Bladsye / Pages

Sunday, May 12, 2013

Carié Maas - Koljander (2013)



Carié Maas. Koljander. Human & Rousseau, 2013. ISBN 978 0 7981 5926 5.

Resensent: Joan Hambidge

Koljander het die debuutprys verower in die Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012 toe Ingrid Winterbach met die groot prys weggeloop het. Dit gaan die hele tyd in hierdie roman om twee wêrelde: jeug en hede; kunssinnigheid teenoor sinisme/ wetenskap; Suid-Afrika teenoor Mali (Wes-Afrika); skryf teenoor orale vertelling (griot). Die roman se voorblad rig dan ook die leser na hierdie, vir die meeste Afrikaanse lesers, onbekende, eksotiese wêreld. Boonop is die roman van ‘n baie handige leesgids voorsien wat ‘n mens help om baie van die Timboektoe-feite korrek te interpreteer. In Afrikaans, sover my kennis strek, het veral Antjie Krog hierdie gegewe diepsinnig gekarteer in haar digkuns (Kleur kom nooit alleen nie) en in ‘n Ander tongval. In haar bedankings word die naam van wyle Gretel Wÿbenga vermeld – tereg ook, want hierdie skrywer en letterkundige het enorm baie waardevolle werk gedoen met tekste wat buite die normale verhaalgang beweeg. Daar is ook toespelings op Wilma Stockenström se Die kremetartekspedisie (43).

Hierdie roman gee ‘n besondere blik op trauma en hoe families swaardra hieraan. Meer nog, die ervaring van vroue se trauma en pyn word werklik besonders weergegee in hierdie teks. Die vroulike verteller neem haar ma se dagboek saam (dit word in kursief gedruk) om die moeder se lyding te probeer begryp. “Stilte kom vanself”, lees ons,” Dit is ‘n pantser teen die weldenkende bemoeienis wat die versterking in ‘n gees, hoe weifelend ook al, weer kan lostorring. Stil smart pas in die hart soos ‘n gladgewaste stuk seep in ‘n reisbakkie”(246). Hoe die moeder nie kan uiting gee aan háár pyn voor die berader nie, word besonder knap vertel. Dis volgende keer u beurt, mevrou, verneem ons. Uiters verminderend dus teenoor die vrou wat ‘n stilgemaakte is.

Die dood van die broer is dit wat die vertelling voortstu. Hieraan gekoppel, die verwerking van van sy dood en hoe daar klarigheid moet kom oor aandadigheid, al dan nie, en vergifnis. Die geboorte van ‘n kind aktiveer al hierdie emosies.

Die oppervlakverhaal handel oor Karen Verhoef se lewe en haar verhouding met haar siniese vader, Hendrik, ‘n fisikus. Verskillende opposisies, soos hierbo genoem, word in die teks uitgewerk: wit teenoor swart Wes-Afrika, verlede teenoor hede, jeugervarings teenoor ‘n volwasse lewe, ensomeer. Karen is ‘n ontwerper en haar besoek na Mali vergestalt ‘n innerlike reis, saam met haar gids, Oumu. Die beskrywings van haar baba is lewensgetrou. So ook die reaksie op die gesteelde manuskrip en reisgids.

Maar die opposisies word ondermyn deur die sirkelgang van die beweging terug in die tyd. Met elke ervaring word dit anders verstaan en in die gemoed van Karen geïntegreer. Haar verskillende verhoudings – veral met haar man, haar vader, haar kind, Oumu en ‘n geliefde – word deur ons beleef.

Uitstaande in hierdie vertelling is die poëtiese beskrywing van Timboektoe:
“Is Mali die aardse prag van sy modderdoek? Is hy die verwikkeldheid van sy boukuns en sy wêrelderfenismoskees? Is hy die arbeidsaamheid van die vroue wat mannakoring stamp en die vissers wie se liggies donkernag nog op die Niger flits? Is hy die koraklanke en rinkelende kalbastamboeryne wat Oumu se neef op ‘n CD het of die intellektuele tradisie van die horingoue manuskripte met die goudkalligrafie wat sy nog saam met haar pa op die uitstalling in die Kasteel in Kaapstad gesien het?” (236).

Dit is dan ‘n teks wat vra om ‘n Jungiaanse lesing. Daar is sowel ‘n buite-reis as ‘n reis na binne om helderheid en klaarheid te vind. Die werklike reis teenoor innerlike reise van die vader, die ander verteller, en die dogter wat tot klaarheid probeer kom, word teenoor mekaar geplaas. Jung teenoor Heisenberg se onsekerheidsbeginsel.
Vir Karen is die reis ‘n suiweringsritueel, ‘n hadj (135), ofskoon sy deelneem aan ‘n wedstryd as ontwerper. Hier is eweneens subtiele kritiek ingebed: hoe sy as deelnemer (daar is ‘n Visi-onderhoud) meer werk sal kry. Wat sy egter meemaak, is nie ‘n glansblad-ervaring nie. Haar baba huil, dis warm, daar is setpille, die petrol is duur, die oorstaanplekke is karig en beskeie.

Die verskillende aspekte van slawehandel, spesery-roetes en die betekenis van sout en suiker word ondersoek.  Die boek getuig van diepgaande navorsing en wanneer ‘n mens al die nuanses optel, word dit ‘n besondere leeservaring waarin verskillende aspekte van menswees ondersoek word, soos finansiële ellende, ‘n buite-egtelike verhouding, die invloed van die wetenskap/genetika, gesprekke met mense wat buite die normale orde beweeg, gestremdheid, moederskap, expats,  ensomeer. Veral Oumu se situasie is gelaai met soveel ironie.

Daar is vele ingebedde tekste soos die storie van Sunjata en hoe ‘n Westerse mens die kodes van Afrika nie reg verstaan nie. Met vooropgestelde idees gebeur misverstande, maar met ‘n gids word daar anders gekyk na hierdie wêreld. Die kind se naam is Pikaninie en die titel, Koljander, aktiveer eweneens ‘n kinderrympie.

Karen se psige word gekarteer deur logika en selfbejammering wat bots met mekaar (127) en as kind was sy ‘n gedrewe naelloper – wat die leeservaring rig van ‘n komplekse karakter. Die konfrontasie met die vader wanneer sy met ‘n mes staan om ‘n medisynebottel oop te maak en hy dink sy gaan haar kind leed aandoen, speel terug op die dood van die vader. Elke oomblik in die hede beweeg dus terug op ‘n oomblik in die verlede.

Dit is ‘n boek wat getuig van geweldige navorsing wat die vertelling amplifiseer. Die Boereoorlog, Cass Abrahams, VLU, wat nog, gooi hier ‘n draai.

Een punt van kritiek: soms wil die skrywer te poëties “klink”.

‘n Mens moet glimlag vir die siniese kommentaar oor wat romans moet doen om die aandag te trek! (Magiese realisme plus die pouveer op die voorblad…), 35.

“As mens skryf, wil jy tog seker gelees word?” (239), vra die verteller. Bepaald en ‘n mens kan byvoeg. As jy goed skryf en interessante knope maak vir jou leser soos in hierdie roman, verdien jy bepaald om gelees te word.

Dit is ‘n besonderse voorblad. Soos Sunjata moes die karakters vér reis en weggaan uit ‘n geboorteland om hulself beter te begryp.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]