Bladsye / Pages

Sunday, November 16, 2014

Antjie Krog - mede-wete (2014)



Antjie Krog - Mede-wete. Human & Rousseau, 2014. ISBN 978-0-7981-6787-1

Resensent: Joan Hambidge

I

Dit is Krog se eerste bundel in agt jaar. Hierdie langverwagte bundel open met ‘n aangrypende vers oor die dood van haar vader. Die bundel handel oor familieskap in al sy vorme: die verhouding met die ouers, kinders, kleinkinders, maar ook die familieskap met taal en die land van herkoms.

mirakel

ek behoort aan hierdie land
dit het my gemaak

ek het geen ander land
as dié land nie (30)

Hierdie bundel het onder andere tot stand gekom, terwyl die digter met 'n DAAD-beurs in Berlyn kon navorsing doen. Hierom die afstand oor die (Suid)-Afrikaanse wêreld en die beskrywing van die beklemmende politieke werklikheid waarin alles op ‘n daaglikse basis afgetakel en omgekeer word. Die politieke werklikheid is ‘n ontstellende een, ónafhanklik van die plek waar jy staan, links of regs, wit of swart. Die bundel heet Mede-wete. Ons hoor medepligtig, met wete, met insig. Ook die leser word mede-speler, mede-skrywer.

II

Krog debuteer in 1970 met Dogter van Jefta. Hierna verskyn vele bundels en etlike keurbundels soos Digter wordende (2009), kinderpoësie, prosa, nie-fiksie – soos die belangrike Country of my skull (1998), ‘n Ander tongval (2003), Begging to be black (2010), onder andere. 

Daar is ‘n monografie oor haar geskryf deur Louise Viljoen waarin die belangrikste kodes en temas uitgewys word. Nou onlangs het ek soos volg  ‘n versameling opstelle van haar werk geresenseer in Rapport. [1]

In die jongste bundel vind ons die woedende Krog, maar woede word telkens afgewissel met teerheid. Verset teen taal en gesag - soos die skutblad verduidelik - is die onderstroming van hierdie bundel met toespelings op Paul Celan se digkuns, verwysings na C.G. Jung, Drucilla Cornell, J.M. Coetzee, Lacan, Spivak (radikale alteriteit of die herkenning van die Ander, wat jou omskryf of inbeperk), e.a. Celan se eksperimentering met taal vind uiting in hierdie bundel met gedrongenheid en taaleksperimente. So gelees word hy 'n "boksmaat, skermmaat".

Die eerste afdeling "die werf" situeer die plaaslewe met motto's van ouer digters. Werf in die sin van begrensing word hier geaktiveer in gesprek met die familie. By die begrafnis van die vader dring die moeder daarop aan dat daar voorgelees moet word uit die Ou Vertaling. Dus, op bevel van die moeder, die matriarg, en skrywer in eie reg, Dot Serfontein, met die dogter as teenpool en waarnemer en optekenaar. Telkens word die jonger, politiek-bewuste Antjie Krog, geplaas teenoor die stoere wêreld van die Vrystaat. 

Daar is ook 'n "vlammestriem van verlange" (18) te bespeur in hierdie gedigte met hul sterk melancholiese en eerlike aanslag. In "die boesman" (19) is die kind getuie van geweld teen die Ander, iets wat later in die gedig "hou jou oor teen die skeur van my land" (28 - 29) aangespreek word deur die ouer waarnemer, wat indertyd by die WVK getuie was van pynlike belydenisse en mense se onmag om die "interverbondenheid" tussen wit en swart te aanvaar. In "dis hy!" (22) word 'n swart man haar vader; sou hy haar vader kon word / wees in 'n versoenende, aangrypende vers wat afspeel in die verbeelding.

III

Die sterk politieke gewete word in 'n tweespraak, wat “bediendepraatjies” (60) heet,  uitgewerk waar sowel die swart vrou as die wit een, aan die woord gestel word. Tweegesprek dus - met erkenning aan die vertaler Balisa Finca. Dit is weliswaar minder gedronge, en hierom minder oortuigend as die ander sterk, gelade verse; altans vir hierdie leser.

Die gedig oor Mandela is 'n sterk politieke vers, die enigste een, behalwe Johann se Lange s'n, wat my indertyd oortuig het as volwaardige gedígte by sy afsterwe en nie opportunistiese rympies nie.

Die stemlose word stemhebbend gemaak in Krog se digkuns en haar genderpolitiek is 'n ongebreidelde opstand teen die falliese en fallokratiese orde. Bemagtiging, selfsug, selfvoldaanheid kom telkens in haar visier. Wanneer ‘n jong seun beskryf word (“junior”, 36), vra sy haarself af waarom moet daar iets word van ‘n seuntjie? Hierdie vers word geplaas teenoor ‘n gedig oor ‘n dogtertjie: om in ‘n dogtertjie se kamer te slaap” (37) waarin die rol van vrouwees gedekonstrueer word. Die vrou sal moet gelukkig wees met “besdoen”, met jou lewenslot aanvaar. Hierdie gedig tree implisiet in gesprek met Elisabeth Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark” waarin genderrolle ook uitgewerk word, maar by Krog is daar onteenseglik woede en opstand aanwesig by “die Tannie”!

Die genderpolitiek word geplaas teenoor die politieke onreg. Daar vind in hierdie bundel telkens ‘n dubbelgesprek plaas: landspolitiek téénoor persoonlike politiek of genderverskille. 'n Mens word nie 'n vrou gebore nie; jy word een gemaak, hoor ons De Beauvoir in die agtergrond praat.

IV

Die sterk beeldende vermoë is daar, die eiesoortige ideolek ("antjiekaans"), die gebruik van die plat of skokkende woord, Bybelse verwysings, die gebed wat ook ars poetica word ("moniaal", 41), die sterk narratiewe draad wat verskillende wêrelde saamsnoer (ook ontrafel) en die sillabeversteurings as belangrike kodes vir oopmaak van hierdie bundel. Krog is die meester van klank in 'n gedig; hierom leen haar verse sig tot uitstekende voordragte. Krog het reeds haar eie idiotikon opgestel; frases en uitdrukkings waaraan jy haar kan herken.

Die digter voorsien ons ook van 'n bronnelys waarin sy bely dat sy soms en soms sonder erkenning iets oorneem. Bachmann, Fanon, Cornell, Hamburger, Versfeld, Spivak (die subaltern), o.a. word leidrade vir die speurende leser wat die filosofiese onderbou kan uitsnuffel.  Daar is etlike morele vraagstukke wat sy uitwerk rondom kos en eet, verruklik verwoord in "sondagmiddagete" (26). Daar is humor, soos 'n rusie oor 'n familie-legende van die skoonpa wat 'n vyfsentstuk vir die Ontvanger teruggeneem het (88).  Daar is 'n skerp blik - ongeromantiseerd - op die ellendes van die nuwe-Suid-Afrika wanneer die spreker 'n dokterseun bel op Volksrust met slegte ontvangs. 'n Babatjie sterf in Ongevalle weens die "standaard-equipment" wat nooit nagegaan is nie.

V

Vir my is die aangrypendste gedigte die verse oor die kinders en kleinkinders. Nou onlangs het ek weer Rika Cilliers en Johann Johl se antologie Bloeityd (1993) gelees en die wye skakering van kind(er)gedigte in Afrikaans beskou. Krog romantiseer nie die verhouding tussen (groot)moeder en kind nie. Sy skryf eerlik hieroor, opreg - en sy wys op die komplekse simbiotiese bestaan tussen moeder en kind: dat die geboorte van die kind die einde van selfkoestering is en 'n leeflange vervolging aandui ... Jy voed as't ware die mond wat byt (84). Paradoksale toestand van geluk én weerloosheid.

"convivium" (82) - geskryf in samewerking met die Berlynse astronoom Hans Zinnecker - tree in gesprek met De Lange en TT Cloete se gedigte oor die universum.

Siekte ("vervalle sillabes in bloei", 96) en die vrees dat 'n geliefde verloor kan word, ruk aan die hart. 'n Huweliksrusie het nie sy gelyke in Afrikaans nie ("toe die jongste kind", 101) waarin die lewensgetroue vloekwoorde en skunnighede vergestalt word.  Hierom steur die persoonlik-anekdotiese "ter herinnering" (105) waarin 'n besondere vriendskap beskryf word, maar die kragdadige aanslag van vintage-Krog mis.

Uiteraard is daar besinning oor die eie dood ("as ek doodgaan", 102) waarin sy die versugting oordra om panteïsties deel te word van die aarde. Gelees teen die agtergrond van "connected in Berlyn" (55) waar moderne tegnologie 'n antwoord word op metafisika. Of die pragvers "12 weke 4 dae sonar" (40) wat terugspeel op gedigte in Mannin en Beminde Antarktika (1975) waar die belewenis van 'n swangerskap ook 'n ars poëtica word.

Die slot-afdeling "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing" - opgedra aan Jakes Gerwel - is Krog op volle vaart in haar tweegesprek met Celan.

tong gevolmag
die son sniert
die nagberg nierts

Celan (1920 - 1970) was sowel digter as vertaler, nes Krog ook beweeg tussen verskillende tale en diskoerse, ofskoon sy in Afrikaans op haar beste is. Die Duitse digter se naam is 'n opgemaakte naam, saamgestel uit die sillabes van sy regte naam, Paul Antschel. Krog is Anna Krog; sy is ook Anna Samuel. Sy is Antjie. Lady Anne. Celan moes die Joodse vervolging verduur en die dood van vriende verwerk. Krog was openbare optekenaar van sosiale ongeregtigheid hier te lande. Die Romeens gebore Celan moes die dood van sy ouers beleef  ...

Sy verhouding met Ingeborg Bachmann - sy toeverlaat - kon hom egter nie red van sy selfdood in Parys nie.

Sy gedronge gedigte - dikwels gewoon 'n verwringing van die Duitse idioom - het vele modernistiese digters geïnspireer. Ook sy verheerliking van die digkuns, te wete dat daar niks is waarvoor die digter sy digkuns sal opgee nie, is eweneens 'n refrein in Krog se werk.
Beide Celan en Krog moet gesien word as waarnemers van ongeregtigheid.

Met poësie as 'n uitweg.

Beide moes ongeregverdige aantygings oor onoorspronklikheid verduur. Beide is deur die literêre sisteem geglo en in ere herstel.

VI

Dit is 'n sterk bundel. Een vir nadink, herlees, herbesin. Dit wil opstand en teenspraak by die leser inskerp. Met 'n voorblad na 'n kunswerk van Otobang Nkanga.

Die buiteblad: twee koplose figure wat toutrek. Maar daar is 'n vlier. Die digkuns dus as verlossing. Maar ook as toutrekkery. Wegbeweeg  - as ons kyk na die hooftooisels - maar ook verbind, verbonde, verband(e). Nes Krog altyd verbonde bly aan haar plaasagtergrond en hierom praat sy Afrikaans met 'n Hebreeuse kleinkind in die vreemde.

Ons sal nooit die prys wat Krog moes betaal om al die ellendes van hierdie land aan te hoor, kan takseer nie:

die aarde het ek in my mond geneem. 'n verhewigde land
probeer begryp. daarvan herstel ek nie weer nie
(112)

'n Resensent met karige insig het onlangs geskryf dat 'n bundel voortaan dié bundel sal wees waaraan elke ander bundel gemeet sal word. By die lees van Antjie Krog se Mede-wete besef 'n mens hoe onsinnig sulke waardeoordele is. Daar is Breytenbach, daar is Cloete en ja, daar is Lady Anne.

Endnote:

1. Antjie Krog: An ethics of body and otherness
Redakteurs: Judith Lütge Coullie en Andries Visagie 
University of KwaZulu-Natal Press, 2014
341 bladsye Sagteband
ISBN 978 186914 253 7

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie bundel bevat 'n handvol artikels oor die Antjie Krog, sowel digter as openbare figuur. Daar is 'n litograaf van Claudette Schreuders op die voorblad wat heel gepas heet "Public figure" (2008).

Krog se digkuns verwoord die volledige gestalte van vrouwees: jong kind, vrou, moeder, geskeide vrou, vrou met (politieke) agentskap. Sy is 'n veel bekroonde digter en openbare figuur en veral Country of my skull oor die WVK het haar gevestig as 'n internasionale figuur. Haar gedigte bestaan ook in vertaling, ofskoon die Engelse gedigte die chora of "underbelly" van die oorspronklike taal mis. Dit is "down to my own skin" en vir my gevoel te gestroop; soos vleis waarvan die vetjies afgesny is.

'n Paar kanttekeninge: as 'n leser van Krog is van die bydraes van buite insiggewend. Dit is immers altyd relevant om te verneem hoe die lesers van ander tale reageer op die Afrikaanse letterkunde. "Running with the jackals" van Anthea Garman bekyk die rol van Krog as joernalis. Krog se werk by Die Suid-Afrikaan en as verslaggewer by die SABC waar sy die verrigtinge rondom die TRC weergegee het, gee 'n opsomming van haar aanslag as 'n aweregse, dwars en belangrike kommentator. Trouens, hierdie artikel som die konflik tussen die estetika en politiek die beste op. Haar werk wys immers op die domein van vrouwees - in navolging van verskeie feminismes - as 'n gepolitiseerde ruimte. In Met woorde soos met kerse gee sy stem aan die stemloses en wys sy op die verskillende taalsisteme wat langs mekaar bestaan in buurskap sonder kennisname, sonder respek. Krog as orator en digter van die praatvers sluit dan ook aan by die swart orale tradisie, want vir haar is poësie in die eerste instansie, klánk.

Ons lees in hierdie boek hoé Krog se media-kapitaal werk en openbarend, soos veral Louise Viljoen uitwys, die moeder die jong kind beskerm het teen die ongenaakbare media-blootstelling en as ‘n soort buikspreker opgetree het. Die intrede van Opperman as mentor (en die jarelange inskryf en wegskryf van hom en ‘n MA-verhandeling oor sy werk), openbaar ook aan die leser dat Krog aan twee sisteme tegelykertyd behoort het: die politieke sisteem en die Afrikaanse digterlike sisteem. In beide gee sy ‘n stem aan die stilgemaaktes en as digter het sy op ‘n opwindende wyse – soos Johann de Lange – die skunnige en transgressiewe woord tot poëtiese woord verhef. Die rol van fiksionalisering in haar prosatekste (hoe sy konflik verplaas van haar dogter na haar eie verhouding met haar moeder, Dot Serfontein) en die impak van Country of my skull as skokkende teks, is eweneens tersaaklik.

Daar is twee stewige bydraes van Louise Viljoen in hierdie bundel opgeneem.

Krog is 'n figuur met geweldige simboliese kapitaal. Dit bly altyd opwindend om die gesprek tussen Krog, Opperman en Eybers na te speur. Kim Rostan wys ook op die rol van personas in  haar werk en in welke mate veral Country of my skull ‘n komplekse teks is van “waarheid” en fiksionalisering. Daar is eweneens uitsprake oor die rol van vertaling en haar siening van “antjiekaans” en die gebruik van Engelse woorde in Afrikaanse gedigte. Dan Wylie skryf regstellend in “Now strangers walk in that place” oor die gebruik van die Bleek/Lloyd-materiaal.

Hierdie bundel ondersoek haar invloed as literêre figuur, as vertaler, as politieke ikoon, as joernalis en as feminis.

Die indeks is onvolledig.

In ‘n tyd waar die publikasie van akademiese  tekste al hoe minder word, is hierdie boek van uiterste belang.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)