Bladsye / Pages

Monday, March 4, 2013

Sarah Johnson - Personae (2004)



Sarah Johnson. Personae. UCT Younger Poets Series no. 3. Snailpress, 2004. ISBN 1-874923-68-X.

Resensent: Joan Hambidge

In hierdie suiwer debuut van Sarah Johnson, ‘n digter wat veel beloof, word die leser reeds deur die titel Personae gelei na die ars poetica van die digter. ‘n Veelheid van stemme word gehoor en die digter speel buikspreker en nabootser. Hiermee sluit sy aan by ‘n lang poëtiese tradisie van Yeats, Eliot en Wallace Stevens waarin die ‘ek’ verhul word en deur ‘n personasie praat. Ook die aanskoulike omslag van Gretchen van der Byl wys op hierdie verwringings- of verdraaiingsproses: blomme in blompot word deur ‘n venster of patryspoort of dalk sleutelgat beloer. Of  selfs ‘n camera obscura. Die leser se verbeelding word wakker gemaak en die verskillende assosiasies wat gevorm word, speel ook in op die gedigte wat van oortuiging en volwassenheid getuig.

In die programvers “Ham” word daar ook uiting gegee aan ‘n religieuse belewenis van die werklikheid. Wanneer sy praat deur “Ham”, die seun van Noag, neem sy konkreet en beeldend waar. Sterk beeldend word die ervaring van die eerste vloed gegee. O.a. lees ons: “the sky is bright / like an eye before it weeps”. Dit is egter nie net ‘n gedig oor die Genesis-verhaal nie, maar dit word ook ‘n gedig oor die primordiale en hierom dan ‘n belewenis van die digterlike onbewuste. Ook die ervaring van die liefde word sensueel beskryf met die liggaam van die vrou wat ‘n ark word. Daar word dus weggeskryf van die self en ‘n komplekse gedig word ‘n ars poetica, ‘n gender-analise en ‘n beskrywing van liefdesobsessie. In “Theomachy” word twee ‘godsdienste’ teen mekaar geplaas: die religieuse belewenis in ‘n kerk en die digkuns wat die spreker oorval. Ook word beleef hoe die hemelruim eintlik alreeds ‘n teks is. Die digter tree ook in gesprek met ander digters soos in “Quotidian” met die verslag van alledaagse aftakeling wat siekte inhou en hoé uitgelewer ‘n mens is aan simpatie en begrip. Dit is ‘n uiters volwasse vers vir ‘n jong digter. In die die aangrypende “Writer’s block” illustreer die digter nogmaals haar vaardigheid. Sy stel ‘n man aan die woord en sy vrees dat hy nie meer sal kan uiting gee in woorde nie, word in terme van ‘n litanie, mantra en gebed beskryf.

“Potiphar’s wife” word sensueel in haar ónvervuldheid beskryf, terwyl “Lunching” ‘n intieme vriendskap buite die seksuele domein beskryf en wys op die belangrikheid van verstandhoudings waarin begrip hoër as romantiek geag word. Hierteenoor staan “Delilah” wat inspeel op verleiding en die effek daarvan op die psige. Waarskynlik vind ons al die digter se poëtiese talente die duidelikste na vore kom in die voortreflike “Bathsheba” waarin sy haar vereenselwig met die lot van hierdie Bybelse figuur.

Die manjifieke “Symposium” analiseer begeerte in al sy vorme: opwinding, verkilling, gewoonte en ‘n nuwe persoon wat dit aanwakker. In hierdie gedig word ‘n mens bewus van die digter se fyn waarnemingsvermoë en hantering van sub-teks. “At the crib”, met sy gelade einde, aktiveer die moedergedigte van Sylvia Plath en Antjie Krog en gee ‘n unieke perspektief op die kind wat buite die ouer bestaan en ‘n lewe gaan hê. “Found photograph”, waarskynlik uit die perspektief van ‘n kind wat ‘n foto ontdek, lewer kragtige kommentaar op voyeurisme en hoé foto’s onbedoeld meer kan oordra aan die kyker. Ook “After Bonnard” verdien vermelding: die digter vang die erotiese oomblik in helder, konkrete beelde vas asof háár belewenis van erotiek gelyk gestel kan word aan die objek s’n.

“Peter’s dream” aktiveer die verraad teen Jesus en die onmoontlikheid van selfvergifnis. In “Immaculate” word die heilige bevrugting gelyk gestel aan die digterlike proses. Soos in “Sighting” waar die digter intree en uit ‘n transgressiewe daad iets digterliks maak.

Die digter se vermoë om die paradoks te hanteer en gedistansieerd, dus buite die self, waar te neem, maak van hierdie debuut ‘n genoeglike en belangrike een. Sy dig dikwels oor iets grensoorskrydends, magies, insestueeus, maar altyd aangrypend. Digterlike taal beweeg in die 'chora' die baarmoederlike terrein soos Kristeva aangetoon het. Hierom gee al die gedigte 'n beeld van skadukant, die inbeweeg teen die aanvaarbare en ook in haar taalgebruik manifesteer hierdie reis na die pre-simboliese.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

No comments:

Post a Comment