Bladsye / Pages

Sunday, March 20, 2016

Neels Jackson - Wit, Afrikaanse man (2016)


Neels Jackson - Wit, Afrikaanse man. Cordis Trust, 2016.

Resensie: Joan Hambidge

’n Onafhanklike uitgewer is altyd ’n belangrike teenstem waar digters wat vir die oomblik buite die modegiere of voorskrifte van die kanon val (hetsy polities of esteties) ’n tuiste vind. Dikwels word die alternatiewe ook hoofstroom, of dit verdwyn (soos Taurus of Hond dalk nou). Cordis Trust vervul tans die funksie om voorsiening te maak vir digters wat nie die lang waglys van die hoofstroom kan haal nie. Gawe gedigte per bundel (selfs vyf) maak so ’n bundel onthoubaar.

Neels Jackson se Wit, Afrikaanse man neem standpunt in teen die sogenaamde elitistiese gedig. Sy bundel is bedoel vir die intelligente leser wat hou van ’n toeganklike gedig wat iets oor die lewe sê. Hierom is daar ’n storie om die gedigte te plaas om die gedig vir die leser te verduidelik. Aldus die agterplat.

Inderdaad is daar dikwels lesers wat “vervreemd” voel van moderne gedigte wat hulle uitsluit weens slim toespelings of woordverwysings. Maar gaan kyk net hoe gewild is T.T. Cloete of hoe Breyten Breytenbach selfs in sy latere bundels steeds ’n aanhang geniet onder lesers.

Met Jackson se perspektief oor die “wit, Afrikaanse man” het die uwe vrede. ’n Gedig is goed indien dit die wêreld wat dit in woorde aanbied, oortuig. En nie om die ideologie of persoonlike aanbod nie. The Well Wrought Urn of De glanzende kiemcel kom hier ter sprake.

Waar die bundel met ’n denkfout werk, is dat die digter moet verduidelik hoe sy verse werk. ’n Goeie gedig, of dit nou ’n Karoo-sang of nonsensvers is, moet sonder ’n narratief of getuigskrif oortuig of meesleur.

’n Handvol verse is op pad om iewers uit te kom, soos “Solomon Mahlangu” (28) en die speelse limerieke (38). “Horlosies” (41) is oulik. Maar die hele bundel word bederf deur die tierlantyntjies róndom die vers. Goed dat die digter die haikoe of distigon beoefen, maar helaas nie met sukses nie omdat die spesifieke vorm-eise nie nagekom word. Sillabes is by laasgenoemde belangrik (gaan kyk maar na Eybers) en as daar ’n afwyking plaasvind, moet dit deur die gedig werk.

En daardie bliksem van ’n rymnukker pootjie ook van die verse. Net in die hand van ’n behendige oortuig dit, anders haak die vers vas soos ’n kous wat leer. Of ’n CD wat vashaak.
Die aanpak van die ars poetica (onder meer bladsye 42 tot 44) steek sleg af by bekende gedigte wat al met hierdie beeldmateriaal gewroet het.

Die liefdesverse is intiem-persoonlik en moes liefs net vir die geliefde se oë gebly het. Daar is ’n hele skat van uitstekende liefdesverse in Afrikaans waarin rymwoorde soos spel/sel/hel net te maklik raak.

Johann de Lange se klassieke vers oor Ingrid Jonker word erken en die digter borduur voort op die vers en dit word ’n pastiche. Niks meer nie.

Politiek kom dikwels aan bod: die Grensoorlog, Mandela, Mbuli en Israel (“Kana”, 72). Ook reise en gebede tref ons hier aan.

Soos die digter bely:

Daarom steek dié verse vas in strewe,
teken dit bloot die buitelyne van ’n lewe.

En dit is die uiteindelike oordeel: te veel buitelyn, te min fokus.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)