’n hele paar pryse losgeslaan en staan hul plek vol in die wêreld onder die wyne van die 100 beste organiese plase.

In die Casablanca-vallei word uitmuntende wit wyne geproduseer.

Verder is die verskil in temperature verantwoordelik vir die uitstekende wyne. Die grond is granietagtig met ’n kleigrond-bolaag.

Ons sommelier, eintlik dégustateur de vins, weet waarvan hy praat. Hy knik instemmend dat ’n mens rooi wyn bepaald eers ’n bietjie moet afkoel om kamertemperatuur te bereik.

Die twee Amerikaners, uit Philadelphia saam met my, is kloekmoedig oor al die wyninligting.

“Praat jy Afrikaans?” vra hy. Ek is verbaas oor sy kennis van Afrikaans as ’n semi-Kreoolse taal.

“Praat jy Afrikaans?”

Ons gesels verder oor die Kroasiërs en die Italjaners wat hier in Chili die wynlandbou 
ontwikkel het.

Tale, soos wyne, leen ’n bietjie hier, steel ’n bietjie daar en kry uiteindelik ’n eie identiteit vanweë die grond, die temperatuur, die weer en die kundigheid (en liefde) van die wynmakers wat ’n passie hiervoor het.

Voor La Casona is ’n lieflike tuin wat amper in die vorm van ’n labirint is. Elke kamer het ’n wynnaam. Ek gaan tuis in Merlot. Die Yanks is in Pinot Noir.

Die kos is verruklik. Ek eet die eerste aand pylinkvis gestop met calamari. Die voorgereg is ’n bokmelk-omelet. En ’n gratis bottel syrah is deel van die emblemata van verrukking.

In die tuin is ’n voëltjie. Geluksalig is hy.

Die kelner lyk op ’n haar (of eerder kaalkop) nes Pablo Neruda. Ek is immers hier om die huise van Neruda, self ’n wynliefhebber, te besoek. Boonop is die kelner van Valparaíso. Elke smulgereg verduidelik hy met liefde en kundigheid.

Die oggend eet ek ’n groot hardgekookte eier vir ontbyt.

“Hierdie eiers smaak anders. Dis van ons werf, en hulle eet die beste oorskietkos. Wees gewaarsku: Dit is geweldig ryk.”

In die tuin is ’n voëltjie. Geluksalig is hy. Ek dink opeens aan TT Cloete wat soveel lieflike 
verse oor voëls geskryf het en mis hom opnuut geweldig. Hy wat ons herinner het daaraan dat Neruda geskryf het dat Chili deur ’n digter gemaak is.

God die digter

Chili is deur ’n digter gemaak – Neruda

daar is meer poësie in die
sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer
liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak

(Uit: Driepas, Tafelberg: 1989)

Buite die warm La Serena word die wynstokke met nette bedek om die suikerinhoud te beheer. Dit voel en lyk nes onse De Doorns. ’n Hitte wat alle pretensie uit jou brand.

Ons vertrek na die Aba pisquera op die gewone staptog deur die wynlande, die vate en ’n verduideliking van hoe pisco sedert 1921 in die Elqui-vallei vervaardig word.

In Vicuña drink ek mango-pisco. Smaak na teer, ek lus nog meer! ’n Klein veldmuis hardloop oor die koel teëls.

Hierdie mense bemark hul pisco’s in Kanada, die VSA, Switserland, Japan en China.


Ek hoor dat die distilleerproses ongeveer 12 tot 24 maande in koperpotte duur. En suiwer water help uiteindelik om die alkoholvlakke tot by 40% te kry! ’n Geduldige, langsame proses, nes die digkuns.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

© Joan Hambidge