Bladsye / Pages

Wednesday, March 11, 2015

50 Shades of Grey


I
Daar bestaan ‘n verskil tussen films wat jou eroties prikkel (soos die Emmanuelle-reeks met Sylvia Kristel in die hoofrol) en dan is daar films wat die implikasies van erotiek ondersoek: Bernardo Bertolucci se Last Tango in Paris (1972); Pasolini se Salò (1975); Belle de Jour van Luis Bunuel (1967).

Die eerste groep is ingestel op prikkeling; die tweede groep analiseer die implikasies van seksualiteit en erotiek en die donker drifte van die menslike psige. Last Tango in Paris kyk na die spanning tussen anonieme seks wat uitgespeel word in ‘n hotelkamer na die selfdood van die manlike figuur se vrou. Hy laat sy woede op die jong vrou geld

Hierdie uitstekende film het ook ‘n donker sy gehad. Maria Schneider het agterna beweer dat sy mislei was oor die berugte bottertoneel en dat sy eers agterna besef het wát Bertolucci in gedagte had. Boonop het sy daarna teen naaktheid in films uitgevaar en haar selfdoodpogings was waarskynlik ingegee deur die geweldige media-bohaai wat die film uitgelok het.

Sy het beweer:
I was rock 'n' roll. About drugs, we did not know at the time, it was so dangerous. There was an ideal, to change society, and especially a thirst for novelty...I have lost seven years of my life and I regret it bitterly...I started using drugs when I became famous. I did not like the celebrity, and especially the image full of innuendo, naughty, that people had of me after Last Tango. In addition, I had no family behind me, who protect you ... I suffered abuse. People who come up to tell you unpleasant things on planes. I was tracked down, and I felt hounded. (Maria Schneider (actress) - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 8 Maart 2015)
Pasolini se Salò (120 Days of Sodom) beskou ek as die ergste en mees transgressiewe film wat ek ooit gesien het. Nie alleen word sado-masochisme tot sy uiterste gevoer nie, maar stukke glas en spykers word in faeces geplaas en karakters word gedwing om dit te eet. Die film is deur Pasolini beskou as ‘n soort analise van fascistiese mag.

Belle de Jour met Catherine Deneuve ondersoek die lewe van ‘n vrou wat ‘n dubbelbestaan voer.  Sy is hoer en getroude vrou; letterlik ‘n “belle de nuit”, maar omdat sy ‘n hoer is in die dag (belle de jour) word ander betekenisse geaktiveer, te wete, Hemerocallis, ‘n lelie van die dag, ‘n vrou wat haar fantasielewe mag uitvoer.

II
50 Shades of Grey is daarenteen ‘n kliniese analise van seks/erotiek. Dit word nooit ‘n dwingende analise van die problematiek nie. Inteendeel. Die skote is netjies, afstandelik en selfs tydens sekstonele, bly alles in “beheer”, perfek. Ek het die film gaan kyk saam met ‘n vriendin wie se partner dit nie met haar wou sien nie. My nuuskierigheid het die oorhand gekry.

In die Cavendish rolprentteater het mense uitgestap. Hopelik uit verveling, nie uit skok nie.
Toe die film eindig – sy in die hysbak vlugtend van hom en hy aan die anderkant van die toe deur  gaan daar ‘n geskokte rilling van ontsteltenis deur die teater. Mense wou nog sien …
Intellektuele coitus interruptus?

Die film is lagwekkend swak. Die plot werk met ‘n maagd wat flink ont-maagd word en dan ingetrek word in die ryk sakeman se S&M-fantasie. Hy is – blyk dit later – die weggooikind van ‘n prostituut wat verslaaf was aan crack. Boonop is hy deur ‘n ouer vrou touwys gemaak. Sy is Mrs Robinson. ‘n Klein toespeling op die film The Graduate met Dustin Hofman en Anne Bancroft in Mike Nichols se puik film uit 1967 waar die ouer vrou die jonger man verlei.

Daar is ‘n danstoneel (hier het ek gelag) en wanneer  Christian wals met Anastasia Steele (wat na-ure werk in ‘n hardeware-winkel)  begin jy hoop die filmmaker is besig om op te stuur. Sam Taylor-Johnson wis waarskynlik nie wat die Afrikaanse uitdrukking beteken om iemand te spyker nie.

As akademikus is dit vir my gewoon lagwekkend dat die spreker by ‘n gradeplegtigheid soveel tyd sal hê om in die graduanda se ogies te kyk …

III
Op Litnet is daar tans ‘n debat oor hierdie film, met Francois Smith wat skryf:
Om die werkinge van seksualiteit te verstaan, moet jy jou ideaal gesproke ’n lyf sonder organe kan voorstel, ’n lyf wat genot kan smaak sonder dat dit afhanklik is van ’n heel spesifieke seksualisering daarvan. In hierdie opsig is masochisme as konsep vir Deleuze en Guattari waardevol, en dalk is dit ook waardevol om iets positiefs in Fifty Shades of Grey op grond daarvan te identifiseer, naamlik dat dit die moontlikheid voorhou dat die vrou lyf en nét lyf kan word, dat sy aan haar seksualiteit blootgestel kan word deur die pyn van eie lyf, of die afwagting van hierdie pyn, onafhanklik van enige spesifieke seksualisering daarvan. Ek praat dus van die moontlikheid dat dit ook onafhanklik van die man kan gebeur, en dat die vrou so, deur die ervaring van haar eie lyf los van enige konstruksie kan bewus word van die werkinge van begeerte en hoe dit bepaal word en op ’n spesifieke manier gestalte kry.Daar is dus ook ’n moontlikheid in Fifty Shades of Grey dat die vrou deur die beeld van masochisme aan seksualiteit kan begin dink as iets wat onafhanklik kan optree van die bepalings en die eise van die kapitaalkragtige man as rigtinggewer, konkreet sowel as simbolies. (Francois Smith oor Fifty Shades of Grey - Francois Smith | LitNetBesoek 8 Maart 2015)
Deur die pyn van eie lyf?

Smith het by geleentheid na Camille Paglia verwys as ‘n feminis; iets wat sy nie sou wou wees nie. Sy is eerder ‘n gender-teoretikus (soos die uwe) wat meen dat vroue agentskap het, besluite kan neem, en selfs soos Catherine Deneuve in Belle de Jour buite die orde van die manlike voorskrif kan leef en besluite neem.

Die filosoof Johann Rossouw skryf insigryk hieroor in Oor Fifty Shades of Grey, die film - Johann Rossouw | LitNet. (Besoek 8 Maart 2015)

IV
Die problematiek van hierdie film is dalk eerder daarop gerig dat mense gewoond geraak het aan maklike versnaperinge wanneer dit by films kom. Die werklike komplekse film word al hoe minder aangetref.

Johann Rossouw aktiveer as filosoof ‘n belangrike kode in die film, te wete die oorheersing van die bose. Hierom het verskeie Christelike mense aanstoot geneem en aksiegroepe is teen die film opgestel. (Fifty Shades of Grey (film) - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 11 Maart 2015.)

Veral sy uitwys van die Skoonlief en die Ondier-kode is van uiterse belang vir die lees en interpretasie van hierdie film.

Maar hierdie film is net soos Pretty Woman, daardie populistiese liefdesfilm uit die negentigerjare met Julia Roberts en Richard Gere, wat ten spyte van al die toespelings – selfs op La Traviata – maar flou bly. (Pretty Woman - Wikipedia, the free encyclopediaBesoek 11 Maart 2015)

Selfs die erudisie van Johann Rossouw kan my nie oortuig nie.

Dit bly vir my problematies dat hierdie film my dwing om daarop te reageer: maar my reaksie is een van afwysing. Nie ‘n morele posisie nie, maar ‘n filmkritiese een wat die kyker noop om te vra: waar is ons in 2015 as mense deur iets so sielsvlakkig en on-eroties geboei word?

Selfs Oscar-wenners is deesdae floumakou. Dalk moes ons besef dat vinnige kommunikasie (Facebook o.a.) ons stompsinnig gemaak het. Almal soek vinnige reaksies, “fast food sex” – teenoor die lang, uitgerekte spel.

Kyk veel eerder na egte S&M wat emosioneel steur. Wat gemaak is deur deurwinterde filmmakers wat die taal van films onder die knie het en weet dat Roland Barthes gelyk had in Le Plaisir du texte (1973) dat die erotiek aanwesig is juis daar waar die kledingstuk gaap  … Bad Timing (1980) van Nicolas Roeg en The Night Porter (1974) van Liliana Cavani.

Of dalk werklike pornografie soos Deep throat (1972) en die latere dokumentêr waarin die impak van hierdie film op Linda Lovelace se lewe geanaliseer word. Dit het verskyn in 2005 en heet Inside Deep Throat.

Iewers in ‘n dagblad het iemand Inside Deep Throat geresenseer sonder om die oorspronklike film te gesien het.

Dis waar ons nou is.


© Joan Hambidge