Bladsye / Pages

Thursday, December 31, 2015

Reisjoernaal: Chili 2015 (Deel XII)


Deel XII

Kom ons praat sommer padlangs. Santiago de Chili verskaf beslis nie aan my die frisson van Buenos Aires presies ‘n jaar gelede nie. Dis ‘n meer genadelose stad en een sonder tierlantyntjies. My hotel is in die Lastarria-buurt en met The Singular is daar beslis nie fout te vinde nie.

Stede het persoonlikhede. Soos mense het hulle ‘n aura. Jy kan dit aanvoel in die ongesegde dinge. Die kos is goed. Die wyn fantasties. Die bier yskoud. Maar daar is nie daardie vibe wat jou oorrompel soos in Buenos Aires nie. Miskien gebeur dit nog ...

Ons besoek die museum van herinnering (Museo de la Memoria y los Derechos Humanos), ‘n museum wat alle mensregteskendings veral in Chili aan bod bring. Letterlik op ‘n nugter maag is dit te veel om te aanskou, hierdie politieke verskrikkinge. President Bachelet het die museum geopen in 2010 om die verskrikkinge van die Pinochet-regering tussen 1973 - 1990 aan die kaak te stel. Bachelet het self gely onder die diktatorskap van Pinochet.

 In die sesde kamer sien ‘n mens die lyding van die jong kinders en onmiddellik neem hierdie besoek my na die oorlogmuseum in Saigon waar die besoeker bewus gemaak word deur middel van foto's hoe mense ten tyde van oorlog menseregte skend. Daar is ook hier die versugting van: “Never Again” (“Nunca Más”) ...

Die ingangsportaal is ‘n foto-installasie róndom die verskillende lande op aarde waar menseregte geskend is. Die mag van die foto – wat direk en vinnig kommunikeer (aldus Susan Sontag), word in verskeie video's vir die kyker benadruk. Bevryding en onderdrukking. Die kil oë van ‘n soldaat wat ‘n insurgent kwatswink slaan, bly my by. (Museum of Memory and Human Rights - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 31 Desember 2015).

Neruda se huis La Chascona – ter ere van sy geliefde Matilde – bevat vele replikas van die huis uit Isla Negra. Nogtans is dit goed om weer alles te sien. Die huis roep vergelykings op met die twee ander huise wat ek besoek het en vir my gevoel is die een op Isla Negra die primordiale huis, daardie huis met sy studeerkamertafel gevis uit die see!

Ons is vroegoggend daar, maar daar is soveel toeriste dat die tou lank is. My gids hou plek, terwyl ek notas neem. Jy mag helaas geen foto's neem nie, maar ek neem wel, met toestemming van een van die bestuurders, ‘n foto van die binnehof.

Nou is dit lunch in El Galeon. Ons moet deur die vismark stap en die reuk van vars vis is oorrompelend. Heerlike vis (Corvine / seebaars) met aartappels en vars tamatie. ‘n Klein orkessies sing Italiaanse liedjies en loop met ‘n hoed rond vir footjies.

Dit is warm. Buite baai mense in fonteine en drink water selfs uit die spuitende fonteine.

In die laatmiddag is dit wandel in die buurt. En hier val ek in by ‘n klein restaurantjie Les Assassins regoorkant my hotel. Frans. Die eienaar se vader het ‘n duur restaurant gehad waar Neruda graag geëet het.
“Andersoortige Kommunis, daardie man,” meen die eienaar, ”lief vir duur wyne en goeie kos.”
Hy vertel van Allende en die vriendskap met Neruda. En Allende se selfdood. Ek vertel vir hom van die verskillende representasies van Allende se dood; dat sommige meen dit was ‘n sluipmoord.

Vertrek waar die Chileense President Salvador Allende na bewering  selfmoord gepleeg het tydens die 11 September 1973 militêre coup.

“Nee, nee. Hy het hom self geskiet met ‘n geweer wat hy as geskenk gekry het van Fidel Castro. Ek vertel jou: dit ís hoe dit was. Dit was sy einde tydens die coup. Hier in my plek het ‘n Suid-Afrikaner gereeld kom eet. Ek het sy naam vergeet. Hy is ‘n baie ryk man ... sy naam ontgaan my skielik. Miskien as jy weer kom, sal ek dit onthou.”

Ek vertel hom van die verskillende landskappe wat ek meegemaak het. En van die wyne wat ek gedrink het op die verskillende plekke.

“Gelukkig skryf digters gedigte ten spyte van hul ideologie of politieke idees,” sê ek vir hom. Iets wat ek geleer het by my beste digtersvriend.  

Ek drink ‘n glas Montes Alpha Reserva (Cabernet Sauvignon).

More is dit die einde van die jaar.

Ek werk aan my bundel Indeks en sien teen ‘n muur staan: Indexa. 

La Serena

Bykans dieselfde ligtorings
die oseaan se geklots
‘n roepende voël
die natuur se muurpapier
verander niks aan
die binnelandskap
van vertrek of onthou
toe ons saam ‘n ligtoring
kon besoek voor jou weggaan
na ‘n ander oord
- in die volksmond die dood -
en hierom vermy ek
begraafplase of ruimtes
waar die ontslapenes
onder blomme
doodluiters
uitgestrek lê.
Ons hou nog soms
kajuitraad in drome
wanneer jy woordeloos bely,
jy mis my. Maar as daar
geen woorde meer is nie,
hoe weet ek wát jy uiter?
Die ligtoring in die donker nag
sein jou verlange na my uit
wat in die lewe staan.
Maar dit is ek
wat jou mis,
flikkerende
baken in die nag.
Jy is buite woorde, buite tyd.

© Joan Hambidge