Bladsye / Pages

Wednesday, December 9, 2015

Valerio Magrelli –The Secret Ambition. Selected poems (2015)




Valerio Magrelli –The Secret Ambition. Selected poems (Uit die Italiaans vertaal deur Douglas Reid Skinner & Marco Fazzini). African Sun Press, 2015. ISBN 978 0 620 66927 6

Resensent: Joan Hambidge

I

Valerio Magrelli is 'n Italiaanse digter wat in Rome woon. Hy is professor in Franse letterkunde aan die Universiteit van Cassino. Hy is bekroon en vertaal in Frans, Spaans, Portugees, Kroasies en in Engels. 'n Keuse van sy gedigte is gemaak en vertaal deur Douglas Reid Skinner, 'n uitstaande Engels-Suid-Afrikaanse digter en Marco Fazzini, wat onder andere Douglas Livingstone en Geoffrey Hill vertaal het. Eersgenoemde woon buite Londen; laasgenoemde werk in Venesië.

Hierdie klein publikasie bevat verse wat 'n mens bekoor. Die skryfproses staan bykans altyd voorop en die gedig buig op sy eie vorm in. Die gedig as spieëlteks of selfs as labirint. Dalk mise-en-abyme? Die leser word een met die digter wat ons innooi in sy skryfproses. Gedigte dra soms 'n titel; soms nie. Die leser word voorgestel aan 'n tere vers bykans soos slak sonder 'n skulp.

Die DNA van die digkuns word ondersoek (61) en die proses van digterlike vertaling en hoe emosie 'n gedig word, kom aan bod.

Sy gedigte word as poesia nuova (nuwe poësie) beskryf en hy het al deelgeneem aan Poetry International [1].  Hierdie digter is aangeprys deur Octavio Paz, Joseph Brodsky en Federico Fellini.

II

Oor die verhouding tussen die Italiaanse en die Engelse rendisies gaan ek my nie uitlaat nie. Oor wat "lost in translation" is of wat gewen is aan wendinge, ook nie. Die bundel lees ek "skoon". En wat 'n ongelooflike verrassing is hierdie keuse nie. Ek was laas so opgewonde oor die ontdekking van 'n nuwe digter se werk as met Leonard Nolens toe Daniel Hugo se vertalings verskyn het (lees my bespreking van 'n Digter in Antwerpen elders op my blog).

Magrelli se gedigte is oënskynlik bedrieglik eenvoudig.

By die lees van 'n onbekende digter is daar dikwels 'n kode wat die boek vir jou ontsluit. In die gedig "English suites" (77) word die gedig aan Roland Barthes opgedra, die meester van solfège. Aldus die Mirriam-Webster:
1:  the application of the sol-fa syllables to a musical scale or to a melody  2:  a singing exercise especially using sol-fa syllables; also :  practice in sight-reading vocal music using the sol-fa syllables
Barthes het die term "le grain de la voix" gebruik om iets van 'n teks se aard op te vang. Hierdie digbundel neem 'n mens ook terug na Image-Music-Text (Hill and Wang, New York, 1977). Die spreker verklaar hoe hy met Barthes moes praat oor sy tesis, maar dat hulle uiteindelik by musiek uitgekom het. Barthes vertolk Bach op die klavier en wat die spreker hier oor musiek ervaar, is van toepassing op die gedigte:

Blind obedience,
a martial art: ascesis
and a background of sound that rises evenly ...

Die leser kom telkens te staan voor 'n gedig wat sterk dissipline opeis.

For me the reason
for writing
is always the writing
of reason. (14)

Die digter self het opgemerk dat 'n nuwe boek sy eie skrywer moet vind ... en nadat dit geskryf is, moet dit die digter bemagtig wat dit geskryf het (16).

Il sangue amaro (Die bitter bloed) het in 2014 verskyn. En die gedig oor Barthes verskyn hierin. Wanneer 'n mens hierdie versameling van agter na voor lees, word die gesprek tussen die digkuns en die koerantwese ook uitgewerk. Die digter is kritikus en openbare intellektueel, soos wat Barthes dit was. Die digter bly bewus van die "carcass of the news" (69), maar in hierdie volgehoue spanning tussen aktualiteit en die gedig wat om herlees pleit, kry die gedig 'n dieper dimensie.

Om te dig, is om te vertaal. "The packer" (59) met die aanhaling van Nabokof ("What is translation? On a platter a poet's pale and glaring head") aktiveer presies dit wat die digkuns vermag. Soos iemand wat jou help verhuis en boeke oppak, is die digter besig met so 'n opruiming. Dit is (soos) bokse waarop staan breekbaar. Terwyl die buitestaander nie weet wat daarin is nie, verpak die digter waarnemings, emosies, gedagtes in 'n gedig:

This is the future, the shuttle, the metaphor,
time labouring here and over there,
transfer and trope, the removals firm.

En:

I am moving myself ...

So word Ernst van Heerden se Tyd van verhuising (Tafelberg, Kaapstad, 1975) vir die Afrikaanse leser 'n belangrike spieëlteks.

Writing degree zero (Hill and Wang, New York, 1967) vertaal deur Annette Lavers en Colin Smith is 'n ander troop vir die oopmaak van hierdie teks.

Tyd reken ook met die digter af, maar nie met die digkuns nie. Die liggaam word 'n pen en die digter bly telkens op soek na die verlore gedig.

Gedigte word gevind in drome (die dromende denke, soos Cloete dit noem) in die terugkykende oog.

Hierom is die geheime ambisie eintlik om 'n potlood te wees!

Titels van sy bundels heet:

Ora serrata retinae (Feltrinelli, 1980) Premio Mondello
Nature e Venature (Mondadori, 1987) Premio Viareggio
Esercizi di tiptologia (Mondadori, 1992) Premio Montale
Poesie e altre poesie (1980-1992) (Einaudi, 1996)
Didascalie per la lettura di un giornale (Einaudi, 1999)
Il sangue amaro (Einaudi, 2014).

Joan Hambidge

Endnote:

1. Op Poetry International se webbladsy verskyn die Engelse vertaling van "Lezione di metrica" (Lesson in meter) (Besoek 2 September 2015):

Lesson in meter

A steel comb uncurls
the notes, swirls
a sweet music of cotton
candy. Like a charmer
of snakes I'm charmed
hypnotized by the language
of sound that uncoils
while iron teeth
a rosary of hooks
tear at this butchered
carcass, and leave the listener's
heart in shreds.
It's my heart they're playing!
Quirk and stench. But break
the casing around the ballerina, and the carillon
stops, for bad taste
is its sweet harmonic shell,
a case for the baroque
pearl of affectation. Night.
Frankenstein's violin is calling.
And I myself am that musical monster
condemned to the musical wheel
of his musical nostalgia.

*

The Secret Ambition. Selected poems is beskikbaar by African Sun Press, en kan bestel word van hulle webblad.