Bladsye / Pages

Thursday, July 11, 2013

Hennie Aucamp - Mits dese wil ek vir jou sê (2013)



Hennie Aucamp. Mits dese wil ek vir jou sê: Briewe van Hennie Aucamp, saamgestel deur Petrovna Metelerkamp. Hemel en see boeke, 2013. ISBN 9780992174347.

Resensent: Joan Hambidge

In ’n brief aan Johann de Lange (20 November 1996) skryf Aucamp dat briewe, nes dagboeke, nie net ’n lewensgang bring nie, maar ’n groot stuk sosioliterêre en sosiokulturele geskiedenis weergee.

En dis hoe ek hierdie versameling briewe lees. Enersyds ’n lewensverslag, ’n leesverslag, ’n ego-dokument, maar andersyds ’n analise van die subgenre: die brief. Briewe – met ’n stempel daarop – en briefskrywers behoort al bykans tot ’n vervloë tyd. In Laclos se beroemde roman Gevaarlike verbintenisse word briewe wapens teen mense. Volgens Aucamp maak briewe altyd van jou die eerste ontvanger. Ontvanger en redigeerder (bl. 102) teenoor eposse (wat hy nie vermeld nie) wat vinnig en dikwels ongeredigeer versend word. Aucamp bely ook hoe hy briewe oor en oor lees voordat hy dit pos.

Aucamp praat met vele mense en hierdie boek moet saamgelees word met sy dagboeke. Hoe die brief en die dagboek mekaar voed, op mekaar inspeel, is tersaaklik vir die Aucamp-leser. Aucamp is altyd in sy wese aforis en opvoedkundige. Hy leer mense hoe om te skryf, onder meer, hoe die slot van ’n verhaal daar moet uitsien en die briewe aan M.C. Botha is hiervan ’n bewys. Aucamp se Die blote storie is waarskynlik een van die beste skryfhandleidings. Dit wys ook vir die jong en voornemende skrywer hoe belangrik dit is om te lees. Jy kan net goed skryf as jy gelees het.

En wyshede is daar ook vele van. ’n Klassieke werk, aldus Con de Villiers, is nooit deur ’n spesifieke mens gemaak nie. Die spesifieke mens was net die kanaal waardeur dinge van Elders tot ons gekom het.

Vir my is die briewe aan Eybers – wat hy as Liesbet aanspreek – eenvoudig wonderlik oor hoe een kreatiewe mens op ’n ander reageer. Oor Tydverdryf / Passtime skryf hy tereg dat daar reëls in hierdie bundel staan wat voel asof hulle altyd daar was (bl. 138). In ’n mens se verbeelding kan jy Eybers se ironiese, gedistansieerde reaksie sien.

Briewe aan Elize Botha en Audrey Blignault is eweneens boeiend. “Ontydige pryse,” meen hy in ’n brief aan Botha, bl. 49, “is soos buitenseisoense ryp – dit kan die plantjie tot op die grond toe verskroei”. En “Energy is our capital”, haal hy vir Doris Lessing aan (bl. 54). In 1986 beskou hy die literêre kritiek as ’n bedryf van inteelt, naamsmousery, laster, respekloosheid (bl. 61).

Op ’n ander plek vind hy min kreatiewe rolmodelle; eerder te veel opportuniste.

Soms lewer hy skerp kommentaar op ’n medeskrywer se manier van doen (bl. 68). Hy kritiseer die skynwysheid wat die tekste bederf.

Maar dit is veral die analise van die brief se invloed op sowel leser as skrywer wat hierdie bundel so belangrik maak: “Kry ek toevallig ’n brief uit ’n vroeër periode in my lewe te lees, vervul dit my met ’n soort bevreemding: Wie is die mens wat dié brief geskryf het? Hoekom so intens? Hoekom so meedoënloos? Hoekom so weerloos? Die soektog na briewe is nie net ’n soektog na verlore tyd nie, dis ook ’n soektog na ’n verlore self. ’n Self met dowwer kontoere – of ander kontoere – as die huidige” (bl. 152). En een van die winste van die brief, meen Aucamp, is dat jy via ’n ander in dialoog met jouself betrokke raak (bl. 156).

Hy gee wenke en bly bewus van mense se belangstellings, byvoorbeeld in die Boesman-kultuur (hy verseg om die woord San te gebruik) in briewe aan Helize van Vuuren, ’n kenner in dié vakgebied.

Die verskille tussen die dagboek en brief lê vir Aucamp in publiekgerigtheid en tydshantering.

Die briefskrywer stem hom in op die temperament en belangstellings van die ontvanger van sy brief.

Die dagboek is onmiddellik; die brief lewer verslag oor ’n langer stuk verlede tyd. Hierom dan is die brief vir Aucamp ’n “surrogaat”- dagboek.

Dit is die reaksie van ’n gevoelige mens op ’n kultuurlewe en vanselfsprekend gaan ’n mens nie oral akkoord nie, soos die sieninge oor postmodernistiese ooreisings in die moderne digkuns of die kritiek op Arrie Rossouw, voormalige redakteur van Die Burger, se “sensurering” van ’n literator se ingesonde stukke (bl. 338). Dit is immers die verantwoordelikheid van ’n redakteur om toe te sien dat die letterkundige gesprek beskaafd en regverdig bly; dit is sy werk.

Dis ’n pragboek en juis hierom is dit jammer dat Ernst Lindenberg se naam verkeerd gespel word op bl. 124. Wilna (in plaas van) Wilma Stockenström (bl. 73). Annelien Kriel in plaas van Anneline Kriel (bl. 78)!

Mimi Coertze in plaas van Coertse (bl. 161).

Ge-zelle in plaas van Gezelle (bl. 286). Die dubbelpunt kort ’n spasie op bl. 165.
Ordentlikhied (bl. 292).

(Bogenoemde is vir die redigeerder se rekening.)

Dit is ’n belangrike tydsdokument: briewe van ’n intelligente, sensitiewe persoon wat Afrikaans kan beheer soos min ander.

Nou onlangs het ek ook Saul Bellow se briewe gelees en ’n groot skrywer huisves immers altyd meer as een persoon.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]