Bladsye / Pages

Sunday, January 17, 2016

Dolf van Niekerk – Portrette in my gang (2015)


Dolf van Niekerk – Portrette in my gang. Protea Boekhuis, 2015. ISBN 978-1-4853-0230-8 (gedrukte boek) / ISBN 978-1-4853-0231-5 (e-boek) / ISBN 978-1-4853-0482-1 (ePub)

Resensent: Joan Hambidge

Dolf van Niekerk se Nag op ‘n kaal plein (2006) en sy verse oor die Karoo bly állergunstelinge vir hierdie leser.

Op die voorblad van die jongste bundel Portrette in my gang word ‘n afdruk van die moeder, aan wie die bundel opgedra word, weergegee. Daardie portrette van die swygende voorouers wat in die gang van 'n ou huis hang en 'n verlede opvang langs die breede en smalle weg, word hiermee geaktiveer.

Die portretvers is ‘n gedig wat aansluit by die tradisie van die beelddig, ‘n vers wat oor ‘n beroemde of bekende persoon handel. In hierdie bundel word die portret sowel gekoppel aan die intiem-persoonlike, te wete die moederfiguur, en aan beroemdes soos filosowe, skrywers, musici en kunstenaars met 'n hoogtepunt oor Dostojefski (21). Vanselfsprekend is daar ook ‘n slotvers wat “Selfportret” (62) heet: dit wat die digter oor ander skryf, kan ook op hóm van toepassing gemaak word:

Kan die gesig tog sê,
moet ek eers leer wie ek is?
beelde aan die vergetelheid ontruk
vorm, kleur en lyn
aan ‘n enigma gee?

In ‘n gedig soos “nobilis” word die portrettering van Raphael weergegee. Die Mona Lisa is die al-vrou. Michelangelo, Van Gogh, Itzhak Perlman, Domingo, Mehta, o.a. kom aan bod in 'n ryk, geskakeerde bundel wat die stommiteite van die massamens uitdaag via Ortega y Gasset.

Dit is 'n sterk filosofiese bundel wat die “diktators en handeldrywers in die niks – /monsterspruite van geheiligde -ismes” kritiseer (33). Hierdie idee speel in op die werk van bekende Afrikaanse filosowe, Fanie de Beer en Danie Goosen. Die digter self is eweneens bekend vir sy filosofiese werk oor Dostojefski. In die hele bundel is daar 'n spanning te bespeur tussen die filosofie en die digkuns soos uitsonderlik verwoord in “Muse” (34).

“Nagwind”(43) tree in gesprek met Adriaan Roland Holst; “Slaap” parodieer Malherbe, met 'n ironiese wending (49). Klaas Geswind en Die Weduwee Viljee gooi 'n draai in “Langs die see” (57). Van Wyk Louw se halwe kring word voltooi (14). Nietzsche word aan die woord gestel:

alles keer in siklusse terug,
alle syn herhaal sigself
deur die tyd, wat was word nou
en nou is môre soos dit was.  (16)

Hiermee sluit hy aan by die tradisie van intertekste wat nou hoogty vier, maar in die geheel is sy verse modernisties; in hul eie spel afgesluit.

“Wind word winde van veranderinge”, dui op 'n veranderde wêreld waaroor die digter besin (24), 'n gedig wat sterk resoneer met ons huidige geestesklimaat van onrus en protes.

“Mastos”, 'n sentrale vers oor die moederfiguur, wat hy nooit geken het nie, word die basis van die digterskap (18):

Vergulde bronsraam, ovaal.
Gepatineer; agter geboë glas
die bolyf van ’n vrou
in somerbloes, oop voorkop
onder sober swart kapsel;
alkante in kleiner rame
twee kinders, haar skenking
aan die lewe. Voortydig afgesny,
dat sy onbekend vir my moes bly.
Verskyn verbeeld in prosa
en poësie; woorde word gees,
gesig, hande, borste
en oë; oplaas litanieë
vir die onsterflike onvoltooid.

“Oestyd”, 29 handel oor GA Watermeyer wie se digterstalent opgedoek is deur die reklamewêreld, ja, hy wat so aangrypend kon dig oor die liefde se bitter glas en die reën in die voorwinter.

“(D)ie nou se durende verlede” kan as 'n mantra in hierdie bundel gesien word en hoe niks uiteindelik verbygaan nie.

Ook die ekologie kom aan bod (Karoo: “Swartberg”, 30) en Kruie en plante selfs word in 'n portret verewig.

Of hy dig oor die panta rei of die Karoo of nadink oor waar hy vandaan kom, bly Dolf van Niekerk se jongste bundel 'n beleë, waardige toevoeging tot sy oeuvre en tot ons Afrikaanse digkuns. Daar is 'n misterie en soeke na die “God wat Is” en 'n wete dat lewe (soos die dood) 'n sirkelgang is.

Daar is hartgrypende verse waarin kruie, die vag van 'n skaap, die reuk van 'n Karoo raak beskryf word. Met 'n vertaling van die Onse Vader uit Aramees via Engels.

Oplaas leer hy van Carl Jung:
Wat jy sien kan jy nie navors nie,
die eintlike gebeure lê diep verborge,
deur almal beleef, deur niemand waargeneem. (“Circa 1933”, 55).

Hierdie úitstekende bundel illustreer 'n fyn balans tussen konkrete beeld en filosofiese idee wat nooit onder blote abstraksies swig nie. Telkens keer 'n mens terug na 'n vers wat met onderstelling werk en met elke herlees iets nuuts verklap.



(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)