Jean du Plessis. Oor
gay wees. Tafelberg Uitgewers, 1999. ISBN 0 624 03777 0.
Resensent: Joan Hambidge
Die briewekolom van Die
Burger lewer tans skerp kommentaar op die Sinodale verslag oor
homoseksualisme en die kerk. In Oor gay
wees van Jean du Plessis, 'n kliniese en opvoedkundige sielkundige,
behandel die sieninge, wanopvattinge, mites en vooroordele rondom gay-wees. Die feit dat ons in die jaar 1999
nog die vooroordele moet aanhoor, bewys dat Du Plessis se boek uiters tydig is.
Vir my siniese gevoel is die briewe in dagblaaie eerder
'n bewys van hoe diep die wanopvattings nog ingeburger is, by wyse van spreke.
Ook in die letterkunde bestaan die debat: moet gay-skrywers as 'n aparte groep
hulself posisioneer of moet hulle opgeneem word binne die hoofstroom van die
letterkunde?
Die selferkende gay persoon sal kan verklaar dat die
eerlike en openhartige gay-standpunt nie altyd 'n gewilde een is nie. Dit lei
paradoksaal juis dikwels tot viktimisasie of etikettering. Ook kan skrywers wat
die gay-onderwerp al aangepak het, weet hoe alleen die gay tekste die aandag
trek en die hele oeuvre as't ware skeef getrek kan word.
'n Mens moet Om
gay te wees, 'n sobere boek is, lees saam met Koos Prinsloo se Slagplaas, Johann de Lange se Nagsweet en Vreemder as fiksie en
versamelings soos Soort soek soort en Die
dye trek die dye aan ten einde
die realiteit van die gay bestaan te begryp.
Die skrywer wys op die realiteite dat daar baie
Afrikaanse mense is wat gay is en dat skole onder meer sillabusse moet aanpas.
Hier kan 'n mens dink aan die Franse rolprent La vie en rose en besef dat nie eens in 'n Europese leefwêreld is
begrip al 'n werklikheid is nie.
Die basiese uitgangspunt van hierdie goed geskrewe boek
(behalwe vir die verkeerde spelling van toegeneentheid en twee afbreek-foute!)
is dat gay-wees nie as 'n afwyking beskou moet word nie. Die boek is kennelik
vir die populêre mark bedoel en hierom dan die praat-aanslag. 'n Mens mis egter
die werk van Camille Paglia, die Amerikaanse kultuurkritikus en haar
baanbrekerswerk in onderhoude, essays en studie, Sexual personae: Art and
decadence from Nefertiti to Emily Dickinson (Penguin, Londen. 1991).
'n Mens soek ook na 'n register wat die opspoor van
verwysings sou vergemaklik. En wat fiksie betref: in Afrikaans is daar wel I.D.
du Plessis, Hennie Aucamp, Koos Prinsloo, Marzanne Le Roux van der Boon. Maar
waarom nie eerder die “en ander” van nader beskou as om Engelse tekste te
gebruik nie?
Die boek behoort baie te doen vir diegene wat die stigma
rondom gay-wees wil afbreek. En om regte vir gay mense te beding wat
heteroseksueles dikwels as vanselfsprekend aanvaar.
Dit is 'n boek wat steur en omkrap as jy gay is, omdat
jy weet hoe dikwels daar gediskrimineer word teen gay mense. Hoé gay mense -
dikwels ten onregte - die slaansak word van ander se vrese, fobieë en skadu's -
in Jungiaanse terme.
Die skrywer wil kennelik met hierdie boek die
(voor)oordele afbreek. Na bykans twintig jaar se harde werk as gay skrywer wil
'n mens sug: Dream on!
Maar dis die soort boek wat veral vir die moeder en
vader op die platteland van ernome hulp kan wees. En vir daardie persoon wat
sukkel om uit die kas te kom. Dit breek wel die vooroordele soos wat Greg
Louganis vele Olimpiese rekords verbrysel het.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]