Bladsye / Pages

Sunday, November 15, 2015

Francis Galloway (red.) – Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker (2015)


Francis Galloway (red.) – Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker. Umuzi, 2015. ISBN 9781415208816. R350

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie briewe is deur die skrywer aangebied vir die uitgewer, Fourie Botha. Dit word gekontekstualiseer deur Willie Burger en geredigeer deur Francis Galloway. Met ’n indeks vir die speurende leser wat kan sien wie Jonker se rival was.

Met die aanbod word die onfatsoenlike voyeurisme opgehef – iets wat werklik problematies was toe Anne Sexton se psigoanalis haar terapie-bande aan die New York Times gelek het en agterna, skouerophalend opgemerk het dat dit tog mos alles in die gedigte staan?

Die Jonker-Brink-verhouding is alreeds in Orgie gefiksionaliseer. En synde self ’n skrywer, weet hierdie leser watter komplekse prosesse tussen lewe en teks lê.

Adrienne Rich het immers gevra: “What kind of beast would turn its life into words?”

En dis hoe ek hierdie liefdesbriewe lees: Nie as ’n skandalige onthulling van ’n privaat-pynlike liefdesverhouding wat in die selfdood van die een party geëindig het nie, maar as ’n openbarende psigoanalitiese verslag van hóé mense wat skryf (en in ’n intieme relasie staan) se skryfwerk beïnvloed en gekalibreer word deur ’n wedersydse skryfverhouding. Wat het in die skrywer-Brink se kop aangegaan toe hy in hierdie verbintenis gestaan het? En in die digter-Jonker se gemoed?

’n Mens lees hierdie briewe met die wete dat jy die slot van hierdie mitiese liefdesverhouding ken.

Die briewe is afwisselend sentimenteel (Brink veral) en intieme seksuele besonderhede word verklap. Onthou, Brink het sy briewe op deurslagpapier geskryf en sodoende kopieë bewaar, juis omdat hierdie briewe nie net ’n verslag van ’n liefdesverhouding was nie, maar ook inspirasie was vir hom. Jonker het soms geskryf, soms haar briewe getik. Sekere briewe ontbreek, soos van dié tydens ’n oorsese reis aan haar versend. Sommige opgeskeurde briewe is in die Gerrit Komrij-argief in Portugal en kon nie opgeneem word nie. Die kundige Francis Galloway, kenner van die sestiger-letterkunde, gee ’n goeie verduideliking vir die chronologie en samestelling van dié papierverhouding. Die titel staan in ’n brief van Ingrid Jonker.

Indien ’n mens ’n boek soos hierdie publiseer, weet jy dit gaan kontensieus wees en juis omdat hierdie twee skrywers teen sensuur gekant was, sou ’n gekuiste uitgawe – soos Ted Hughes se versnippering van die Plath-briewe – nie deug nie.

Hoe benader ’n mens hierdie briewe uiteindelik?

Daar gaan vermoedelik twee tipe lesers wees. Diegene wat dit gaan lees vir die vlymbekkige opmerkings van sowel Brink as Jonker oor medeskrywers, die ingebedde skinderpraatjies (hoe dan anders, dit is immers briewe, oorspronklik private gesprekke), vir die storie-agter-die-storie. Daar gaan ook ander wees wat dit gaan benader as ’n tydsdokument en as ’n fassinerende spel tussen twee skrywers se kommentaar op mekaar se werk en die angstigheid van die een om die proewe te sien van die roman Orgie om haar te beskerm teen moontlike kritiek en aanvalle. (Daar is die pynlike brief van haar vader wat haar politieke standpunte nie aanvaarbaar vind nie.)

’n Mens kry inderdaad ’n blik op die hardwerkende Brink, immer aan die vertaal om ekstra geld te maak wat hy ook aan haar versend; sy betrokkenheid by sy seuntjie Anton; sy eensaamheid; sy verskeurdheid tussen sy huwelik (en werk) en die veeleisende verhouding met ’n ingewikkelde vrou. Sy brei vir hom ’n trui en is bekommerd oor haar kind se welstand; hy op sý beurt is besorg oor Si­mone en verlang na ’n dogtertjie van sy eie. Hy is dosent. sy is onder meer proefleser, werk in kantore en stuur selfs vir hom geld as ’n geskenk. Haar geestesgesondheid is broos.

Uiteindelik is die briewe tussen André P. Brink en Ingrid Jonker iets wat ’n mens eenvoudig meesleur.

Tristia is ’n fassinerende interteks en ’n mens besef hoe produktief en gedrewe Brink was. Sy dinkwerk rondom Elders mooi weer en warm het hierdie leser gefassineer. Haar kommentaar op Die ambassadeur is op sy beurt insigryk.

Dit het alles verskriklik skeef geloop. ’n Mens raak bewus van sy ambivalensie en uiteindelik sy distansie. Maar jy weet ook dat sy hom frustreer met haar verbintenisse met ander mans (o.a. Jack Cope). Sy droom hy gaan haar los en hierdie droom is ’n pynlike prospeksie van wat gebeur en die slotbrief tref jou tussen die oë . . .

’n Mens sou opmerkings oor medeskrywers (of hul vroue) kon aanhaal. Hierdie skrywers moet eerder self die uitsprake lees en dit probeer kontekstualiseer: Dit is geskryf deur twee jong mense in ’n stormagtige tyd. Die eerste brief begin op Sondag 21 April 1963; die slotbrief is geskryf op Dinsdagaand 27 April 1965.

Op 4 Desember 1963 pos hy vir haar ’n doring wat in sy toon was en uitgesweer het ná ’n Gordonsbaai besoek. Simbolies van hoe ’n mens hierdie boek moet benader? Hy noem haar selfs Doringrosie op ’n keer . . .

’n Mens bly deurgaans bewus van die “hoë emosionele tempo” van die briefwisseling; die kommentaar van ander; Jonker se vriendskap met Chris Lombard, iemand wat haar ondersteun; en die moeilike verbintenis met Freda Linde.

Hoe die lewendes hierop gaan reageer, is nie my besigheid nie. Selfs ná sy dood gaan André P. Brink, soos in sy gevegte teen sensuur, in sy skerpsinnige resensies en laaste roman en memoir, ’n Vurk in die pad, steeds vir polemiek sorg. Net soos sy korrespondent wat stééds met haar gedigte kommentaar ontlok in flieks, gedigte oor haar, studies oor haar werk, ’n prys met haar naam, en bespiegelinge, ook nie tot rus kan kom nie. Dit is die soort gegewe waaroor Janet Malcolm waarskynlik ’n studie sou kon skryf.

Dit is ’n boek wat ’n mens eenvoudig meesleur. En ’n mens kan die teks nie “skoon” of onbevange lees nie. Daar is telkens iets wat jy invul tússen die briewe.

Ingrid Jonker & Jack Cope


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)