Bladsye / Pages

Tuesday, March 15, 2016

Charl J. F. Cilliers – Dark Hole of the Moon (2016)



Charl J. F. Cilliers – Dark Hole of the Moon. Malgas Publishers, 2016. ISBN 978 0 620 604 39 0

Resensent: Joan Hambidge

Behind the View (2014), Grains of Sand (2013), Karoo: Haiku Variations (2012),  The Journey (2010) Collected Poems (2008) is van die bundels (en een bloemlesing) van die digter en vertaler Charl J. F. Cilliers al gepubliseer het en waaroor ek geskryf het.

Hierdie digter moet sy eie werk publiseer, omdat die posisie van die Engels-Suid-Afrikaanse digters bedenklik is. Net ‘n handvol word uitgegee en verdwyn vinnig as hulle nie deur die buitelandse mark opgeraap word nie. En daar, weet ons, is die snobisme groot. Indien jy as Engelse digter nie die pad van die little magazine en digkuns-voordragte geloop het nie, is jy onbekend. En digters uit die VSA en al die ander voormalige kolonies word nie geag as relevant nie.

Anders is dit gestel met Afrikaanse digters, ofskoon ook net ‘n handvol gesalfdes dit “maak” in die Lae Lande...

Dark Hole of the Moon vergestalt die digter se liefde vir die mono no aware, oftewel, die skoonheid in die verganklikheid of efemere. Cilliers is ‘n uitstekende beoefenaar van die haikoe, kwatryn en cinquaine, aldrie digvorme wat enorme beheersing opeis van die digter. Cilliers is telkemale bewus van die ónmoontlikheid van besegging en dat woorde die digter in die steek mag laat. Hierdie onmag - verwoord onder andere in “Basket” (41) - gee dan aanleiding tot etlike verse wat handel oor die skryfproses en die stiltes wat dit impliseer. Die soeke na ‘n werklikheid agter die werklikheid is immers iets wat die digkuns voortstu; hier in navolging van Paul Ėluard dat daar ‘n ander wêreld bestaan wat opgesluit is in hierdie een.

‘n Mens sou dan hierdie gedigte kon tipeer as die metafisika van die Oomblik of die Efemere ... Dalk ook die Kortstondigheid. Die digter is bewus daarvan dat ons nie as Westerlinge die haikoe-vorm met sy tegelykertydsaspek (waar simbool en ding een word) kan bemeester nie, maar dit net kan verwésters.

Die nostalgie van die ouer persoon word ook hier besê in die Bloemfontein van die digter se jeug wat weer saampraat met Robert Frost se gedig oor oor die twee paaie in ‘n woud. Want die digkuns vang iets op van ‘n werklikheid wat verby is; die gedig word ‘n weergawe of representasie van daardie (indertydse) ervaring.

“Spilt milk” (102) handel oor meer as melk wat val: breaking-of-the-vessels en die wete dat die skerwe iets word van die pyn wat die spreker ervaar:

and felt pain shine
a far, dark exploding star.

Die terugkyk of terug-blik (“in the cold fridigity of the past tense”, 88) word in die gedig “Verdict” besê: ons vind telkens ‘n opname van ‘n lewe, ervarings, verydelde drome, geliefdes afgestaan aan die dood waar woorde niks beteken nie. Die digkuns werk nie met diagramme nie, weet die digter te vertel, want ons is uitgelewer aan ‘n lewe sonder ‘n teks ... dit staan alles immers reeds opgeteken in Shakespeare.

In “Ballad of the Unbeliever” (79) word daar na die epifanie verwys. Ofskoon die spreker ongelowig mag wees, is hy op ‘n ander manier uitgelewer aan die epifaniese moment en word hy ‘n waarsêer in woorde.

Die digter sluit aan by die Simboliste: ‘n mantis, ‘n geitjie, die natuur word simbole wat sy idees dra. “Self-erased poem” (55) is selfs postmodernisties in die metarefleksie rondom die digkuns wat kompeteer met die werklikheid wat groter en boeiender is, maar as die digter ‘n pen vind wat werk, kan hy iets hiervan neerpen.

Dieselfde geld die “Cloud studies” vir John Constable waar gedig en indruk een word (49).

“The Shot” (52) is ‘n knap ars poetica waar die digter gekonfronteer word met sy eie maakwerk: ‘n mens vergeet die bedoeling van die vers, maar die impak is altyd sterk en oorweldigend.

Poet

With beguiling verses I must try
to scheherazade the nights away,
for truth be told: we know we die
when we have nothing more to say.  (47)

Delikaat, aangrypend - klein gedigte wat lank in die gemoed bly steur en nawerk:

in the pain

in the pain of dis-
integration God reveals
a broken wholeness (33)

Vir die leser is daar ‘n insigryke nawoord oor die haiku en die verplasing na die Engelse wêreld ...

Vir verdere besprekings, goegeloer hier: Woorde Wat Weeg/ Charl J.F.Cilliers - Behind the view (2014)


© Joan Hambidge