Bladsye / Pages

Monday, March 25, 2013

Wally Lamb - I know this much is true (1999)



Wally Lamb. I know this much is true. HarperCollins Publishers, 1999. ISBN 0 00 225894 3.

Resensent: Joan Hambidge

Gedeeltes van I know this much is true het voor die verskyning in romanvorm in afsonderlike gedeeltes in tydskrifte verskyn soos onder meer die Northeast Review, Missouri Review, om enkele publikasies uit te sonder. Dit het waarskynlik te make met die ongelooflike voorskotte en dat skrywers binne die VSA hulself met kreatiewe skryfwerk kan onderhou.

Wally Lamb is die skrywer van She's come undone – aan my onbekend – en die jongste I know this much is true was op die New York Times se besverkoper-lys, wat 'n geweldige media-dekking impliseer en geldelike sukses beteken. Die roman beslaan by die 900 woorde.

Die roman vertel die verhaal van 'n identiese tweeling wat slegs fisies ooreenstem. Geestelik is die een verward, die ander 'n doener. Dominick en Thomas is egter altyd onlosmaakbaar verbonde aan mekaar (bloed is dikker as water). Dit is 'n roman van die “dubbelganger” wat al met groot welsale in die romankuns uitgevoer is, soos onder meer in Patrick White se skitterende The solid mandala.

Die leser bekend met die Jungiaanse sielkunde kan nie die gegewe loslees van die ek en skadu nie en die geweldige projeksies wat tussen mense bestaan nie.

Dit is 'n roman wat my ontroer het en ook ontstig het. Die navorsing wat in die bibliografie erken word, het hierdie leser onder meer geprikkel om te kyk na die verband tussen Heinrich Zimmer se The king and the corpse: Tales of the soul's conquest of evil (Princeton, 1993) en die implikasie van die bose. Ook verwys hierdie roman Carol S. Pearson se The hero within: Six archetypes we live by (HarperCollins, 1986) wat my intuïtiewe Jungiaanse lesing bevestig.

Dit is 'n roman wat verslag lewer van 'n pynlike individuasie of heelwording en die wete:”I am not a smart man, particularly, but one day, at long last, I stumbled form the dark woods of my own, and my family's, and my country's past, holding in my hands these truths: that love grows from the rich loam of forgivenss; that mongrels make good dogs; that the evidence of God exists in the roundness of things. This much , at least, I've figured out. I know this much is true”(p. 897).

Die Italiaanse verwysings is goed geïntegreer en diegene wat die film The bicycle thief ken, sal ook snap waarom die vrou huil wanneer sy dit kyk.

'n Roman wat werklik menslik is en lekker lees. Die verskillende drade word goed saamgeweef ten slotte en ja, waarskynlik word daar te opsommend hier teen die einde vertel. Maar dan was die roman waarskynlik nog langer!

Die leser bekend met die Jungiaanse sielkunde kan nie die gegewe loslees van die ek en skadu nie en die geweldige projeksies wat tussen mense bestaan nie.

Dit is 'n roman wat my ontroer het en ook ontstig het.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]