Bladsye / Pages

Sunday, January 3, 2016

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel XV)

Deel IV

Vers-in-‘n-bottel

Verskeep van daar
tot uiteindelike hier:
Fernweh en heimwee,
die twee konstantes
op my innerlike kompas.
Van reis se verre-gaande
tot binne-in-soek, klokslag
tussen drie en vyf vm.
Voor die dag breek
in nog ‘n wenteling
om die as van die aarde.
Eerder ‘n dag sideries
verkies bo ‘n etmaal
sonder só ‘n inkeep,
verskeep tot daar.

Vroegoggend is daar ‘n harde klop aan my hoteldeur. ‘n Man roep ‘n naam. Dis nie myne nie. Dis ‘n Amerikaner soekend na ‘n vrou.
Hy klop-klop verder. Raas in die gange.
“Luister,” sê ek,”hierdie is nie Afghanistan nie. Jy is nou in ‘n hotel. Hy lyk erg verleë, wys met sy hande hy is jammer.
Dit is my laaste dag in Santiago.

Ek stap om die oopbus-toer benader. Dis warm. Ek teug aan die PorVenir en sien die bus. Klim op, maar geen kaartjies word aan boord verkoop nie. Dus moet ek ry tot by die betaalpunt.

Die stad swiep verby. Sanhattan heet die besigheidsarea (Santiago plus Manhattan) en uiteindelik stop die bus by die betaalpunt waar ek R500 met opdok vir die rit. Dit is in ‘n winkelsentrum geleë - met dieselfde gevoel as die Johannesburgse malls naby Bedfordview.

Vol beweging en duur plekke. Mont Blanc-penneplek. Die mense lyk welvarend. Die restaurante is kennelik gewild in hierdie kwartiere waar mense wandel op die 2de Januarie, sorgeloos en vry, terwyl die meeste geboue in die stad toe is. Dis Saterdag. Dis vakansie. Die nasionale museum is gesluit weens ‘n staking.

Laatmiddag gooi die bus my af, glo naby my hotel. Dit beteken ses blokke en ferm stap tot by die hotel in die genadelose son met ‘n Andes-pet op. Ver/naby is kennelik relatiewe begrippe in Andesland. Jy moet fiks wees.

Ek stop eenkeer vir ‘n koeldrank by ‘n Japannese restaurantjie. ‘n Tweede keer op ‘n bankie staan daar vyf rondloper honde om my.

Verlaat die bankie toe hulle begin blaf. In vele stede is daar honde sonder base.

‘n Boemelaar loop met sy karretjie van vuilgoedblik tot vuilgoedblik.

Hier is opvallend min haweloses in die stad wat welvarend is. My persoonlike GPS werk goed. Ek herken bakens soos ek stap: die Sjinese restaurantjie, die Thai-plekkie, aha, daar is die hotel.

Die hotelkamer is ‘n koele lafenis.

Ek begin inpak. Dis laatmiddag.

Vir oulaas swem en vanaand die stad meemaak. Olga-hulle het laat weet hulle sal kom groet. Hulle is in Algarrabo vir die nuwejaarsfees en dis sowat twee ure se ry van Santiago.

“Of in my kamer of op die dakverdieping”, laat weet ek.

Maar die swem word opgeskort. Dit is skielik bewolk en winderig. En nuwe hotelbewoners beset die swembad met luide praatjies.

Die aand voor ek huis toe vertrek, voel ek altoos soos ‘n kind wat nie huiswerk gedoen het nie. En more afgelaai gaan word by die koshuis wetende dis weer ‘n streng regime van reëls en regulasies. Hierom vir oulaas ‘n bestekopname van al die ervarings, want reis beteken dat ‘n mens gekonnekteer of verbind bly met die hinterland. En danksy die internet, is alles vinniger en onmiddelliker.

Op 27 Desember het ek my weer uitgelaat oor Afrikaans se toekoms aan die US (Joan Hambidge/ Die hoë prys as Afrikaans knak | Netwerk24). En danksy die internet verskeie reaksies van kollegas en lesers ontvang.

Die volledige stuk lui soos volg:
Debat Afrikaans Maties
Ek skryf hierdie reaksie terwyl ek reis deur Chili op ‘n pelgrimstog om die verskillende huise van Pablo Neruda te besoek. Tans bevind ek my in San Pedro de Calama en van buite die reaksie op Rudolf Stehle (Geen plek vir politieke korrektheid in taaldebat | Netwerk24) Lizette Rabe (Geen plek vir politieke korrektheid in taaldebat | Netwerk24).
Van ver af, neem hierdie debat nuwe afmetings aan. Die US-rektor het ook ‘n konvokasievergadering belê en dit is een wat ek as alumna sal bywoon.
Daar is reeds soveel argumente, pro en contra-Afrikaans aan die US geuiter dat ‘n mens waarskynlik net ‘n paar kwessies, ter wille van helderheid, in perspektief moet plaas.Afrikaans is spekvet en gesond en ja, Afrikaans sal gepraat en gesing word, soos Rozanne Els opgemerk het. En nee, diegene wat Afrikaans as wetenskapstaal probeer beskerm, behoort nie tot ‘n Herrenvolk nie, Jan Gerber. Hulle is ook nie regs, agter-die-klip, rassiste of agterlik nie;  hulle weet miskien net ‘n ietsie meer van taalpolitiek en -filosofie, van moedertaalonderrig en hoe Afrikaans as wetenskapstaal ontwikkel het uit ‘n kombuistaaltjie tot ‘n taal met wetenskaplike aansien, verskillende rade, woordeboeke, vakkomitees, koerante, rubriekskrywers, met taalkundiges soos Ernst Kotzé, wat verskillende tale begryp en kan lees.
Wim de Villiers se uitspraak het vele reaksie ontlok waarskynlik omdat dit op ‘n simboliese vlak steurend is. Indien hy nie bewus is van die teenstand nie en na argumente geluister het nie, mag dit ‘n impak hê op ander instansies. Aan die US word vertaalkunde doseer, daar is tolkdienste en daar is ‘n Joernalistiek-departement wat jong studente oplei om joernaliste te word in Afrikaans.
Verminder of rangeer Afrikaans uit, soos wat dit sommer so blitsvinnig gebeur het by Kovsies en die kettingreaksie sal sigbaar en hoorbaar wees. Dit sou lesers loon om JC Steyn se Tuiste in eie taal (1981) weer te lees en te sien hoé Afrikaans ontwikkel het. Om die 1976-opstande af te stof oor hoe jong studente tans voel, klink vir my onsinnig. Dit word ‘n handige stok om mee te slaan vir diegene wat geen historiese sintuig het nie. Dieselfde besware kan teen Engels of Mandaryns geopper word; ‘n taal onderdruk nie, dit is mense wat dit doen.
Ek lees Neruda se digkuns in vertaling en as my Spaans daartoe kom, in die oorspronklike met ‘n woordeboek. So vergelyk, vergelyk. En hoe verrykend is dit nie  En telkemale weet jy hoeveel het verlore gegaan in die vertalings van die canción despesperada  of die odes aan eenvoudige dinge soos ‘n tamatie of ui.
Gestel ek moes my berus op vertalings van Opperman of N. P. van Wyk Louw? Of Breytenbach? Hoeveel armer sou my lewe nie wees nie!
Politieke gedienstigheid deug nooit nie. Selfs dit het die grote Neruda aan sy eie bas gevoel toe sy politieke drome verydel is. Maar nooit het hy sy taal verloën en selfs Borges wat niks aan hom had nie, moes toegee hoe enorm sy invloed was. En Márquez was dit eens dat Pablo Neruda ‘n groot digter was.
So diegene wat dink Afrikaans is spekvet en gesond moet tweekeer dink om weer Engels (die ou “common language”) te dien. Dieselfde geld rubriekskrywers wat by herhaling Afrikaans en haar posisie verminder en tog aanhou skryf vir Die Burger.
Indien Afrikaans die gelyke status met Engels verloor (in hierdie dwanghuwelik met uitstaande lobola), sien ek by voorbaat die impak op die joernalistiek, die uitgewerswese, Afrikaans departemente, beurse, ensovoort.
Boonop moet daar nog lobola betaal word vir al die ánder inheemse tale wat eweneens beledig word deur hierdie besluit.
Nog nooit het soveel mense spontaan gereageer op ‘n rektorsbesluit nie. En vir hulle is taal nie net ‘n medium nie, dit is ‘n hartsaak; dit is iets waarmee die sluimerende dinge in ‘n bestaan besê word. En daarom is Engels nie my “common language”, ofskoon ons die korttermynoplossing aan universiteite begryp, sal dit op die duur inheemse tale (soos Xhosa en Zoeloe) uitrangeer tot blote kuriositeite verklaar wat net ‘n handjievol mense sal kan lees of waardeer. Soos die ongeveer 11 internasionale geleerdes wat tans San-tale bewaar.
Dit is inderdaad tyd om te “reboot” soos daar versoek is, maar om ander redes.
En nou lees ek weer Uys Krige se Spaanse dans en sy loflike herdigtings van Spaanse digters. En nou probeer ek Neruda se Estación inmóvil vertaal en oor dit wat alles geplunder raak en weer herstel mag word.
*

Die Spaanse leefwêreld in Latyns-Amerika sal bepaald maak dat ek ‘n kursus volg in Spaans. Om Neruda en Mistral béter te verstaan.

Die lukrake wyse waarop twee regsgeleerdes, professore Van der Walt en Liebenberg,  die grondwet interpreteer en meen dat Afrikaans nie spesiale behandeling mag opeis nie, is verkeerd. Dit gaan nie net om Afrikaans nie, maar om meertaligheid, om erkenning van dit wat op hierdie vasteland beslag gekry het.

Terloops, ‘n klein obiter dictum: ‘n mens se lewe word verryk deur verskillende tale aan te leer en kulture te begryp.

My lewe is enorm verryk deur reis, deur die aanleer van vreemde tale, deur die lees van grammatikaboeke, deur gesprekke met gesiene taalkundiges en semantici. Iemand soos Henning Snyman kan juis ‘n gedig oop-lees weens sy kennis van die semantiek. Ernst Kotzé se vertalingsprojekte het Afrikaans verruim en J. C. Steyn se studies oor die geskiedenis van Afrikaans bly bakens in ons kultuurwêreld.

Hoe ironies dat vele simpatisante vir Engels nie eers with korrek kan uitspreek nie, maar wiff; of ‘n vise-rektor wat by die Verwoerd-plaket-seremonie ‘n Engels besig wat jou na lewertraan laat gryp. As dit nie so hartseer was nie, kon ‘n mens vir Trevor Noah gevra het om dit te satiriseer.

So nou is dit bon voggies. Ek is op pad.

© Joan Hambidge