Bladsye / Pages

Sunday, November 9, 2014

Kerneels Breytenbach - Ester (2014)


Kerneels Breytenbach - EsterHuman & Rousseau, 2014. ISBN 978-0-7981-6795-6.

Resensent: Joan Hambidge

I

Ester is Kerneels Breytenbach se roman na die besondere Piekniek by hangklip waaroor ek uitgebreid geskryf het. So word die roman bemark:

’n Meesleurende roman oor ’n verbode passie en ’n politieke intrige. Dis gebaseer op ’n werklike historiese insident, en die gevolge daarvan: Die ontmoeting in 1940 tussen Dr D.F. Malan en ‘n Duitse spioen, mev Thyra Denk. Nou, in 1946, kry Dieter Bergman, ’n senior polisieman, instruksies om mev Denk per trein van Windhoek na Kaapstad te vergesel, waar sy voor ’n Gekose Komitee van die Parlement moet getuig. As daar bewys kan word dat Malan met die Nazi’s meegewerk het tydens die Tweede Wêreldoorlog, kan hy van hoogverraad aangekla word en sal dit die einde van sy politieke loopbaan beteken. Tydens die lang reis per trein ontstaan daar ‘n verhouding tussen Bergman en die beeldskone spioen. Op die trein is egter ook ene adv Doerkstra. Sy missie: hy moet die spioen in die geheim te sien kry en haar oorrreed om nie met haar getuienis Malan se loopbaan te vernietig nie.

II

Hierdie knap opsomming gee die buitelyne van die verhaal weer en hierdie roman word deur Hettie Scholtz op die buiteblad tereg as volg beskryf: "Wat 'n plesier. Wat 'n leeservaring. Wat 'n plot!"

En inderdaad is die plot die indrukwekkendste aspek van hierdie spanningsverhaal waar identiteite ómgeruil is. Wie is Mevrou Denk nou eintlik? En waarom is Ester so 'n verleidster?

Die intense spanning tussen die twee manlike hoofkarakters, Bergman en Doerkstra, wentel rondom hul verskillende opdragte, maar uiteraard gaan dit ook om seksuele jaloesie en kompetisie. Dit word raak opgesom in 'n eettoneel (222) en hoe hulle na mekaar kyk in 'n tartingstoneel (214).

Teenoor die gesofistikeerde eetrituele is daar die treindrywer en stoker se etes. Hiermee word daar skerp kommentaar gelewer op die rol van die werkersklas wat juis deur Hitler gemanipuleer is.

Doerkstra in 'n eettoneel met Jurie Kimberley en Barkies verduidelik die klasverskille en dit is 'n belangrike vehicle om vir sowel húlle as die lesers 'n siening oor Smuts en die oorlog oor te dra. 'n Gesprek tussen die slim advokaat en die ongeleerdes word 'n kortpad om belangrike feite te belig. Die sogenaamde "politcal unconscious" van die teks, soos Fredric Jameson dit tipeer.

Op dieselfde wyse word gedeeltes uit Die Brandwag deel van 'n gesprek oor die lot van die spoorwegwerker (273). En gesofistikeerde sang teenoor volkse liedjies is 'n ander opposisie wat uitgewerk word (286). Die toneel van aanranding, die rol van die mes en aanhitsing en die feit dat die AO kan Duits praat met die spioen skep verskillende lae van betekenis. En ja Van Wyk Louw en Greshoff is eweneens in 'n restaurant aan't stry (300).

Daar is 'n paar belangrike aspekte wat in hierdie roman beklemtoon moet word. Die skrywer se kennis van musiek - wat die wending of dénouement tot gevolg het - en    kos as 'n ritueel kom handig te pas. Verder kan menige Afrikaanse skrywer by hom gaan kers opsteek oor hoe om oor die lyflike te skryf. 'n Sekstoneel in 'n kompartement gaan verby die boekerigheid wat meeste sekstonele bederf.

Die roman gebruik die historiese gegewe van Dr Malan en die Tweede Wêreldoorlog as die backdrop waarteen hierdie drama van verraad en dubbelspel gekaats word, maar sonder dat dit dordroog raak. Die meeste historiese romans raak op die duur vervelig, omdat die teks loodswaar raak onder die dorre feite. Buys van Willem Anker is juis uitstekend, omdat die skrywer fiksionaliseer en grense verskuif.

Ester is veerlig geskryf, maar met 'n sub-teks vol verwysings en toespelings soos na Marlene Dietrich (sien Marlene Dietrich - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 8 November 2014; kyk na die voorblad) en ander herkenbare figure soos Hendrik Susan, Karl Bremer, Chris Blignault, ensomeer wat die teks kompleks maak.

Die femme fatale wat mans se oordeel aantas, word deur die kode van Marlene Dietrich in die roman gedra. Ook die terloopse verwysings na Adolf Jentsch is relevant en die treinreis word besonder goed weergegee. Daar word telkens kommentaar op die landskap gegee; miskien te bewustelik op bladsy 294? Is dit die implisiete outeur wat hier deurslaan?

Net soos die ritueel van rook wat eweneens klasverskille aandui.

III

Breytenbach se kennis van musiek en kos (as gedugte musiek- en kosskrywer) word in hierdie teks maksimaal ontgin. Dit is letterlik 'n unputdownable roman.

Inderdaad is die duiwel 'n vrou. Dit is in ander sleutel as Piekniek by hangklip (2011) geskryf, wat met vele ingebedde tekste en toespelings werk. (Hieroor is daar 'n artikel in Stilet, 2012 gepubliseer en op hierdie blog te vinde).

Die geskiedenis van dr Malan - met sy weekdier oë, 136 - verduidelik waarom hierdie land 'n bepaalde rigting ingeslaan het. 'n Historikus sal kan wys op die spel tussen fiksie en werklikheid, maar vir die letterkundige leser is dit oortuigend as storie.

Die hoftoneel en veral die slot - uit die perspektief van die ouer juris - is aangrypend. Die verhaal van die frotteur, hier op 'n psigologiese vlak. (Sien Frotteurism).

Die enorme, goed verwerkte navorsing is indrukwekkend.


Kerneels Breytenbach

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music radio)