Roddy Doyle. A
star called Henry. Random House, 1999. ISBN: 0 224 06019 8.
Rose Tremain. Music
& Silence. Random House, 1999. ISBN: 1 86056 027.
Resensent: Joan
Hambidge
Hierdie resensie betrek twee jongste Britse
romanskrywers se werk. A star called
Henry (by Jonathan Cape)is Roddy Doyle, die wenner van die Booker-prys vir Paddy Clark Ha Ha Ha, se “antwoord” op
sy mede-Ierse skrywers Frank McCourt se Angela's
ashes en Seamus Deane se Reading in
the dark, wat Ierse armoede uitbeeld soos wat dit is. Aartappelspruite wat
groei uit kinders se klam klere, drankmisbruik, geweld en koue is tematiese
kenmerke.
Doyle is waarskynlik bewus van die aandag wat beide
skrywers getrek het, veral om die
eerlikheid en die genadelose vertel van hoe dit is. Maar net voordat 'n mens
onrustig raak dat hy bloot op 'n literêre “band wagon” gespring het, word jy
diep getref deur die verhaal van ene Henry - alreeds vanuit moedersmaag bewus -
oor die kondisies in Dublin.
Doyle is meer van 'n literêre skrywer as sy twee
landgenote. Die emosies word dus meer getemper en in beheer gehou en die leser
is dan ook bewus van die tegniese spel. Maar dis 'n wonderbaarlike roman wat
opnuut bewys dat Roddy Doyle op skaars 41 van skryf baie weet. Hy is immers ook
'n skrywer wat dit al kon presteer om 'n hele roman nét met dialoog te vertel,
sonder enige ander beskrywings
daaromheen.
A star called Henry speel aan die begin van die eeu af en is 'n historiese roman.
Henry Smart is 'n soldaat in die Ierse leër. Later word hy deel van die
vryheidsbeweging met sy vader se houtbeen as sy wapen. Hy word een van Michael
Collins se agente en 'n nasionale held. Die Ierse bloedige geskiedenis word
hier gesubverteer en Doyle vertel ook van 'n liefdesverhouding midde van die
geweld.
Tog bly die eerste gedeelte van die roman vir my gevoel
die sterkste. Daar waar hy as jong kind sy fantasieë uitleef. Die tweede helfte
is 'n iets prekerig.
Heeltemal in 'n ander sleutel, ofskoon ook 'n soort
historiese roman, is Rose Tremain se Music
& Silence wat sopas by die gesogte Chatto & Windus verskyn het.
Hoewel sy nog net die kortlys van die Bookerprys gehaal het, kan sy aanspraak
maak op die James Tait Memorial Prys en die gesogte Prix Fémina Etranger en 'n
handvol ander onbekende toekennings.
Haar jongste is in die tradisie van Restoration en hierdie leser meen dat haar The cupboard 'n goeie boek bly.
Music & Silence speel in 1629 af en Peter Claire, 'n luitspeler, meld
hom aan by die hof van Koning Christiaan die Vierde om lid te word van die
Koninklike Orkes. Die roman speel duidelik in op bekende psigoanalitiese
simboliek. Die orkes speel in die kelder (die onbewuste) en die roman werk dus
met sterk simboliese opposisies tussen lig en donker; die goeie en die bose.
En die aksie? Natuurlik die liefde, want as die
koninklike engel raak hy verlief op 'n mooie dame wat op die koop toe die
vriendin is van die Koningin, 'n rietkooi-nooi. Die konigin Kirsten en dinge is
ook nie meer lekker tussen haar en die Koning nie.
Natuurlik is Peter Claire die agent in narratologiese
terme wat die hele spul in beweging hou en ook die prys moet betaal vir sy
verdeelde lojaliteite. Tereg kan 'n mens die struktuur van die sogenaamde fabel
of feëverhaal op hierdie roman van toepassing maak en dit is dan ook relevant
om Vladimir Propp se Morphology of the
folktale te betrek waar elke karakter in sodanige verhaal 'n spesifieke funksie het. Met die
voorspelbare uiteinde vir die een wat optree as die katalisator of beweger
tussen twee opponerende magte.
Gaan Peter Claire gered word? Sal hy sy luit verloor
soos Rooikappie haar onskuld? Sal daar 'n redder wees?
Alle grappies op 'n stokkie: Ms Tremain skryf vlot en
veral vir diegene wat hou van 'n roman met 'n historiese aanslag, sal hierdie
roman boeiend vind.
Dit moes ernorme navorsing gekos het om 'n roman in 'n
ander situasie te situeer, maar waarskynlik sal ons al hoe meer romans vind
hier teen die einde van die millennium wat so terugkyk op die ou wêreld met sy
dieper waardes.
Dis net jammer dat albei romans R145 kos - verdomp duur Random
House!
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]