Irvine Welsh. Filth.
Jonathan Cape, 1998. ISBN 0 224 04118 5.
Resensent: Joan
Hambidge
Met een woord: verstommend. Filth van Irvine Welsh kan 'n mens nie anders beskryf as met
uitroepe nie. Verstommend, walglik, ontroerend, ontstellend, verskriklik. En
briljant.
Die vuige lewe van Bruce Robertson, 'n polisiespeurder
beland in Amsterdam om 'n saak op te los. Hy is egter korrup tot in sy siel
toe: hy is verslaaf aan kokaïne, seks (met allerlei genitaliese probleme wat in
fyn détail vertel word), skroom nie vir geweld nie. Trouens, hy is speursersant
Maigret (van Georges Simenon) se vollledige teenpool. Waar Maigret
handewringend hom bekommer oor die gemeenskap se agteruitgang, is Bruce deel
daarvan.
En ons verneem dan ook die redes hiervoor. Lesers wat
nie hul pret bederf wil hê nie, of nie 'n sterk maag het nie, moet nou asseblief
nie verder lees nie. Bruce is verwek in 'n aaklige verkragtingsituasie en die
stem van sy vrou werp lig op sy morele verval.
Ook het hy 'n wurm-probleem, en hierdie lintwurm, ja glo
my vry, word 'n “stem” wat kommentaar lewer en dikwels sommer oor die
vertelling spoel! Nou daar's vir jou 'n nuwe bewussynstroom-tegniek wat James
Joyce waarskynlik in sy graf laat tol! Dit sal waarskynlik ook as blasfemies
ervaar word deur die meer puriteinse leser, maar 'n mens moet ágter die
vergelykings met die Katolisisme kyk.
Irvine Welsh het die wêreld verower met Trainspotting, 'n roman wat my nie
geraak het nie, omdat ek nie die dwelmkultuur begryp nie. Maar ek moes dit lees
om my studente beter te verstaan ten einde te weet waarmee hulle identifiseer.
Ook die film het gewys dat mense hou van sy aweregse lewenshouding. In een van
die motto's word Arthur Schopenhauer aangehaal en sy siening van “desengano” en
dat die lewe uiteindelik afstuur op ontnugtering.
Daar is min skrywers wat so 'n troostelose beeld van die
mens kan gee en jou terselfdertyd kan gevange hou. Dit is 'n roman wat
waarskynlik die debat van “welgevoeg” en “welvoeglik” sal aktiveer. Maar feit
bly staan: die skrywer het 'n kreatiewe energie wat min hom kan nadoen.
Dis 392 bladsye van 'n ongelooflike leeservaring -- tot
by die stertjie van die wurm.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]