Bladsye / Pages

Friday, March 8, 2013

Gerda Saunders - Blessings on the sheep dog (2002)



Gerda Saunders. Blessings on the sheep dog. Southern Methodist University Press, 2002. ISBN: 0 87074 468 2.

Resensent: Joan Hambidge

Gerda Saunders se bundel kortverhale Blessings on the sheep dog dra die stempel van goedkeuring: J.M. Coetzee het dit goed gevind! Dit is dikwels mode om die naam van ‘n bekroonde op ‘n agterflap te plaas. Ons verneem ook dat hierdie teks die Utah Arts Council 1998 Publications Prize verower het.

Me. Saunders is ‘n uitgeweke Suid-Afrikaner en hierdie blik op buite is dus altyd ‘n interessante een: van onthou hoe dit was (sy gee ook erkenning aan haar familie wat van die stories vir haar vertel het) en hoe sy dink dit kon wees. Sy open met ‘n tipies Suid-Afrikaanse gegewe: verhoudings oor die kleurgrens en die uitwerking daarvan binne ‘n konserwatiewe gemeenskap. “A Sudden New City” werk met dit wat die kortverhaal so onderskei van ander genres, te wete sub-teks en die klinkende, opsommende slot. (Selfs waar dit '‘afwesig'’is, werk dit juis omdat die leser dit verwag.)

Waarskynlik is een van die mees verbluffende verhale “My brother can tell” met sy kragtige slot: ‘n jong dogtertjie wat haar boetie ‘red’ en haar bors vir hom gee. Teen die agtergrond van haar waarnemings oor word ‘n verhaal vertel van hoé kinders ‘n lewensveranderende ervaring interpreteer. Die verhaal is sielkundig ryk geskakeerd vertel met genoeg implikasies (soos die houding van ‘n vatterige onderwyser) wat hierdie kind se oorbewuste siening van die dood verklaar.

“Blessings on the sheep dog” is eweneens ‘n briljante verhaal waarin die donker drifte van die psige ondersoek word. En ‘n mens moet hierdie skrywer die kompliment maak: wanneer sy Afrikaanse verwysings gebruik, word dit ‘n integrale deel van die vertelling. Sy begryp die Afrikaanse psige baie goed en in “We’ll get to now later” word die hele geskiedenis rondom Koos Prinsloo se opmerking  in Die hemel help ons oor P.W. Botha vertel.

“The Epistemology of Romantic Despair” is ‘n boeiende analise vol feite. Al die stories in hierdie bundel is goed nagevors. Gelukkig word die wetenskaplike feit nooit ‘n belemmering in die verhaalgang.

“No money for stamps” is soos die reeds genoemde “My brother kan tell” ‘n verhaal wat aanspraak maak op antologisering. Dit is ‘n verhaal wat onder meer Griet skryf ‘n sprokie ook as interteks aktiveer en vertel die komplekse verhaal van ontheemding, liefdesverraad, moederskap en ‘n komplekse relasie tussen vrou en huishulp. Magriet beleef  binne ‘n nuwe ruimte (Amerika) felle emosies oor politieke ongeregtigheid. Ironies genoeg word sy hier ‘n soort huishulp vir skatryk mense en haar verhouding met haar indertydse bediende (en skuld omdat sy haar dogter aan die pas-polisie uitgelewer het) word a-chronologies vertel.

Die afskeidswoorde van Rose was toe sy haar vra om te skryf: No money for stamps”. Die mitologisering van die huwelik (o.a. kom Lady Di ter sprake as ‘n soort Sneeuwitjie) word hier aan die kaak gestel. Ook presteer hierdie verhaal om van ‘n politieke gegewe iets argetipies te maak: Rose is meer as die bediende. Sy verteenwoordig Magriet se gewete en verlede.

Dit is ‘n bundel wat behendig geskryf is. Dit werk met die donker kant van die menslike psige, met die wete, dat die positiewe ook bestaan. Sy beskryf donker drifte, sy gaan in op die chora van taal (in Kristeva se terme) en ontgin dit wat dikwels buite woorde lê: drome, begeerte na taboe-verhoudings, verliese, melancholie, ontheemding, wanhoop.

In ‘n verhaal word Foucault se siening oor seks weergegee: dat dit die plekke van geheime is en dat dit ook iets verraai van hoe ‘n mens met die werklikheid omgaan. Die skrywer ontgin al hierdie donker geheime waarvan haar karakters dikwels uitgelewer is soos in  die skitterende “Blessings on the sheep dog”.

Boonop ontgin die skrywer Afrikaanse uitdrukkings en idiome. Sy gee ‘n tipies Afrikaanse blik, maar dit word in Engels ‘vertaal’. Sy maak van die verhale iets universeels.En die taalbeheersing is uitmuntend. Sy erken dat die verhale elders ‘gehoor’ is of afgekyk is. Is Afrikaans haar moedertaal, wonder ‘n mens? Dit sal die verhale nog dwingender maak: dat sy buite die landgrense leef en in ‘n tweede taal skryf.

Dit is ‘n boek wat die gehaltemerk van J.M. Coetzee beslis mag dra.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Insig geplaas.]