Bladsye / Pages

Wednesday, September 3, 2014

Nicola Hanekom - Die pad byster (2014)


Nicola Hanekom - Die pad bysterProtea Boekhuis, 2014. ISBN 978 1 4583 0059 5

Resensent: Joan Hambidge

Nicola Hanekom word deur teaterresensente as ‘n teatergenie beskou. Tereg ook, want sy probeer dikwels om te eksperimenteer binne die Afrikaanse teater. In 2013 het sy die ATKV-prys verower vir teater en omdat sy haar tekste publiseer – anders as byvoorbeeld Saartjie Botha – kan ‘n mens die verbintenis tussen opvoering en gepubliseerde teks takseer.

In die teater is die werk van Tennessee Williams in allerwaarskynlikheid die beste voorbeeld (vir my persoonlike smaak) van ‘n dramaturg wie se opvoerings jou meesleur én inspireer en waar die geskrewe tekste eweneens leesplesier verskaf. Nes Edward Albee, Arthur Miller … By ons PG du Plessis (Siener in die suburbs), Bartho Smit (Christine), om twee ou staatmakers af te stof, nes Pieter Fourie, ‘n ander teatergenie.

Die pad byster bevat twee tekste, te wete Hol en Trippie. Hol ontgin die obsessie met die lyf en meer spesifiek die gym-kultuur: hoe kilojoules, die oorverdowende musiek, die plek van seksuele konkeling, “personal trainers”, ensomeer die belydende, spreker se narcistiese monoloog bepaal.

Hierdie teks is ‘n skitterende “hinderlaag van die siel” (24).

En op ‘n besonderse wyse word die lyfobsessie verbind met die ondergrond van die teks, te wete, die geweld wat alles in hierdie land bepaal en domineer. ‘n Besoek aan ‘n tronk en die skryf van ‘n artikel oor geweld word oordonder deur die aftel van kilojoules en gym-verslawing. Uiteindelik impliseer hierdie teks dat ons hier te lande net kan oorleef, as ons verslaaf is aan iets …

Dit is ‘n onthutsende analise van dieetsiektes en obsessies. Met slim toespelings, soos o.a. die verwysing na die Carpenters. Karen Carpenter had immers anoreksie en sy is op die jonge ouderdom van 32 oorlede aan komplikasies weens hierdie siekte. Sy is trouens ‘n simbool vir siektelyers, omdat haar dood mense bewus gemaak het van die werklike gevare van die siekte. (En dan word daar ook ander name vermeld …dalk bulimies, dalk anoreksies?)

Trippie is ‘n “intieme drama” geskryf om op ‘n bewegende bus af te speel waar die passasiers dan die gehoor word. Die rit is deur die Klein Karoo …

Hierdie soort teater is grensoorskrydend en innoverend en diegene wat al deel was van ‘n bewegende verhoog of opgeraap is om deel te word van die aksie, sal weet waarvan hierdie resensent praat. Hier het ons die ontginning van die ontmoeting tussen twee onbekendes op ‘n bus. Die dialoog is digterlik en assosiatief in aanbod met die vroulike karakter, as ietwat psigoties en manipulerend. Is sy werklik gemolesteer? En die man, is sy vrou werklik dood? Sterf hy ten slotte? Is sy verantwoordelik vir sy dood? Is sy ‘n Eva-figuur wat hom met die appel vergiftig?

As leesteks vind ‘n mens toespelings op Pirandello en selfs na Ionesco met sy vlugte tussen fantasie en werklikheid.

Dit is ‘n besonder boeiende teks hierdie. Uit die pen van ‘n gedugte aktrise wat die konvensies van die teater uitdaag en langs ‘n nuwe galery van jongelinge, soos Saartjie Botha en Jaco Bouwer, ons hoop gee vir die toekoms. Nicola Hanekom sien haarself as aktrise. Met hierdie dubbeldoor maak sy ‘n besliste merk en dit is werklik verblydend dat Protea steeds hul weg oopsien om dramatekste in Afrikaans te publiseer.

Die pad byster – met Hol / Trippie – ondersoek die binneruimte van ‘n vrou op ‘n grens en mense praat in digterlike taal wanneer hul spanningsituasies ervaar, het D.J. Opperman by geleentheid opgemerk. Ek is werklik spyt dat ek die produksies van hierdie twee dramas misgeloop het!


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)