Bladsye / Pages

Friday, August 2, 2013

Rubriek. Die primordiale patrone van speelgoed



Vrydag 02 Augustus 2013

Sy is gek oor speelgoedwinkels en het ’n kas vol speelgoed wat sy oor die wêreld heen gekoop het. Want speelgoed is duidelik vir grootmense bedoel, meen Joan Hambidge.

Wat het ’n New Yorkse geel cab, ’n wit polisiemotor, ’n draadfiets uit Kenia, ’n skilpadjie uit Mexiko, ’n papiermotor uit Kuba, ’n bloedrooi Mini uit Londen en ’n vliegtuigie uit Nagasaki gemeen?

Dit is memento’s van reise om die aardbol.

Meer nog, dis speelgoed. Ek het ’n hele kas vol speelgoed. Speelgoedwinkels is een van my grootste tydverdrywe en ek meen dis eintlik vir grootmense bedoel.

Oor die simboliek van speelgoed is daar al baie geskryf. Op die webblad van die Universiteit van Kansas se skool vir maatskaplike welsyn sê hulle motors staan vir beweging, mag, ontvlugting, verdedigingsmeganismes . . .

En so kan ’n mens voortgaan met die soektog na betekenis. Jare gelede ontvang ek ’n geskenk van ’n vriendin: ’n Japannese zen-tuintjie met die sand, harkie, ’n boompie met Nemo daarin en die 120 jaar oue seeskilpad wat sy pa by hom uitgebring het!

Maar is dit vir ’n kind, hierdie zen-tuintjie?

Ek glo nie.

. . .

Dan is daar iets soos speelterapie soos in die kenners Schaefer en Kaduson se standaardwerke.

Nes flieks soos Toy Story, Finding Nemo en A Town Called Panic (Panique au village), Stéphane Aubier en Vincent Patar se fliek van 2009. Eintlik animasie-flieks vir grootmense. Gepak met sydelingse toespelings en slim verwysings. Interspeletjies, as u wil.

Toy Story (1995, met die regisseur John Lasseter, VSA) handel oor die lot van Woody, die cowboy wat uitgeskop word wanneer ’n beter speelding, Buzz Lightyear, sy opwagting maak.

Hoeveel keer moes ons nie al almal die pynlike ervaring verwerk dat iets “nuuts” of “beters” jou plek inneem nie? Miskien ’n nuwe broer of suster en later in ’n mens se lewe: ’n jonger, ouliker en mooier geliefde.

Juis omdat hierdie primordiale patrone aangespreek word, het so ’n fliek ’n besliste impak op die kyker.

Religie kom ook aan bod wanneer ’n poppie verlos word uit ’n ronde dobbelkas en sê: “I’m chosen, I’m chosen.”

En die cowboy weet hy is ’n speelding, terwyl Buzz glo hy is werklik ’n ruimtevaarder. In ’n pynlike oomblik sien hy op TV ’n advertensie van die speelding wat hy is. Hierdie skokkende oomblik is dan ’n soort katarsis in sy gemoed en hy pluk die “Made in Taiwan”-plakkertjie af.

Daardie oomblik van selfkennis wat ons almal al as volwassenes moes deurmaak. Wees jouself, is die subliminale boodskap.

Andy is die goeie seuntjie en die buurkind, Sid, is ’n opperste klein booswig, wat vreemde koppe op sy sussie se speelgoed sit. Boonop probeer Sid vir Buzz vernietig deur hom aan ’n vuurpyl vas te maak.

Die goeie oorwin die bose wanneer Sid se speelgoed in opstand kom.

Wanneer Woody en Buzz herenig word met Andy se speelgoed nadat hulle bykans deur Sid vernietig is, word Woody plegstatig as “sheriff” aangespreek.

Uiteindelik is Andy se nuwe speelding ’n hondjie.

Hoeveel keer moes ons nie al almal die pynlike ervaring verwerk dat iets “nuuts” of “beters” jou plek inneem nie?

Finding Nemo (2003, regisseur Andrew Stanton) is die quest van Nemo se pa wat die hardkoppige en ongehoorsame kleine Nemo terugvind nadat hy via ’n diepseeduiker in ’n tandarts se visbak in Sydney land. Dié fliek werk ook met die opposisie tussen die goeie en die bose en die onderliggende boodskap is natuurlik dat deursettingsvermoë ’n deug is.

A Town Called Panic – wat waarskynlik minder bekend is by Suid-Afrikaanse fliekgangers – is kortom een van die beste animasierolprente wat ek nog gesien het.

’n Misverstand rondom boustene (50 miljoen van hulle) wat afgelewer word as geskenk vir Perd (Cheval) se verjaardag, dryf die verhaal voort. Telkens word daar ’n ander geskenk vir Perd gesoek.

Die rolprent word beskryf as ’n “puppetoon”.

Cowboy, Indiaan en Perd se daaglikse wel en wee word beskryf met ’n wonderlike danstoneel tussen Perd en sy perdemeisie.

Cowboy is die bangbroek en word dikwels deur Indiaan uitoorlê, terwyl Perd se manewales vooropstaan.

Boonop is Perd slimmer as die Indiaan (wat ons almal as kinders gehad het: daardie plastiekspeelgoed wat op staanders is) en dissiplineer die ander twee dikwels hardhandig.

Dan is daar die boer en sy vrou – met die boer wat die vrou beslis ón-feministies hanteer.

En hoe gaan die rekening betaal word vir die verkeerde bestelling? Die huis stort in duie, die onskuldige word in hegtenis geneem en dan vlug Perd, Cowboy en Indiaan.

Om my punt finaal te bewys: Hier in ’n soort James Bond-gegewe is daar mal wetenskaplikes wat sneeuballe afvuur.

Die ingeligte kyker herken Moonraker en al die ander Bond-rolprente. Dr No (1962) en You Only Live Twice (1967), onder meer. Boonop is daar ’n baie groot grafsteen opgerig vir Moby Dick.

Perd speel klavier en vertolk klassieke musiek.

My geluksbringer is ’n baba-Boeddha wat altyd op my skryftafel staan. Bedoel vir ’n kind?

Ek dink nie so nie.

                                                         (c) Joan Hambidge

                 [Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]