Iris Murdoch. Something
special. Random House, 2000. ISBN 0 701 16918 4.
Resensent: Joan Hambidge
Vra my wie is my mees geliefde skryfsters in Engeland en
ek sal sonder skroom die naam Iris Murdoch noem. En A.S. Byatt. Hulle
intellektuele hantering van menslike temas spreek my aan en Murdoch se The sea, the sea (waarvoor sy die
gesogte Booker prys ontvang het)bly een van die romans waarna die uwe bly
terugkeer.
Something special is haar enigste kortverhaal wat slegs vantevore, in 1950, in 'n bloemlesing en in
Japan gepubliseer is. Murdoch was romanskrywer, filosoof, digter en librettis.
Sy is dood aan Alzheimers en haar man, die bekende akademikus, John Bayley het
'n biografie Iris oor diƩ uitstaande
vrou gepubliseer.
Something special is soos Byatt se The
djinn in the nigtingale's eye 'n klein boekie. Klein in formaat en gegewe,
maar dikwels soos met fantasie- of kinderverhale gesteld is, gelaai met
sub-teks.
Die gegewe is vintage
Murdoch: die verhaal speel in Dublin af (Murdoch se geboortestad, terloops)
en vertel die verhaal van 'n jong vrou, Yvonne wat meer uit die lewe vra as 'n
huwelik van die man, Sam. Soos The sea,
the sea het Murdoch die vermoƫ om die kragtige emosie van die liefde en die
uitwerking hiervan op die menslike psige te karteer. Die onverwagse einde is
goed uitgewerk.
En die taalgebruik maak op sigself die lees hiervan die
moeite werd. Vir Murdoch-versamelaars teen R105!
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]