Willem van der Walt. Lost
boys. Oxford University Press, 1998. ISBN 019 5715187.
Resensent: Joan
Hambidge
Die roman vertel die publisiteitspamflet is geïnspireer
deur Leonard Bernstein se West Side Story,
waarskynlik een van die mees suksesvolle musicals nog. As 'n mens dink aan die
musiek, die choreografie, die verhaal dan kom 'n mens diep onder die indruk van
Bernstein se briljansie.
Lost boys aktiveer hierdie selfde gegewe, naamlik die lewe van
die 'gangs', maar binne 'n herkenbare Suid-Afrikaanse samelewing: die Kaapse
Vlaktes. Meer tydig kon die vertelling dus nie wees nie, omdat dit inspeel op
ons kennis van hierdie soort bestaan.
Die boek is gemik op jong lesers en hierom moet 'n mens
dan die boek anders evalueer. Dit is geen groot roman nie, en pretendeer ook
nie om dit te wees nie. Dit wil daardie gaping vul vir jong volwassenes wat
moeg is om deur onderwysers (en ouers!) onderskat te word.
Ek onthou toe ek as hoërskoolkind Run baby run gelees het, het my ouers bykans die pipparellakoors
gekry en ek moes lieg en sê dis 'n voorgeskrewe boek! Genadesydank, Van der
Walt praat nie af na sy lesers nie. Hy hanteer hulle as gelykes, die toetssteen
vir 'n verteerbare jeugboek.
Die roman word ook voorsien van 'n handige glossarium
ten einde die Kaaps en sleng te verduidelik. Miskien is dit tog nodig om hier
'n vraag voor die deur van die outeur te lê: sou die boek nie beter in
Afrikaans gewerk het nie?
Begrippe soos “mos” en “broe”; of “issit djy”of “foef-foef”
(wat vertaal word as hanky-panky) maak hierdie teks hibridies. Bykan soos 'n
stuk weefwerk waardeur daar rooi garing loop. 'n Mens ervaar, terloops, ook
dieselfde probleem wanneer jy Suid-Amerikaanse romans in Engels lees: iets van
die outensiteit gaan verlore al word 'n mens van 'n glossarium voorsien.
Dis geen kritiek nie. Dis net 'n vraag. En miskien kan
die skrywer vir ons 'n volgende roman in Afrikaans lewer?
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]