Bladsye / Pages
▼
Monday, August 19, 2013
Dominique Botha - Valsrivier (2013)
Dominique Botha. Valsrivier. Umuzi, 2013. ISBN 978 1 4152 0380 4.
Resensent: Joan Hambidge
Valsrivier deur Dominique Botha is ‘n prosateks wat beweeg tussen die grense van vertelling en poësie. Dit is ‘n hártgrypende verhaal wat die jeug van die verteller en haar sibbe in oënskou neem. Die leser begin die verhaal lees van die verteller / fokalisator (wat dieselfde naam dra as die outeur) en ‘n stuk Afrikaanse verlede ontplooi hier voor die leser se oë. Die lewe op ‘n plaas in die Vrystaat en hoe jong kinders reageer op ouers, skool, politieke verskille, diereslag, onreg – en wat nog word beskryf.
Dit behoort tot die genre waarin Carson McCullers en Truman Capote so uitgemunt het: die ouer verteller wat terugkyk asof hy/sy steeds die kind is wat alles beleef het. In hierdie soort vertelling skuif die ouer persoon en kind se waarneming ooreen en die verlede word herbesoek. Die besonderhede van Valsrivier val die leser onmiddellik op en die verhaal, wat as ‘n elegie beskryf word, is in die werklikheid gebed. Die sirkelgang en sluiting is opvallend. Hierom is tyd so belangrik in die roman (198): “ons reis deur die skyn van tyd” dui op die feit dat emosionele ervarings nooit weggaan nie.
Inderdaad laat die gees sy eie grafskrif, soos die motto van Paul Botha lui. En hy is die sentrale fokus van die verhaalopset: die dag nadat hy sy polse gesny het, word die droogte gebreek. Met die suster wat begrip het vir sy lot (146): sy sien hom nie as lafhartig nie.
Die roman begin met ‘n waarskuwing dat die suster te na aan die water (die onbewuste) staan en op die keerwal vrot die oog van ‘n dooie karp weg (7). Ook haar ellendes word weergegee (soos die ervaring van menstruasie en lyflike aftakeling), maar uiters subtiel vertel. Haar kat, Lietjiebet Lotriet, speel in op ‘n kinderverhaal van ‘n brandmaer weeskind (52). Hoe kinders op skool geïndoktrineer is (soos die Voortrekkerbabas wie se koppies teen wawiele stukkend geslaan is en die kommunisme), word goed weergegee (63). Die vreemde skool in Natal het wel wonderlike humoristiese oomblikke soos die Juffrou wat vir haar sê sy moet haar trane spaar vir werklike ellendes!
Daar is ‘n besoek aan Middenspruit by ‘n digter, Antjie Krog, wat raadgee vir die jong belowende Paul. Ons sien sy talent raak in die ingebedde tekste wat die suster vir ons gee.
Die verhaal word hortend, rukkerig vertel, want die fokalisator skryf oor haar broer en algaande besef die leser hoe hy “anders” was. Van jongsaf opstandig, slim, ‘n skrywer – en veral ‘n teëprater, met die suster as sy fiksionele biograaf of optekenaar. Dit is uiteindelik háár kreatiwiteit wat oorwin sodat die elegie verander in ‘n laus. Soos daar ‘n glasbottel met ‘n boodskap ontdek word in ‘n muur, so maak die leser die geheime boodskappe mee van hierdie roman (120).
Die impak van die politiek van die tyd en die broer se opstand daarteen, bring die Weermag en die ou-Suid-Afrika sterk na vore. Die ouers se linkse politiek word eweneens ‘n silwer draad wat regdeur die roman loop. En die emosionele verwoesting wat die ou Afrikaner politiek tot gevolg gehad het.
Dis beeldskoon, hierdie debuut. En op die agterblad reken Breyten Breytenbach dat moed nie normaalweg gereken word as ‘n literêre kenmerk nie. Hier is dit wel die geval. Dis ‘n boek oor die “vals” geheime van die geheue en hoe elke leser verwond is deur jeugervaringe.
Paul waarsku: “Jou herkoms brandmerk jou vir ewig. Skryf is ‘n oorblyfsel van waar jy jouself bevind. Van hoe die seisoene verloop.” (150).
Lees dit. Dis ook as e-boek beskikbaar.
Die boek eindig met ‘n beeldskone vers:
tyd rol en sloer
soos ‘n muntstukkie gegooi
op die kim van die naderende dag
jy het my altyd vooruit geloop
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]