Robert Pinsky. Jersey
rain. Farrar, Straus & Giroux, 2000. ISBN 0 374 17887 9.
Resensent: Joan
Hambidge
Hoeveel Amerikaanse digters het nie al die landskap van
die Engelse digkuns verander nie? Walt Whitman, Emily Dickinson, Robert Frost,
Robert Lowell, Adrienne Rich om enkele name uit te sonder - en in meer moderne
tye is die digters Mark Strand, Frank Bidart en Robert Pinsky soos 'n New
Yorkse skyline: groot en imposant.
Tans is Robert Pinsky die poet laureate van die VSA. Hy behartig dan ook die sogenaamde
Slate-projek waarin almal vir hom gedigte kan stuur. Dit word op die internet
geplaas en van Bill Clinton tot 'n trokdrywer se gunstelingvers is hier
beskikbaar (kliek op yahoo.com). Hiermee wil Pinsky bewys dat gewone mense ook
gedigte lees en waardeer.
Sopas het Pinsky se jongste bundel Jersey rain by die gesogte Farrar, Straus & Giroux verskyn. By
die Harvard Square boekefees begin Mei lees hy uit hierdie bundel voor.
Pinsky skryf 'n gestroopte vers en die jongste bundel se
temas betrek die god Hermes: god van musiek en vervalsing; die briljante
boodskapper van die gode...
Dit is altyd 'n bonus om 'n digter uit eie werk te hoor
voorlees. Pinsky lees sy verse met totale gevoel en hy verduidelik ook waar hy
vandaan kom. As arm werkersklas kind dog hy hulle behoort tot die rykes, want
daar is soveel stories en legendes dat hy dink hierdie familie moet adelstand
wees. Dis eers wanneer hy ouer word dat hy begryp: ons bly tussen ander
uitgedruktes. Ons is arm. Ook word sy digkuns bepaal deur die dramatiese siekte
van sy moeder: sy val en doen harsingskudding op.
Sy hele jeug word bepaal deur hierdie proses: sy moeder
kan geen lawaai verduur nie en in die manjifieke gedig “The green piano”(p. 33)
word hierdie geskiedenis verhaal. Dit is ook die verhaal van 'n kind se sosiale
bewuswording en digterlike waarneming:
Years of the Concussion, and there was a crappy little
Baldwin Acrosonic
In your place, gleaming, walnut shell. You were gone,
despoiled one -
Pink one, forever-green one, white-and-gold one,
comforter, a living soul.
Die openingsgedig van die bundel is die eenvoudige “Samurai
song”:
When I had no roof I made
audacity my roof. When I had
no supper my eyes dined...
Die leser is bewus van die digter se volgehoue liriese
aanslag en sy woordbeheer. In “Ode to meaning”(p. 5) word die funksie van die
digkuns onder die loep geneem. Pinsky gebruik sowel die geleerde of antieke
verwysings as 'n populêre sinspeling (soos Bogart wat rook of 'n bofpalspeler)
om maksimale effek te bewerkstellig. Sy bundel sit vol wyshede (“Others are not
the medicine for loneliness”, p. 8).
Daar is ook gedigte wat skrynende sosiale kommentaar
lewer: almal is meneer en mevrou, maar die swart busbestuurder word op sy
noemnaam aangespreek.
Dit is gedigte wat dikwels eenvoudig en maklik oorkom,
maar met elke lesing word nuwe betekenisse oopgemaak. As jong kind het hy
eerder woordeboeke gelees as om huiswerk te doen. In 'n lang gedig “Essay on
psychiatrists” (in The figured wheel)
word hierdie bedryf aan die kaak gestel. Dit gaan in hierdie digkuns om die “vorm
van die hart” en die mens se soeke na geluk, dikwels ontglippend, maar ook soms
onverwags te vind in klein epifaniese momente.
Dikwels kan pyn en geluk in herinnering ook nie
onderskei word nie:
That they have no earthly measure
is well known - the surprise is
how often it becomes impossible
to tell one from the other in memory;
the sadness of past failures, the strangely
happy - doubtless corrupt -
fondling of them. Crude, empty
though the terms are, they do. (p. 227: The figured wheel).
In die prosagedig “An alphabet of my dead” (p. 11) maak
die digter 'n bestekopname van almal wat hy al aan die dood moes afstaan. Sy
waarneming van Elizabeth Bishop en e.e. cummings is in die kol: hoe Bishop dood
is voordat sy 'n gerekende digter geword het en cummings se anti-Semitisme die
digterspreker nou afskrik.
Daar is talle verse waarin die digter die funksie van
die digkuns analiseer. In die slotvers “Jersey rain”(p. 52) bely hy:
Now near the end of the middle stretch of road
what have I learned? Some arthly wiles. An art.
That often I cannot tell good fortunes from bad,
That once had seemed so easy to tell apart.
As digter het hy maar eers in 1975 op die toneel verskyn
met Sadness and happiness, die gedig vir
sy dogter: An explanation of America (1979),
History of my heart (1984) en The want bone (1990). Hy is ook die skrywer van vele essays oor die funksie van
die digkuns.
Pinsky is ook 'n begenadigde vertaler van Dante (The inferno of Dante, 1994) en sy versameling
The figured wheel (1996) is gewoon imposant. In die VSA bewys hy ook, eiehandig, dat
gewone mense gedigte lees en nodig het. Hierdie leser is lanklaas so bekoor
deur 'n digter se oeuvre.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]