Bladsye / Pages

Sunday, October 4, 2015

Emma Bekker – Skryn (2015)



Emma Bekker – Skryn. Protea Boekhuis, 2015. ISBN: 978-1-4853-0477-7 (gedrukte boek), 978-1-4853-0478-4 (e-boek), 978-1-4853-0479-1 (ePub)

Resensent: Joan Hambidge

'n Mens sou 'n studie oor besondere debuutbundels in Afrikaans kon ondersoek: Heilige beeste, Die ysterkoei moet sweet, Plektrum, Angelliera, om te lewe is onnatuurlik ...

Die belangrike debuut is 'n stroomversnelling, of dit wat ons nou 'n nuwe stem noem, 'n nuwe stylgreep. En die vraag by die kritiese leser is of die debuut iets "nuuts" bybring tematies of tegnies. Die goeie debuut doen beide. Dit verander die landskap en opvolgende digters skryf dan dikwels antwoorde of palinodes op so 'n sterk debuut.

Dan is daar debute waarop lesers emosioneel reageer. Die tema spreek hulle aan, maar die kritiese leser voel die bundel ontgin nie genoegsaam die tegniese uitdagings wat 'n debuut belangrik maak nie.

Emma Bekker se Skryn is dalk tematies nuut, maar tegnies verraai dit al die hebbelikhede van die sewentigerjare se poësie (toe die vrotste poësie in Afrikaans verskyn het): kleinletters, interpunksie wat soms en soms nie aangewend word nie soos in "jozi-blues" met kommas, maar sonder punte. En hierdie argeloosheid is vir hierdie leser altyd 'n teken van iemand wat nog nie 'n vakman is nie.

Dit is wel 'n mooi gedig.

jozi-blues 

jy’s ’n waterskeiding, jozi,

’n wrede einde of ’n vars begin
jy’s ’n waterskeiding, jozi,
geswore vyand of boesemvriendin
ek is nie in jou gebore nie, maar in jou is ek geplant
jou einders ’n geboortemerk in my geestesoog gebrand
jou gesigskring in my ingekerf soos ’n foto van my ma
ek sê trots ek’s ’n jozi-girl as iemand my sou vra 

jy’s ’n waterskeiding, jozi,

’n droë woestyn of digte woud
jy’s ’n waterskeiding, jozi,
een se valbyl en ’n ander se behoud
vir dié wat jou nie ken nie, is jy ’n goudsoeker en ’n slet
hulle sê graag jy is sodom, sonder hart en sonder wet
hulle kyk graag op jou neer, en vergeet hoe hoog jy staan
as die seevlak begin styg, is dit die kuslyn wat vergaan 

jy’s ’n waterskeiding, jozi,

jy spoeg mens uit of trek mens in
jy’s ’n waterskeiding, jozi,
mens wil jou haat of jou bemin
dié wat vir jou toemaak, sien net duisternis en vrees
wie hul vir jou oopstel, word van ’n blindheid genees
en dié wat dink die laaste hoop in hierdie stad kom van ’n myn
kyk verby miljoene ligte wat soos kroonjuwele skyn

Tematies word die sjamanistiese ervaring van die lyflike verwoord. Die digteres as masseuse wat boeremantras weergee. Verse oor siekte en die dood van Raponsie is ander kwessies wat aangeraak word. Ook word die geliefde aangespreek en Ingrid Jonker word binne die huishoudelike dimensie geplaas. Die bundel het hierdie leser geneem na die Clarissa Pinkola Estés Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman (1992) wat die verskillende aspekte van vrouwees wat sy karteer. Maar soveel vrouedigters het dit al sterker en meer mitologies ontgin.

Te veel verse die indruk van die kabaretteks wat nog nie genoegsaam as gedig oortuig nie. Op die blakerteks verneem ons dat die digter kabarettekste geskryf het.

Die kritiese leser lees haarself vas teen verspotte reëls soos:

ek wil jou in 'n stilte ontmoet
wat nie ons nerwe soos goiing rasper nie (65)

"Argeologie" (64) het daardie swaartillende aanslag van die beginnerdigter.

Gedigte mis vormtug soos “Die innerlike mevrou” (15).

Die bundel mis die belofte van skryn in die oorspronklike sin van die woord. Wanneer die digter wel gehoor gee aan die eise van vormtug soos in “Vir Astor” (46), ‘n distigon,  of “Die skoonheid van slotte” (96) in ‘n spel met die kwatryn oortuig dit.

“Granaatdig” (83) is onthoubaar, soos die oulike kombuiskwatryne (52).

Ons het die afgelope paar jaar sterk debute beleef, van vroue en mans, en hierdie bundel is voortydig gepubliseer. Wat altyd jammer is. Trouens, dit herinner aan die sewentigerjare se terreuraanvalle op die digkuns toe enige uiting moes paradeer as gedig. Die vrye vers is 'n moeiliker vorm om te beheer.

As die digter sjamanisties wil dig, moet sy dit nie vertel nie. Sy moet dit laat gebeur.

Uitsonderlik is hierdie debuut nie.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)