Bladsye / Pages

Sunday, November 29, 2015

Joan Hambidge - Afrikaans Maties II


Afrikaans is 'n wetenskapstaal en die huidige debat erken telkemale die posisie van Afrikaans. Die hewigheid van die debat laat 'n mens nadink oor die volgende:

waarom moet ons luister na rubriekskrywers wat Afrikaans minag? Hoekom word hulle idees nie eerder in 'n Engelse dagblaaie uitgestal nie?

waarom laat polemici  (eerder fulguriete) hulle uit oor taalkwessies as hulle nie eens die verskil tussen 'n senaat se rol en 'n raad begryp nie?

waarom word 'n taal wat hier getransformeer het van Hollands en ander tale in sig dra en 'n semi-kreoolse taal is, verminder word?

waarom 'n taal verklein met soveel skrywers, bloemlesings, woordeboeke en vakwetenskaplike tekste?

waarom laat mense wat nie die kompleksiteite van taal begryp nie, hulle nie maar eerder uit oor hul eie vakgebiede nie?

waarom bydraes lees van mense wat nie die verskil ken tussen alumus en alumna nie?
waarom kyk hierdie napraters van Engels nie eerder na Kanada en Belgiƫ alvorens hulle meen ons moet nou die Rubicon oorsteek nie?

waarom word prosedures aan 'n universiteit geminag en moet 'n raad agterna daarop wys dat 'n taalbeleid nie sito-sito verander kan word sonder om al die taakspanne en rolspelers in ag te neem nie?

waarom word 'n drakoniese beginsel geuiter dat die amptelike voertaal (selfs in koshuise!) voortaan in Engels sal geskied?

waarom luister na diegene wat nie die verskil verstaan tussen 'n taal as gesprekstaal en wetenskapstaal nie?

waarom word die gedagte uitgespreek dat dit nie 'n universiteit se rol is om Afrikaans te beskerm nie, maar tog word hierdie debat (wat bepaald nie histeries is nie) oor 'n universiteit veral in Afrikaans gevoer?

waarom die dawerende stilte van onse groot skrywers woonagtig in die Bos?

'n Mens kan net 'n satiriese opera oor hierdie kwessie skryf: Macchiavelli in Stellenbosch. Met die senaat as 'n koor wat mymer "Wiff all respect, Mistah Blyde Boodskap" en "We speaka da Engliesh so internashional and inclusif". Met manlike castrati, fopdos-soprane jubelend op "O moenie huil nie, o moenie treur nie ...". Met die Eersterivier as 'n Rubicon.

Mag die paar helderdenkendes - wat nog oor is - die ryke tradisie van kreatiewe skrywers aan hierdie instansie eer waar hulle manuskripte in bewaring is vir 'n nageslag. Is dit te veel gevra dat daar herbesin word juis omdat die implikasies hiervan ander Afrikaanse departemente en almal wat in Afrikaans werk, mag raak?

Goed dat soveel mense buite die universiteit hierdie ding sien presies vir wat dit is: nogmaals 'n geswig voor die regering van die dag se kortsigtige politieke eise.

Soos dit opgeteken staan: Geniet die oorlog; die vrede gaan erger wees.

© Joan Hambidge