Bladsye / Pages

Sunday, February 28, 2016

Huldeblyk: Anton Prinsloo (1941 - 2016)




Sowat ‘n jaar gelede skryf ek vir Anton Prinsloo ‘n e-pos waarin ek hom bedank vir sy werk as taalkenner. Dit is nadat ek ‘n rubriek gelees het waarin hy iets so helder verduidelik – net soos Gerhard van Huyssteen wat deesdae rubrieke behartig en vir ons sake verduidelik soos die belangrikheid van die sirkumfleks (oftewel die kappie). Die akuut en gravis kom so saam, nie waar nie!

Prinsloo skryf terug en bedank my vir my aandag.


Nou moet ons dit pront en duidelik stel. Woordeboekmakers, taalkenners, taalpolisie, lede van die taalkommissie, is my helde. Ek lees woordeboeke vir my plesier. Langs my bed neem ek dikwels Louis Eksteen se Sinoniem-woordeboek ter hand of die De Stadlers se Afrikaanse tesourus waarsonder geen digter durf dig nie. Of geen skrywer ‘n roman durf skryf nie. Of resensent ‘n oordeel mag vel nie.

Die HAT en WAT is my Bybels. Ek borg graag woordeboeke, woorde soos Vuisboek of Goegeloer. Of Hamboud.

Wat van flikkereer (vir ogies maak) of tjekkereer?


Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (Pharos, 2004) is ‘n belangrike teks in my lewe. Hier kan ‘n mens sien hoe ‘n woord of uitdrukking transformeer en van een kultuur na ‘n ander sy beslag kry.

Nou onlangs beweer ‘n kelner hoe moeilik dit is as mense nie "opsteek" by restaurante nie, met ander woorde, nie opdaag nie.

‘n Mens is nooit te oud om te leer nie. En hierdie kompendium maak jou nederig oor taalverantskappe, afleidings en idiome.

Hierdie boek laat ‘n mens dikwels harpuis ruik! En dit beteken letterlik die klewerige gom wat jy ruik wanneer jy as bokser uitgeslaan word (bladsy 115).

En harmansdrup?

‘n Outydse medisyne wat stadig uit die botteltjie geloop het en daarom wanneer iemand stadig is, noem ons hom ‘n harmansdrup(bladsy 115).

Iemand die harnas injaag verwys na die Middeleeuse ridder se wapenrusting. En om iemand dus die harnas in te jaag, aktiveer ‘n bakleiery (bladsy 115).

Geweldig baie idiome is ontleen aan Nederlands. Ook aan Engels.

Dikwels wat mense as "anglisisties" ervaar, is eintlik verder terug al in ‘n Germaanse taal opgeteken.

Soos iesegrim (‘n knorrige persoon) wat verwys na Van den vos Reynaerde se knorrige wolf, Isengrijn.


In hierdie beklemmende dae waarin ons dalk afstuur op ‘n mono-linguale kultuur, onthou ek dat ek dosente meegemaak het wat Goties en Frans en Duits en Middelnederlands kon lees, onder andere. Wat die herkoms van ‘n woord vir jou kon verduidelik dat dit plesierig was.

En dat daar taalkundiges bestaan wat Xhosa-Afrikaans en Zoeloe-Afrikaans in woordeboeke opgeteken het. En dat Ernst Kotzé se Japannees-Afrikaanse woordeboek binnekort met ons gaan wees. Want op dieselfde tyd wat die Nederlanders aan die Kaap aan wal gestap het, was hulle ook in Japan, en meer spesifiek in Nagasaki. Gaan luister maar weer na die verruklike Madama Butterfly van Puccini wat hier in ‘n museum bewaar gebly het!

So sit ek een aand in ‘n visrestaurant in Nagasaki doer in 2001 en ja, ek hoor Nederlandse woorde ingebed in die Japannees! Puccini snoer twee kulture saam en lewer meta-kommentaar deur onder andere die Amerikaanse volkslied (The star spangled banner) as refrein te gebruik. En hiermee saam, die Japannese volkslied (Kimi ga yo) en bekende Japannese liedere.

Soos hierdie opera die verbintenis tussen verskillende kulture uitwys, is taalkenners daar om ons te help om taal tot in die vesels te verstaan.


Hierdie rubriek was bedoel om Anton Prinsloo te huldig. Sy Taalkruie in Die Volksblad kon ek danksy die internet lees, en Feite, flaters en fiksie wat handel oor taaleienaardighede.

Mag ons nooit met ‘n mond vol tande staan voor die werk van gedugte taalkenners nie.

En onthou die boeregrap waar die twee ou ooms sit en gesels op die stoep. Die een seg ja, die een nee. So gaan dit aan vir ‘n hele dag. Laatmiddag kom ‘n jongman by hulle aan.

En hy seg:"Ja-nee.".

"Wat dink jy van hom?" vra die een Oubaas.
"Man, hy praat te veel."

© Joan Hambidge


Wednesday, February 24, 2016

Umberto Eco (5 Januarie 1932 – 19 Februarie 2016)


Die groot semiotikus is oorlede. Met sy debuutroman Die naam van die roos (1980) het die literatuurwetenskaplike opslae gemaak. Hy het as teoretikus internasionale roem verower as romanskrywer. Hy is vertaal en die film (met Sean Connery) was 'n klaaglike mislukking wat die komplekse tekensisteem van die roman nie kon opvang nie. 


Hierna het ek alles pligsgetrou gelees: Foucault se pendulum, Die eiland van die dag vantevore, Baudolino, Die misterieuse vlam van Koningin Loana, Die Praagse begraafplaas, en nooit eers Nommer zero probeer nie.

Die romans was te veel dinkwerk; te min vuur, vir my gevoel. (Woorde Wat Weeg/ Umberto Eco -The Mysterious Flame of Queen Loana, 2005. Besoek 23.02.2016)

Sy teoretiese studie oor die semiotiek, Die rol van die leser (vertaal as The role of the reader, 1979), het ek stip bestudeer. Eco met sy onderskeiding tussen die "open" en "closed" teks dwing die leser om presiese onderskeidings te maak. Heel plesierig het hy ook James Bond se romanstrukture vir lesers verduidelik. 

In sy beroemde Faith in fakes (1986) analiseer hy die moderne media en die aanslag op ons sinne. Hoe moet ons reageer op dit wat ons daagliks beleef en ons afstomp vir werklike en diepgrondige interpretasie? Hy verwys dan na die sogenaamde "guerrila warfare" as 'n taktiek om dit teen te werk.

Vandag, skryf hy, behoort 'n land aan diegene wat kommunikasie en die pers beheer (135). Massa-media vertolk nie ideologie nie; dit is alreeds ideologies.

Soos hy dit klinkend stel: “When the mass media triumph, the human being dies”.

Hy het hom oor 'n veelheid van onderwerpe uitgelaat soos skoonheid en lelikheid; oor reise in hiperrealiteite, oor probleme róndom vertaling, oor die oneindigheid van lyste.  As gedugte kenner van die Middeleeue had hy waarskynlik nie sy gelyke nie.

Sy besinning oor die skryfproses van Die naam van die roos behoef 'n herlees. Nes sy siening van interpretasie as "inferential walks" wat die leser maak ... Ons is besig om te narkotiseer en weer op te blaas (“blow up”) in die leesproses.

Hierdie roman, wat in 'n klooster in die veertiende eeu afspeel, is 'n speurverhaal vir die literêre leser wat al die toespelings en kodes moet snap. Jy moet die moorde oplos soos die blinne monnik, Jorge of Burgos, wat 'n verwysing is na Borges, die groot skrywer van die labirint en die aweregse speurverhaal. Die film kon nooit die verwysings raakvat nie en dis alom bekend dat Eco nie tevrede was met die film nie.

William of Baskerville is die speurder in Die naam van die roos, ‘n toespeling op Middeleeuse filosowe.

Dertigduisend boeke staan in sy biblioteek.

Hy is ook die skepper van die konsep anti-biblioteek. Hoe meer jy weet en lees, hoe meer boeke sal daar op jou rak staan wat ongelees is en bly. En die uitdaging van die ongelese boek, bly altyd die uitdaging.


En beroemd was hy wel. Vol lewe met sy sigaar in die hand en altyd besig om onderhoude toe te staan die ene sprezzatura (bestudeerde nonchalantheid) soos huldeblyk in The Telegraph dit opsom. (Umberto Eco -Obituary – Telegraph. Besoek 23.02.2016)

Roubeklaers vul die binneplein van Sforza kasteel in Milaan vir die begrafnis van Umberto Eco. Foto: Matteo Bazzi/EPA

Beroemd en skatryk was hy bepaald. Die een nadeel van roem? Jy het nie meer die luukse om nie ‘n mening te hê nie …

Gaan kyk gerus na sy uitsette: indrukwekkend en hierom kon die professor aan Bologne klasgee aan Harvard, Oxford en ander belangrike akademiese ruimtes.

Romans:
Il nome della rosa (1980; English translation: The Name of the Rose, 1983)
Il pendolo di Foucault (1988; English translation: Foucault's Pendulum, 1989)
L'isola del giorno prima (1994; English translation: The Island of the Day Before, 1995)
Baudolino (2000; English translation: Baudolino, 2001)
La misteriosa fiamma della regina Loana (2004; English translation: The Mysterious Flame of Queen Loana, 2005)
Il cimitero di Praga (2010; English translation: The Prague Cemetery, 2011)
Numero zero (2015; English translation: Numero Zero, 2015)


Monday, February 22, 2016

Ronelda S. Kamfer – Hammie (2016)



Ronelda S. Kamfer – Hammie. Kwela, 2016. ISBN 9780795707575

Resensent: Joan Hambidge

Hammie is ’n Kaapse woord vir “ma” of “moeder”. En hierdie bundel aktiveer ­Nancy Friday se My Mother My Self (1977) en hoe die vrou-as-digter (in die besonder) haar self posisioneer teen die moederfiguur.

In Afrikaans het veral Antjie Krog op ’n onrustige wyse hierdie verhouding met haar moeder, Dot Serfontein, gekarteer en ondersoek. Sylvia Plath se Letters Home: Corre­spond­ence 1950-1963 (1975), die verslag van ’n digter se briewe aan haar moeder, word ook in herinnering gebring.

In die gedig “Vetste vlieë” speel Kamfer klaar met die “nuwe breed” van feministe wat volgens haar “amper altyd kak dom” is.

Kom ons praat sommer padlangs. Hierdie bundel is stérk en tref jou tussen die oë: oor die vreeslose ondersoek van familiegeweld, haat (oor apartheid), die ónbereidwilligheid om te vergewe (en vergeet), die uitskryf van maatskaplike ellende, genderpolitiek en geweld op alle vlakke.

Die gedig word selfs ’n ruimte waar die emosionele geweld opstu en jou as leser saamsleep. 

Die gedig word ’n soort “mission impossible”. En tog is daar weerlose verse soos hierdie een op bladsy 41:

Koud
die tweede dag
het ons gesit en wag
my hand op haar hand
alleen in die donker

Kamfer was verpleegster en hierdie werk word ook hier onder die loep geneem.

Die moeder se siekte en besoeke aan die “ICU” word oopgeskryf (“Nathan”) en die moeder se “troupanne” word later verpand vir kos. Wanneer die moeder sterf, hoop sy dat sy nie tot rus kom nie, maar sal bly haat:

Onrus
ek hoop sy rus
nie in vrede nie
ek hoop sy haat
waar sy is

In hierdie bundel word die emosionele reaksie op die moeder se siekte – met skerp aanduidings dat dit deur uitbuiting veroorsaak is – en die uiteindelike besoeke aan die hospitaal ontgin.

Ronelda word vir die ma “Neldie”; en as Allisen, die suster, iets sou oorkom, sal sy haar vrekmaak (“Wees lief vir mekaar, kyk agter haar, Neldie, sy is jou suster . . .”). In “Volkspele” word wit skryftydgenote uitgehaal: hul depressies en wedersydse hatigheid. Altyd die kompromislose, onvergewensgesinde waarnemer; immer woedend en in die gedig “Slapende honde” weier sy volstrek om die Jonker/Krog/Bukowski-rolmodel te wees:

gelukkig het ek
hulle nie geglo nie
omdat ek weet
hoe mense is
hulle is kak
hulle hou van ’n vrou
in pyn
hulle hou van ’n dronk suicidal
teef
met genoeg suicide
vir hulle om op af te jerk
en genoeg teef om te admire

’n Mens kan jou voorstel hoe my resensie eweneens versnipper sal word met ’n hoonlag en ’n gevoel van wat weet jy van my situasie.

Noudat slapende honde (die debuut uit 2011) het juis indertyd getref weens die besegging van al die genoemde ellendes van ’n onregverdige bestel.

Sy spreek benewens die ontslape moederfiguur haar partner Nathan Trantraal aan. ’n Mens lees ook figure soos Krog en Annemarié van Niekerk raak. Trouens, ’n mens sou ’n vergelykende studie kon doen oor hoe haar gedigte met Trantraal in gesprek tree.

Dit is ’n kompromislose bundel en een wat nie doekies omdraai nie. Die bundel verraai diep emosionele wonde. ’n Mens lees met groot pyn die woorde van die moeder: “Ronelda, jy is my kind en jy bly my kind tot die dag wanneer die maan ’n ander naam kry.” – Gertruida Kamfer /Hammie, November 1999, Stratford Green, Eersterivier.

Hammie is ’n sterk bundel en een wat Kamfer se reputasie gestand doen ná die effense insinking van die tweede. Dit is nie “mooi” verse nie, maar is bloedige, aanvallende verse.

En ons weet mos dat woede ook pyn is, omdat dit ’n groot stuk magteloosheid dra. Die gedig op die agterplat som dit op: Die glasstukkies is onder die vel begrawe.

Milan Kundera - The Festival of Insignificance (2015)



Milan Kundera - The Festival of Insignificance. Faber & Faber, 2015. ISBN 9780571316465

Resensent: Joan Hambidge

Milan Kundera is ’n gerekende skrywer. Daar is gedeeltes van elke roman wat ’n mens bybly. Hy weet hoe om die menslike kondisie vas te vang en die ­ellende van eensaamheid te midde van gemeensaamheid te verwoord.

The Joke. The Book of Laughter and Forgetting. The Unbear­able Lightness of Being. En daar is vele ander tekste waarin hy die menslike bestaan ook teen die groter geskiedenis van politieke ongeregtighede of veranderinge projekteer.

Jy kan immers nie iemand uit die geskiedenis redigeer nie; die hoed bly agter.

The Book of Laughter and Forgetting: ’n Foto van 21 Februarie 1948, waar Vladimír Clementis neffens Klement Gottwald staan. Toe Vladimír Clementis in 1950 aangekla is, word hy uit die foto verwyder saam met die fotograaf Karel Hájek.

En om Kundera te verfilm amplifiseer die problematiek dat hy onvertaalbaar in die filmkuns is, juis omdat hy so gedronge, metafories én assosiatief skryf.

Daar is eweneens essays oor die binnewerkinge van die roman, soos The Art of The Novel, Testaments Betrayed, The Curtain, Encounter . . .

Die jongste roman heet The Festival of Insignificance. Dit is pakkend geskryf. Vol dinamiet. En dit is dalk die werk van ’n ouer skrywer, maar hierdie man het nie sy aanslag of energie verloor nie.

“Human existence is nothing but solitude” verneem ons op bladsy 62. En dan kom die ander karakter se teen-antwoord: “A solitude surrounded by other solitudes.” Daar word wrede ­opmerkings gemaak oor oudword en aftrede.

’n Swanger vrou probeer haar eie lewe neem. Wanneer sy die water tref, begin sy instinktief swem. ’n Man probeer haar red en hý verdrink.

Dié roman is dan ’n besinning oor die toekoms van die roman. Verskillende afdelings kondig die verhaalgang aan (“Part One: Introducing the Heroes”) met die implikasie dat hier ’n afwesige en dus manipulerende outeur aanwesig is. ’n Aansluiting by die tradisie van die 19de eeu waar die outeur sy karakters voorstel as mense met foute en beperkinge?

Hierom begin die roman met nawelstaardery. Is die skryf van ’n roman, wetende dat Kundera tong in die kies skryf, ’n selfbewuste, narcistiese daad? Of blote erotiek? Leuens wat tot ’n gelag lei, is aan die orde van die dag en die ingebedde teks Memoirs of Nikita Khrushchev laat die absurde verder uitwaaier.

Het Stalin die waarheid vertel oor die skiettoneel van die patryse of is dit alles net ’n grap? Moet ons verder die verteller glo oor die gekleurde urinale? Hiermee impliseer Kundera waarskynlik hoe die geskiedenis geskryf word deur anekdotes en urban legends.

Ingebedde besinnings oor moederskap en moedertaal word eweneens aangetref. Soms skryf Kundera sy romans in Frans. Hoe voel hy as Tsjeg oor die “nuwe” Europa en sy migrante?
En moet ons Hegel, Schopenhauer of Kant verstaan om hierdie roman te begryp?

Bepaald nie, maar tipies Kundera speel hy ’n spel met “das Ding an sich” en hoe die roman sekere filosofiese waarhede probeer daarstel, al is dit tevergeefs. Die verwysing na Caliban en marionette en ook Bakhtin aktiveer ’n spel binne-in ’n spel. Die karnivaleske, dus.

Met name soos Quaquelique weet jy daar is baie oogknippe – soos die titel van die roman wat menslike individualiteit bevraagteken.

Daar is romans wat bloot ’n storie vertel, in Colm Tóibín se terme, daar is ’n dans en alles beweeg vorentoe. Hier is dit metaforiek, vinjette, implikasie en die leser moet self die verbindings tussen tonele trek. En alles beweeg eerder opwaarts as vorentoe. Helde, marionette, moeders (en oorsprong), vere, engele en dan die gevolgtrekking: “The festival of insignificance.” Daar is ’n getob oor ouer word en die dood, oor afgetredenes wat in die pad is.

’n Kennis van Shakespeare en die Russiese en Oosblok-geskiedenis maak die leesproses vlotter.

Uiteraard is daar, soos met alle ouerwordende skrywers, terugverwysings na vorige romans. Die boek moet gelees word as ’n epiloog tot sy groot romans.

Daar is min skrywers wat so deur die tydgenote besing is as Kundera: Salman Rushdie, Carlos Fuentes, John Updike, Ian McEwan, om enkeles te noem.

Dit is ’n juweel van ’n roman. Ek waag ’n raaiskoot: Hy wou eintlik ook ’n metarefleksiewe teks oor die roman as kunsvorm skryf soos dikwels in romanskrywers se “laat werk” gebeur.

Nie sy grootste nie, maar beslis uiters genietlik.

Net humor kan ons red, predik hierdie roman – die oneindige goeie gemoedstoestand (unendliche Wohlgemutheit): “Not teasing, not satire. Only from a height from an infinite good mood can you observe below you the eternal stupidity of men, and laugh over it” (bl. 77). Aldus Ramon.


En die voorblad is veelseggend: die afhaal van ’n masker! Een oog laggend, die ander een teen ’n blou agtergrond.