Bladsye / Pages

Tuesday, May 21, 2013

Ron Irwin - Flat Water Tuesday (2013)



Ron Irwin. Flat Water Tuesday. St. Martin’s Press, 2013. ISBN 978-1250035981.

Resensent: Joan Hambidge

Rob Carrey, ’n dokumentêre fliekmaker vir National Geographic, vlieg terug New York toe om sake tussen hom en sy geliefde, Carolyn, te herstel. Hy word egter gekonfronteer met die selfdood van ’n jeugvriend aan Fenton, ’n private skool in Connecticut. Hulle was roeimaats in die God Four-span.

Hierdie debuut vertel nie net die verhaal van roeiers aan ’n skool nie. Dit is die oppervlakverhaal, maar soos die roeiers voortbeweeg, word die roman ’n analise van trauma. Nie alleen die selfdood van die skoolmaat word beskryf nie, maar ook die verdrinking van die hoofkarakter, Rob, se suster, sy verhouding met sy geliefde as volwassene in New York en die traumatiese ervaring van ’n miskraam en dan, die slopende einde van ’n verhouding. (Was die verteller nalatig oor haar bloeding of bloot net oningelig?)

Hoofstukke wissel tussen hede en verre verlede om die impak van die pynlike selfdood te probeer bepaal. Carolyn redigeer ’n dokumentêr oor haaie – ’n duidelike vinjet van die troebel waters waarin die karakters hulle bevind.

Die roman begin met ’n brief van John Perry, wie se dood die verhaal bepaal. Hy skryf dit vanuit ’n rehabilitasiesentrum en die invloed van drank op gedrag word besonder goed geanaliseer in hierdie roman. Trouens, ek ken min romans waarin die uitwerking van alkohol so waarheidsgetrou weergegee word. ’n Kroeggeveg in Afrika wys presies wat kan gebeur. Dit word eweneens ’n oomblik van rasseverskille.

Die roman wentel om ’n paar sentrale episodes, bykans pynlike bakens. Die eerste een is die selfdood van die jeugvriend; die tweede een die dood van ’n suster; die derde een die vader se dronkbestuur-episode; die vierde een ’n dronk-episode van Rob wanneer hy homself as ’n verloorder sien (“a wicked loser”, bl. 184); die vyfde Connor se ongeluk en dan ten slotte, Carolyn se miskraam. John Perry se dood word goed voorberei in die roman wanneer hy as jong mens op ’n brug staan en spoeg (bl. 160). Terloops, maar met enorme impak, word die ervaring van die suster se begrafnis vertel: inderdaad ’n hou in die maag. Die een broer kan die ander se pyn nie verduur nie. Die roman is dan ook ’n ondersoek na hoe ons weghardloop van pyn, maar dit ons tog ten slotte inhaal.

Die roman gee eweneens ’n besondere blik op die bevoorregte lewe van Amerikaners binne die sogenaamde “blue blood” of Ivy League-bestaan. Ruth Anderson is ’n Yale-opgeleide coxswain en daar is karakters soos John Wadsworth, die “preppy laywer-to-be”, en Colin Payne uit ’n bevoorregte Massachusetts. Dis dan ook Ruth die leier, ’n helder getekende karakter, wat die selfdood aankondig van die klasmaat in ’n tyd waarin Rob se verhouding aan die opbreek is. Sy konstateer reeds vroeg in die roman dat sy kan sien wat aan die gebeur is, terwyl die roeiers daarop konsentreer om vooruit te beweeg.

“The sport is not just about brute power. Or endurance. Or the ability to suffer. Rowing in a team forces you to respond to what other men do in the boat. To adhere to a strategy. To follow commands. To put your petty gripes and prejudices and fears aside.” (bl. 65)

Die roman gee ’n raak beskrywing van New York in al sy geledinge en die eerste toneel waar Carrey en Connor handgemeen raak, word besonder goed beskryf. Die skrywer se dialoog is eweneens oortuigend en jy ruik die sweet en bloed van die karakters. Die ruimtes stink na Lysol. Boonop is dit ’n analise van Amerikaanse klasseverskille: Fenton teenoor Niccalsetti; “tools” teenoor “dorkage” (bl. 94). Outsiderskap op skool (Jumbo haat sy bynaam) en hoe kinders mekaar afknou en “score”, word waarheidsgetrou beskryf. Soos ook die skoolreünie waarin daar ’n kritiese blik gegee word op die Fenton-skool.

Maak jou reg vir een van die beste romans van hierdie jaar. Dit is ’n pakkende roman sonder enige redigeer- of taalfoute.

Die Bob Dylan-motto som dit alles op: ”Behind every beautiful thing, there’s been some kind of pain.”

Die roman word tereg aangeprys deur J.M. Coetzee op die buiteblad en Ron Irwin is ’n voormalige student van Coetzee. Irwin het ’n ryk geskakeerde roman geskryf waarin al die vlakke verbind word en al die simboliese toespelings by ’n tweede en derde lees netjies op mekaar inspeel. Die volgehoue beelde wat met roei te make het, word netjies verbind.

Die slot is kompleks en laat verskillende interpretasies toe.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]