Jackie Kay. Trumpet. Picador, 1999. ISBN: 0 330 33146 9.
Resensent: Joan
Hambidge
Jackie Kay het al bekendheid verwerf vir haar digkuns
soos The adoption papers en Other
lovers. Met haar debuutroman Trumpet verower sy die gesogte Guardian
Fiction Prize in 1989 en hierom dan die sagteband Picador publikasie na die
MacMillan hardeband uitgawe.
Trumpet handel oor die modieuse konsep van gender-bending iets
waaroor onder andere Foucault insiggewend geskryf het in die inleiding tot die
dokument Herculin Barbin, oftewel die
relaas van 'n hermafrodiet. Transvestisme, geslagsverandering of -verduistering
is aan die orde van die dag en Marjorie Garber se insiggewende studie oor
hierdie onderwerp Vested interests
ondersoek die verskynsel vanaf Shakespeare tot moderne verskynsels. Ook Camille
Paglia het belangrike werk gelewer op die gebied van geslagsdiskoers.
Ook films ondersoek dit met groot gusto: vanaf Some like it hot
tot en met The crying game het hierdie tema enersyds humor en
andersyds spanning by die kyker ontlok.
Trumpet vertel die verhaal van Joss Moody, 'n jazz
trompetspeler wat voorgegee het om 'n man te wees. S/hy het selfs 'n vrou en
aangenome kind gehad wat gedupe is
deur die geslagsrol wat vertolk is. Die verhaal begin by die dood en onthulling
van die ware feite. Verlede jaar was daar 'n storie in die Britse pers oor 'n
pianis wat eweneens haar/sy vrou om die bos gelei het.
Hoe is dit moontlik? Speel die familie saam? Is die
taboe oor homoseksualiteit steeds so groot dat 'n spel die enigste uitweg is?
Of is daar werklike vergissing in die spel?
Jackie Kay hanteer al hierdie leservrae met geweldige
deernis. Die sjarme van die roman is juis hierin opgesluit: dat die liefde
uiteindelik tog alles kan oorwin. Ook die pynlike belydenis van die kind ontroer.
En die lykbesorger se meditasies rondom die dood moes waarskynlik geweldige
navorsing geverg het.
Dit is dan ook pseudo-historiografie en verskillende
perspektiewe word op die verhaal gegee, selfs met 'n cv. Dit het egter 'n
bietjie herhaling tot gevolg - 'n klein punt van kritiek.
Die roman het 'n poëtiese kwaliteit wat imponeer. Dis
een van daardie romans wat 'n mens jy het self geskryf. Dit sit vol wysheid,
onder meer die stelling van Oscar Wilde dat jou biografie nie deur dissipels
geskryf word nie, maar deur die verraaier. En dat herinnering sekere insidente
helderder maak.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]