Philip Roth. The
human stain. Jonathan Cape, 2000. ISBN 0 224 06090 2. [2]
Resensent: Joan
Hambidge
Party romanskrywers het dit gewoon net. So een is Philip
Roth. Met elke roman is hy meer aserbies, prikkelend, onderhoudend en
vernuwend. The human stain ondersoek
die debakel rondom 'n vermeende klag van
rassisme en die effek wat dit op die hoofkarakter se lewe het.
Coleman Silk se gebruik van die woord “spooks” (onwetend
dat die afwesige studente wel swart is), het 'n funeste uitwerking op die
kollege Athena. Natuurlik is Koning
Oedipus van Sofokles 'n interteks en die impeachment-verhoor rondom Bill
Clinton.
Nathan Zuckerman is weer die romanskrywer in hierdie
metaroman wat vooroordeel en politieke korrektheid tot op die been oopsny. Op
die koop toe begin die hoofkarakter 'n verhouding met 'n 'ongeletterde' vrou
wat toe wel kan lees. Ook is Silk ('n klassikus) se antagonis 'n vroulike
dosent.
Hier word heerlike steke uitgedeel na die moderne
literatuurteorie en die groot geleerdheid. Die vroulike kollega se gebruik van
e-pos ten einde 'n vendetta teen die protagonis te begin, is werklik
verbluffend hanteer.
Nes jy dink jy het die “waarheid” beet, ondermyn die
vertellende instansie dit. Dis 'n onderhoudende roman: by tye woedend oor die
leuenagtigheid van die Amerikaanse gemeenskap wat so deur die “vicarious
thrill” op ander se psiges ry, maar terselfdertyd 'n briljante gesprek met die
akademiese roman vanaf Mary MacCarthy, David Lodge, Saul Bellow tot by J.M.
Coetzee.
Philip Roth se jongste roman maak 'n analise van die
moderne samelewing (en al sy ekstensies soos e-pos, selfone, Viagra) en hoe
alles nog steeds deur ou waarhede gereguleer word.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]