Johann Lodewyk Marais. Aves. Protea Boekehuis, 2002. ISBN 1919825 51 7.
Resensent: Joan Hambidge
Om ‘n eenheidsbundel te skryf, vra geweldige
deursettingsvermoë en waarskynlik ook die krag om te kan komponeer. Die digter
Johann Lodewyk Marais se jongste bundel Aves
– Gedigte is ‘n bundel geskryf rondom die natuurtematiek. ‘n Mens roep T.T.
Cloete se Met die aarde praat in die herinnering op en natuurlik die ryk
tradisie van landskap- en dier-gedigte in Afrikaans.
In hierdie bundel met sy fokus op voëls. Die digter
verskaf ook die wetenskaplike naam en die gedigte word interessante analises
soos “Swaan” (Cygnus olor):
Jou swanehals buig tot ‘n vraagteken,
digterlike voël, ontuis in my land. (p. 27)
‘n Werklik aangrypend vers is die programgedig oor Darwin
wat ook ‘n gedig word oor die digter se alleentaak in sy kreatiewe omgaan met
die wêreld om hom:
Alles begin hier
en dit sou die man voortaan lewenslank
in sy studeerkamer gevange hou. (p. 13)
“In die begin”(p. 14 word ‘n gesprek met die vader wat
die kind se belangstelling in die natuur wek. Prozesky se Ons voëls word by die
Havenga Boekhandel bestel. Ironies genoeg het die boek geen prente nie. Dit
word ‘n ironiese kommentaar ook digkuns en hoe moeilik dit is om die natuur in
‘n gedig te representeer.
‘n Gedig soos “Voëlkyk”(p. 15) is ‘n spirituele gedig
waarin verklaar word dat God geen ornitoloog was nie. Dit word ‘n skitterende
vers oor waarneming, ‘n bykans Heideggerriaanse aanmaning dat
sonder nes,
sonder boom, sonder tak
sonder oggendson, sonder skemering
en sonder die
mens bestaan hulle nie.
Elke gedig, so gelees, word ‘n gedig oor betekenisgewing.
Die digter se gesprek met Pablo Neruda word ook hier
voortgesit in “Grootmalmok” (p. 20) met die ‘wet van die wind’ wat die gang van
alles bepaal. Neruda en Darwin is belangrike name vir hierdie bundel. The Origin of the Species en Neruda se
lang verse oor die natuur in sy epise vers oor Macchu Picchu word hier
belangrike intertekste vir die bundel wat enersyds die posisie van die mens as
evolusionêr sien, en andersyds ook klem lê op die spirituele soeke wat
onvermydelik deel geword het van hierdie digterlike soeke.
Hierom te verwagte ‘n vers na Albert Schweitzer
(“Kleinpelikaan”, p. 21) en ‘n vers oor Marais (“Passasier”, p. 58). Met min
woorde evokeer die digter ‘n soeke na hierdie passasier (“Ek soek na ‘n
naamlys. Niks.”) wat weer op sy beurt vele van marais se tekste oor die
naturwetenskap aktiveer, ‘n onderwerp waarin die digter gepromoveer het.
Daar is doodgewoon aangrypend mooi verse in hierdie
bundel wat so skerp na alles kyk soos in die klein “Wenk aan ekotoeriste”(p.
60):
Vergeet tog die cliché van die Groot Vyf.
Kyk, op die gerafieke kameelperd
Sit ‘n rooibekrenostervoël en pik
Aan die bosluisbuffet van kop tot stert.
Dit gaan in hierdie bundel om meer as die natuur of
landskap. Deur middel van die landskap, word die herinnering aan die vader
bestendig. Die vader is hier die een wat die kind leer om na die natuur te kyk
en te orden. Vanuit ‘n Lacaniaanse perspektief sou ‘n mens ook hier kan kyk in welke mate die Vader die simboliese orde
verteenwoordig binne die gemoed van die jong kind. Deur te klassifiseer, op te
noem word die pre-simboliese bestaan (die domein van die moeder) verlaat. In
vele gedigte het die digter al beslag gegee aan die vader en die verhouding met
hierdie vader wat die bron is vir sy gedigte.
Marais skryf ‘n sober, bykans eenvoudige praatvers. Dit
lyk ‘eenvoudig’, ‘maklik’ juis omdat die gedig so goed afgewerk is. Met hierdie
bundel bestendig hy sy reputasie as digter.
Dit is ook natuurlik ‘n veer in die hoed vir Protea
Boekehuis wat die digter uitgegee het wat al die jare by Human & Rousseau
verskyn het.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]