Bladsye / Pages

Monday, March 28, 2016

Hilda Smits – die bome reusagtig soos ons was (2016)



Hilda Smits – die bome reusagtig soos ons was. Protea Boekehuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0640-5. R160

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie bundeltitel aktiveer die Bee Gees se bekende liedjie “First of May” wat so begin:

When I was small, 
and Christmas trees were tall,
We used to love while others used to play.
Don’t ask me why,
but time has passed us by,
Someone else moved in from far away.

Die digter is ’n expat, eers woonagtig in Londen en nou besig met nagraadse studie in psigoterapie in die VSA.

Haar gedigte is sjarmant. Dit is geskryf in ’n soort praataanslag (parlando) en aktiveer die gesprek met gert vlok nel se digkuns.

Die onvoltooide sintaksis, die bykans surrealistiese beeld, die saamdink en -dig van assosiasies met die opsetlike ondermyning van konvensies soos interpunksie en vorm, is kenmerkend van hierdie soort digaksie.

Ek noem dit ’n digaksie omdat daar verskuilde kodes opgesluit lê in hierdie soort gedig vir die leser. Versreëls moet deur die leser voltooi word, terwyl beelde assosiatief werk – soos by e.e. cummings, waar die sintaksis van die gedig die semantiese spel uitdaag en beproef. ’n Brief aan die vader (bl. 9) word ’n gesprek met Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark” en in “in die tonnel van my oog”, word die hele herinnering-nostalgie-spanning uitgewerk.

Die ervaring van die vreemdelingskap in die buiteland word ’n soort ars poetica (bl. 10): Die gedig is ’n onbewustelike verkenning van die nuwe ruimte wat selfs liggaamlike vervreemding inhou.

Gedigte buig in op sigself soos in die netjiese vers “Gokarna” (bl. 16) wat oor meer as Degas handel:

jou behendige hande skets my
versamelaar van geheime klanke
onder die blad van die spieël (...)

Jackson Pollock se “glibberige / blink binnegoed” (bl. 46) praat weer met Sheila Cussons se manjifieke vers oor hierdie “action painter” wat ’n verdere kode word vir die leser. Binnegoed word oopgemaak, uitgegooi, maar met beheer.

“Vir Primo Levi” (bl. 44) is ’n juweel in die opsomming van sy lewe en “die begrafnisstoet van ons agt stil asems in ’n ry” (bl. 51) is ’n aweregse lykdig, maar terselfdertyd ’n besinning oor die digkuns en hoe pynlike ervarings verwoord word (“as ek dit alles laat rym”).

’n Gedig oor ’n moeder (ook grootmoeder) en die herinnering aan hoe die moeder wasgoed gewas het, word eweneens meer as dit: Dit word ’n besinning oor die digterskap, oor moedertaal, oor jou plek van afkoms . . . Die digter is intens bewus hiervan, soos ’n mens by Wallace Stevens vind waar die objek én die besinning daaroor plekke omruil in die gedagtes (“The florist wears knee-breeches”).

’n Verdere belangrike kode of sleutel is die werk van die Russiese rolprentmaker Andrei Tarkofski (wat selfs met ’n posseël vereer is), waar die grense tussen fantasie, dood en werklike belewenis ondersoek word soos in Solaris (1972). “vir ’n digter” (bl. 37) vra vir so ’n “raaklees”. Hierdie assosiatiewe spel word tot sy uiterse gevoer op bladsy 36 waar die leser (via Breytenbach) ’n gat in die lug moet sny.

Gedigte groei organies tot ’n geheel en die intertekste is goed verwerk én weggesteek.

Stad teenoor platteland, eensaamheid teenoor familie-verbondenheid, lewe teenoor dood word in vibrerende verse verwoord.

Die slotvers neem jou terug na die begin: Daar was teenoor daar is.

Verse van die nostalgie sonder om sentimenteel te word. Helder en trefseker verwoord. Dit spreek vanself dat dit ’n beduidende en belangrike debuut is. ’n Gedig (bl. 13):

ouma jy het soggens vroeg die lig
gebreek jou lyf bonkige lyne
die son sku-slaperig geel die kom-
buis het geruik
na worseiers na warm brood onder
my het die groot bed gekraak
terwyl die botter in die pan spring
sissend fluister
die matras het my omvou ek was ­
nege ek was nege
’n donsige kuiken ouma jy met jou
een arm my eenduimouma
het die kombuis laat sing ’n musi-
kant van potte die ketel fluit
ouma die ketel fluit ouma en jy
breek die dag ouma jy breek
die dag en die grond deesdae ses
voet onder en ek is jammer
dat ek die musiek vergeet het ouma
jou bonkige lyf jou een duimhand
’n musikant breek jy die dag oop
soos ’n eier ouma breek


 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)