John Grisham. A
painted house. Centry, 2001. ISBN 0 7126 7039 4.
Resensent: Joan Hambidge
John Grisham het 'n niche binne die sogenaamde “court room
drama”-roman. En omdat hy 'n eks-regsgeleerde is, is hy seker van sy feite.
Boonop skryf hy vlot en leesbaar en is daar min skrywers wat 'n spanningslyn so
goed kan volhou as Grisham.
By vakansieoorde is sy romans altyd aanwesig; net soos by
lughawens. Hierom is sy jongste roman A
painted house minder suksesvol, want die skrywer probeer nou “ernstig”
skryf en by die “Great American Novel” aansluiting vind.
Dis leesbaar. Maar gee eerder die romans waar mense mekaar
opkeil in howe as die verhaal van die jonge Luke Chandler in Arkansas. Daarvoor
lees ons Faulkner, of nee, Truman Capote se puik jeugverhale. Waarskynlik sal
sy aanhangers betower wees deur die semi-outobiografiese aanslag. Dit mis egter
die diepgang van die klassieke in sy soort.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]