Bladsye / Pages

Tuesday, September 16, 2014

Jannie Malan - In ligte laaie (2014)


 Jannie Malan - In ligte laaie. Protea Boekehuis, 2014. ISBN: 9781485300786
Resensent: Joan Hambidge

Om met eerstehandse hartseer
tweedehands te koop

Dit is 'n bekoorlike debuut, 'n bundel waarin die jong digter reeds met 'n vaste hand die belangrikste beginsels van die digkuns begryp: die tegelykertydsaspek, die spanning tussen beeld en toepassing, 'n trefseker slot, onthoubare reëls, 'n kennis van digterlike vorme (ofskoon dit nog nie altyd in fyn balans is nie, soos "Pietà" (118), wat 'n distigon kon word; nie heeltemal 'n tanka nie op bl 39); 'n gesprek met ander digters ...

In ligte laaie bevat verskillende afdelings: “Fotoalbum”, “Notaboek”, “Dagboek” (met subafdelings “Vuur”, “Vlam”, “As”), “Reisjoernaal” en “Register” – met drie afsonderlike gedigte daaromheen. Ons verneem die redakteur van hierdie bundel was Daniel Hugo, self 'n digter wat die uitbou van 'n digbundel begryp en gedigte saam plaas wat saam hoort. Die narratief van die gedigte in die plasing binne bundelverband laai immers die gesprek tussen gedigte. Dit is opvallend dat hierdie digter in gesprek tree met mededigters, maar op 'n subtiele wyse is daar palinodes en teensange.

Die idioom "in ligte laaie" aktiveer die idee van die vuurbeeld wat aansluit by De Lange se gedig "As liefde ons verkeerd bewys", waar liefde en digkuns saamgeplaas word as 'n voorbrand vir sy vuur. [1] Verder terug is daar natuurlik Sheila Cussons se gedigte oor vuur.

Die voorblad is deur die digter self ontwerp: hier sweef daar laaie deur die lug en vele gedigte handel oor herinneringe en hoe dit beslag kry in die gedig. Ook die strofe is letterlik 'n bergplek vir die digterlike waarneming; en die persoon aan wie die bundel opgedra word, is 'n "skutblad teen die vuur".

Hierdie digter speel met woorde en implikasies en die leser word telkens gedwing om semioties, dus stip, te lees – die eis wat elke goeie digter aan sy leser stel. Die digter steek dikwels sy verwysings in die laai van die gedig weg en die leser moet die verskillende laaie dan ooptrek.

Hierdie spel van vernuf herinner ook aan die digkuns van Pieter van der Lugt, wat in die tagtigerjare by uitstek hierdie soort spel met woorde se assosiasies ontgin het, soos in Kies vir jou 'n tong (1985).

Daar is eweneens 'n afwisseling van toonaard. By Malan is daar 'n speelse, selfverminderende, parodiese aanslag, onder andere lieflik uitgebeeld in die fantasie oor 'n lugwaardin waarin die hele verhouding in die digterlike verbeelding uitgespeel word ("Binnelandse vlug" (98)); ander kere is daar 'n besondere gevoel van isolasie en afwesigheid, baie goed verwoord in 'n vers oor Derrida wat heet "Metafisika van afwesigheid" (120). Dit is 'n belangrike vers in die bundel, omdat hierdie digter ook binariteite opsplits en ondersoek instel na afwesigheid, pynlik verwoord in "Oggend in badkamer ná begrafnis" (112), waar die geliefde se afwesigheid beklemtoon word deur die aanwesigheid van haar grimering en die lang swart hare wat om 'n borsel gestrengel is [2].

die morning after
herken hy skaars
vanuit versonke oë
die gesig in sy spieël
vryf oor sy ken
en trek die badkamerkassie oop
kry daar haar gesigroom, ’n buisie maskara,
die borsel met
lang swart hare nog gestrengel
en draai dit ongelowig om en om
asof in ’n droom
wonder hoe dié dinge gewoond gaan raak daaraan
om nutteloos te wees

Die "afwesigheid/aanwesigheid", in navolging van Jacques Derrida, laat die leser dus op twee vlakke lees: die gedig voorhande en die gedig(te) wat skuilhou agter hierdie gedig. En dit is hierdie inspeel op 'n tradisie wat die bundel uiters genietlik maak, speels verwoord in "By die Afrikaanse Taalmuseum" (103).

In 'n gedig soos "Ontvlees" (124) is daar 'n versugting na die dood en die begeerte om ontliggaam te word. Daar is ook 'n afrekening met die verlede ("Goot" (114)). Oer- en primordiale wêrelde word geaktiveer – soos in "Likantropie" (110) en "Skroei" (111). Etlike verse aktiveer historiese verwysings – soos die kartografie van die lyf uitwys in "Register"-afdeling. Die reisgedigte is sterk en het my aangespreek – soos die aangrypende "Lens" (94), waar die foto's van kerke nie uitgedruk word nie en hierom bly god digitaal. In "Watermerk" (81) is die digterlike aksie een van natrek, naskryf – en hier hoor ons Van Wyk Louw in die agtergrond.

Die leser word ook direk aangespreek (“Verstaan/ ek het jou nodig om/ in my sinne sin te lees” (9)) en in die slotvers is daar ‘n “reprise”, ‘n terugkyk op die werkinge en tematiek van die bundel: die digitale wêreld, die liefde, sonde, die ervaring van die mistieke en religieuse (knap verwoord in “Boddhi”, waar die Oosterse denke en Christelike geloof saamgesnoer word). Die reis na en weg van die geliefde. In “Norman Bates-namiddag” (65) word daar in gesprek getree met die Britse digters wat rondom Hitchcock verse maak en ek dink hier in die besonder aan die uitstekende gedigte van Isobel Dixon: daar is ‘n skeut nostalgie, maar nooit word die gedigte sentimenteel nie:

op sy hart se kermende wieletjie
die drome toegetrek (74)

Op die keper beskou: 'n belofteryke, sterk debuut wat veel beloof vir hierdie debutant wat reeds in Nuwe stemme 'n buiging gemaak het.


Eindnotas

[1] As liefde ons verkeerd bewys

As liefde ons verkeerd bewys
& die nag in ons holtes kom lê,
& die dood ons laaste hegsels
losknip uit die lewe se patroon
sodat ons saam is, ongeheg,
asof om te sê ons liefde ken
nóg duur nóg vordering, sal ons
weet die dood is tydloos soos plesier,
& ons is net somerweerlig,
’n aprillende gier, net lewe
vir sy dood, voorbrand vir sy vuur.

Johann de Lange. Snel grys fantoom (Human & Rousseau, 1986)


[2] Eat your heart out, Van Wyk Louw

Sy het weggegaan,
maar sy bly agter:
maskara op my kopkussing,
'n swart haar in die bad,
'n besigheidskaartjie langs my bed,
'n foto en heldergeel blomme in 'n gekraakte fles.
O nee, sy het nie weggegaan nie. Sy is steeds hier.
Ek voel die sagte aanraking van haar hande en lippe
dwingend in hierdie vers wat haar behou, en terughou.

Joan Hambidge. Vuurwiel (Human & Rousseau, 2009)

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Litnet)