Bladsye / Pages

Saturday, October 18, 2014

Anton van Niekerk - Geloof sonder sekerhede (2014)



Anton van Niekerk - Geloof sonder sekerhede. Lux Verbi, 2014. ISBN 978 0 7963 1899 2
Resensent: Joan Hambidge

Hierdie is ‘n tweede uitgawe van Anton van Niekerk se boek Geloof sonder sekerhede. Hoe kan ek nog glo? Die skrywer, ‘n bekende filosoof wat heel dikwels oor etiese kwessies onderhoudend en helder skryf, stel dit duidelik dat hy op kritiek gereageer het. Hy reageer onder andere op ‘n persepsie dat hy probleme sou hê met alle teologie. Waarteen hy wel polemiseer, is teologie wat ten alle koste ‘n “soeke na ortodoksie” is, die sogenaamde teologie wat ‘n konsensus of akkoord is wat ons oral en altyd behoort te glo …

Hierom bely die outeur, verkies hy Erasmus bo Luther. En hoe besonders dat hy kritiek en kritiese vrae verwerk om ‘n belangrike boek te skep wat vir sowel die teoloog as die gewone leser van waarde is.

Dit is 'n besonder ryk geskakeerde teks wat belangrike vrae stel oor geloof. Hoe kan daar 'n God wees wat onder meer die holokaust, Vigs, 'n tsoenami of watookal toegelaat het? Van Niekerk se onderbou is die Christendom, en meer spesifiek, Christelike filosowe en teoloë. My posisie is een van 'n vervloë Protestant, kortstondige agnostikus, wat via die Boeddhisme weer my geloof herwin het. Ek staan buite die kerk, maar geloofsake soos vergestalt vanaf Dante tot vandag interesseer my. Vir my sluit geloof nie wetenskap uit nie. En dit is die belangrikste bydrae van Van Niekerk se boek: hoe spreek ons geloofskwessies aan in 'n moderne, tegnologies-gedrewe wêreld? Hoe moet ons Die Bybel lees? Letterlik of allegories? Oor Job het Jung onder andere 'n uitgebreide studie geskryf.

Waarskynlik is hoofstuk 7 'n kernhoofstuk waarin die gespanne verhouding tussen geloof en wetenskap belig word. Dit sou 'n fout wees om aan Die Bybel vrae te stel wat dit nie kan beantwoord nie en wanneer hy in polemiek tree met Daniel Dennett en Richard Dawkins, o.a. die skrywer van The god delusion, is die skrywer op sy beste: geloofskennis en wetenskaplike kennis is ewe geldig (182). Valse debatte en valse probleme word aan die orde gestel en sober bekyk.

Bekende skrywers word eweneens aan bod gebring: CS Lewis se geloofskrisis (wat baie goed uitgebeeld word in die rolprent Shadowlands in 1993), Simone de Beauvoir, 'n ateïs, wat in haar laat ouderdom Die Bybel herlees en pittige opmerkings maak oor die rol van Jahwe, die "hoofkarakter" in die Ou-Testament se wreedheid. Hy verduidelik die betekenis van die teodisee, die argument wat God probeer regverdig in die lig van kwaad en lyding. Hy bespreek die rol van Luther, Erasmus en Calvyn in die geskiedenis van die kerk en die betekenis van kairos of daardie oomblik van God se selfonthulling of -prysgawe aan die mensheid. Erasmus se Tot lof van die sotheid as ontwapening teenoor Luther se konfronterende styl ...

Oor aborsie en kloning skryf hy onderhoudend. Hy plaas al sy kaarte op die tafel en laat die leser nadink oor die impak van wetenskaplike ontwikkeling en vra vir 'n verantwoordelikheid vir die toekoms van die mens. Eugenics kom ook aan bod - en hier kan 'n mens weer dink aan 'n roman van Margaret Atwood wat die probleem kreatief ondersoek in Oryx and Crake (2003). Die wetenskap, beweer Van Niekerk, hoef nie te "onttower" nie.

Die volledige politieke spektrum - van Verwoerd tot Zuma - word onder die loep geneem.

Die voormalige pous se raadgewer was onder andere Julia Kristeva, 'n ateïs, maar formidabele intellek wat weer eens beklemtoon dat die spanning tussen geloof en ongeloof nie met een swiepslag weggedink kan word nie. En een van die grootste rolprente oor die Jesus-figuur is immers van Pier Pasolini, eweneens 'n persoon buite die kerk gestaan het en dit heet The Gospel according to St Matthew wat in 1964 verskyn het.

En veral oor die dood gee Van Niekerk ‘n waardevolle en meelewende blik: hy skryf op ‘n nuwe wyse oor die dood. Ons leef eenmalig: die dood is die raamwerk waarbinne ons die suksesse en mislukkings van ‘n lewe kan peil. En hy skryf:”Die dood as misterie is ons voortdurende en onvermydelike herinnering aan ons eie feilbaarheid en onvoltooidheid. Die dodo bring ons letterlik en figuurlik, ‘terug aarde toe’ – so radikaal terug, dat ons weer stof word (‘come to dust’), 299.

Daar is baie boeke, oor sowel die godsdiens as die wetenskap, wat die leser sal prikkel.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)