Bladsye / Pages

Friday, January 9, 2015

Reisverslag: Buenos Aires - Deel VIII: Borges en Buenos Aires en Gauchos

Gaucho © Andrew Gibson

DEEL VIII 

Passado

Vroegoggend (gister) is ek op die oopdakbus wat vir meer as vier ure deur die strate van Buenos Aires reis. Dit is snikwarm. Ek het 'n petjie op en drink water om nie te ontwater nie. Die bus staan regoorkant my hotel 725 Continental. Op die negende verdieping is daar 'n piepklein swembadjie waar ek laatmiddag van die dag se sweet en geswoeg ontslae raak.

Vir $40 kan jy opklim en afklim op die Buscar vir 'n hele dag ... die oomblik van opklim tot 24 uur later. En so 'n busreis is bepaald die moeite werd, omdat jy die stad uit 'n ongewone hoek bespied. Jy sien blomme op 'n balkon groei. Jy sien 'n kat wat agter ogiesdraad soos 'n leeu in hok op en af stap. Jy sien 'n halfkaal persoon op 'n dekstoel uitgestrek. Jy sien hoe iemand worsies braai op straat.

Buenos Aires se honde-eienaars maak agter die brakke skoon. 'n Man plaas selfs 'n koerant onder Vlekkie se holliepatrollie en woerts word dit in die vuilgoedblik gegooi. Nogal 'n skoon stad; behalwe vir die sigaretstompies wat orals rondlê, omdat jy nie binne mag rook nie.

Nou ja. Ek wil Borges se bakens in hierdie stad besoek. En gelukskoot op gelukskoot kry ek sommer op hierdie dag twee: Café Tortoni waar hy gereeld koffie gedrink het en La poesía waar sy volgelinge op die mure mooi woorde oor hom plaas. Op die hoek van Chile en Bolivar. Alles is hier in Spaans - geen Engels nie.

Boheems. Baie dieselfde gevoel - en mense - as The power and the glory daar in my kwartiere te Tamboerskloof; die naam verwys immers na Graham Greene se bekende roman met sy whiskey-priest uit 1940 met die toespeling op die gebed:

"For thine is the kingdom, the power, and the glory, forever and ever, amen." Op die voordeur is daar 'n teken (ietwat speels): Ons praat Afrikaans ...

Café Tortoni, Borges se tafel

Café Tortoni

Ek het vanoggend 'n afspraak om die blinde Borges te ontmoet in sy kafee. Sy sekretaresse het laat weet hy sal presies om elf vm daar wees en moet asseblief nie laat wees nie. 

Ek verseker haar ek is nooit laat nie.

Sy vra ook dat ek asseblief die vrae tersaaklik moet hou en op sy werk moet fokus.

Ek begin 'n paar vrae neerpen in my swart notaboekie. My boekie is soos 'n labirint. Maak nie saak waar ek dit oopmaak nie; daar is altyd 'n belangrike idee opgesluit in hierdie swart boekie.

1. U het by geleentheid opgemerk dat u vader se biblioteek die hele lewe verteenwoordig het. Dink u dat lees die lewe kan vervang of verbeter?

2. U vader het in sy vyftigerjare blind geraak. Het u gevrees dat dit ook u lot sal wees?

3. U werk dikwels met die idee van die labirint? Het u ooit 'n werklike labirint of doolhof besoek alvorens u dit as letterkundige simbool gebruik het?

4. Hoe sou u magiese realisme definieer?

5. U is dikwels in die Palermo Viejo opgemerk? Watter invloed het hierdie wandelinge - dit wat u gehoor en geruik het - gehad op u tekste?

*


Die verhaal word egter onderbreek. Dit is tyd om die gids te ontmoet vir die gauchos-toer net buite Buenos Aires. Ons kom na twee ure aan op die plaas, Santa Susana. Ons ontvang 'n glas wyn en 'n poffertjie by ons aankoms.

Ons gids beloof verskillende danse wat hierdie komplekse kultuur sal voorstel. Casper Schmidt se kortverhaalbundel Die kokende gô kom sterk in die herinnering op.

Borges het nooit braille bemeester nie. Hy het tog verhale en gedigte vertaal – met die hulp van 'n sekretaresse aan wie hy alles dikteer.

Ek sal my vertelling so konkreet beskryf dat Borges my verhaal sal sien. 

Op die tafel is daar beesvelle uitgestal (teen $303). Buite mag 'n mens perdry. Die jongklomp is op 'n perdekarretjie aan die rondrits.

Na die oggendreëns is die lug helder. Alles ruik skoon en vars. 'n Gaucho in uniform van stewels en 'n rybroek braai vleis onder 'n soort lapa. Hy het 'n beret op. 'n Boina. 

Ons eet braaivleis: gestopte varkwors, beeswors, steak ... die Malbec vloei soos bloed. Daarna word die verskillende vorme van die tango vir ons gedemonstreer. En 'n man op 'n kitaar speel hartseermusiek. 

Daarna gaan ons buite toe en sien hoe die gauchos resies jaag en met las chicas op die perde rondjaag. Die skare jil. Daar hang 'n reuk van seks en sweet in die lug. Applous vir die gaucho wat 'n lus kan uithak en die ringetjie aan 'n mooi chica oorhandig met 'n kus.

Vanaand is die gauchos weer sonder vroue.

Nou het ek die pseudo-epigrapha tot die uiterste vorm geneem en u tot lewe gewek, meneer Borges.

*

Thibault Camus/AP Photo

Vroegaand is ek terug by die hotel. Ek is dadelik op CNN. Ek sien die twee broers is doodgeskiet en die derde terroris wat mense in 'n kosjer-winkel aangehou het, is eweneens verwyder van hierdie planeet. Sy vrou is egter steeds soek. Die Franse is onrustig. En Michel Houllebecq se uitgewer vrees dat sy roman Soumission geweld mag uitlok (‘Charlie Hebdo’/ Nuwe Franse boek in die spervuur? Besoek 9 Januarie 2015)

Die afgelope drie dae was dae van hoogspanning.

Tot diep in die nag kyk ek televisie en luister na al die interpretasies.

Joan Hambidge