Gabriel García Márquez. Living to tell the tale. Jonathan Cape,
2004. ISBN 0 224 07278 1.
Resensent: Joan Hambidge
Gabriel García Márquez het die Nobelprys
vir Letterkunde verower in 1982 en sy Een Honderd Jaar van Eensaamheid het hom
gevestig as een van die belangrikste eksponente van magies-realisme. Sy jongste
teks, ‘n outobiografiese verslag, heet Living to tell the tale. Sy jeug, sy
verhouding met sy moeder en met stories word in hierdie eenvoudig pakkende
vertelling met soveel oorgawe en drif vertel.
Hy begin sy outobiografie met ‘n reis terug
in sy jeug. Hy vergesel sy moeder om hul huis te gaan verkoop wat ‘n slim truuk
is om sy betrokkenheid by sy familie, sy land en vormingsjare in Kolombië vir
die leser te verduidelik. In ‘n mens se jeug kyk jy altyd vorentoe, die toekoms
in en soos jy ouer word, raak jy al hoe meer nostalgies en die verlede
belangriker, skryf hy.
Hy vertel ook hoe hy groot geword in ‘n
huis waar daar soveel weergawes van dieselfde insident was dat dit moeilik was
om presies te weet wat die waarheid behels. En hoe ‘n dislojale seun van sy
moeder – natuurlik die skrywer – die moeder se herkoms in verhale verraai het.
Die jong nuuskierige kind neem die geboorte van ‘n baba waar in ‘n toneel wat
die leser opnuut bewus maak van die psigo-analis, Alice Miller se teorie dat
jeugtrauma dikwels bly nawerk in die sensitiewe kind se gemoed en sy ervarings
daarna vir ewig bepaal.
Die skrywer skryf ook onderhoudend oor
naamgewing binne sy kultuur en bely hy dat ‘n karakter eers wanneer hy of sy ‘n
naam kry, tot lewe kom.
Sy liefde vir Faulkner en die invloed wat
Kafka op sy vorming as skrywer gehad het, word hier beskryf. Die terugblik op Gabito en sy geboorte as
skrywer in sy twintigerjare gebeur voor die leser se oë. Die verkoop van die huis (in psigo-analise
ook ‘n voorstelling van die self) in Aracataca, naby die Karibbiese see, bring
herinneringe, drome en opgemaakte vertellinge terug.
Opvallend is dit hoe groot boeke na hom toe
kom. Hy ontdek die tweede “Bybel”, Ulysses en bely sy skatpligtigheid aan
hierdie grootse roman en Kafka se Metamorfose verander sy waarneming van die
werklikheid vir altyd. Tipies Suid-Amerikaans word die belangrikheid van die digkuns
erken en Neruda se misbruik, volgens hom, van die digkuns by ‘n bepaalde
geleentheid om ‘n politieke stelling te maak, word bevraagteken. Vincente
Huidobro en Lorca. Ook hulle het ‘n magtige invloed op sy gees gehad en die
leser word bewus in hierdie vertelling met sy tuimelende vaart van die enorme
spirituele ervaring van die letterkunde.
Boeke verander ‘n lewe ten goede. Om
te skryf en stories te vertel, het ‘n primordiale funksie. Hy bely sy verslawing aan rook en skryf. (Ook
hoe hy skielik ophou rook, maar nie ophou skryf het nie.) Daar is pragtige tall
stories en van my gunstelinge is die vertelling van ‘n sirkus wat met ‘n
sinkende skip verewig verdwyn. Sy lewe in ‘n groot gesin en hoe moeilik dit was
om almal te versorg met ‘n moeder wat telkens ‘n nuwe baba op haar skoot had,
word vertel sonder enige sentimentaliteit. Dis net hoe dit was.
Die komplekse politieke landskap en opstand
behoort vir lesers daarop te wys dat die mens sulke onstuimighede kán
oorleef. Hoe hy sy tas (weliswaar
gesteel) verloor met dokumente, vertel iets van die skrywer. Hy soek nie daarna
nie; dit keer terug met korreksies in groen van die anonieme leser. Ook die
manier waarop hy mense uit die werklikheid gebruik in sy boeke, is insiggewend.
Maar, soos Hemingway, wil hy nie vertel hoe hy dit doen nie, want dit mag dalk
vir lasterprokureurs ‘n bruikbare handleiding word. Ook kopiereg-rusies, sy
werk as joernalis (as misdaadverslaggewer kom hy nie die mas op nie weens sy
sensitiewe reaksies) en filmkritikus lewer bewys van hoé ‘n groot skrywer
gevorm word.
Dis’n dik boek geskryf met vele
afdraaipaaie en met geduld. Die boek van ‘n ou, wyse mens wat tyd het vir so ‘n
bestekopname (daar is skynbaar twee ander volumes op pad). 300 000 eksemplare het glo verkoop binne tien
dae van “Vivir para contarla”.
Dis ‘n opwindende, meesleurende,
groter-as-lewensgroot verslag van hoe die skrywer van Een Honderd Jaar van
Eensaamheid (1967) die skrywer van sy enorme statuur geword het. Ons beleef sy
dwingende beskrywing van die rewolusie en sy vriendskap met Castro. Hy slaan op die vlug met vuil klere in ‘n
tassie, en dis hier by bladsy 300, dat jy as leser weet dat ellende wat hy as
jongmens meegemaak het, hom gestroop het van alle illusies. Ook sy soektog na
‘n tikmasjien bewys sy gedrewenheid as skrywer.
Hierdie boek het meer as twintig miljoen
eksemplare verkoop en is in 35 tale vertaal! Dit is ‘n roman wat naas Cervantes
se Don Quixote allerweë gereken word as die grootste in die Spaanse taal. ‘n
Mens verstaan ook na die lees van hierdie boek wat ‘magiese realisme’ werklik
beteken en dat dit buite ‘n Spaans-Katolieke wêreld vals opklink. Dit is dus ‘n
valse etiket om aan ‘n Engels-Suid-Afrikaanse roman te hang waar karakters deur
grotte val of spoke ‘sien’. Dis om die klok te hoor en nie te weet waar die bel
hang nie.
Lees hierdie boek wat stomp eindig, omdat
die volgende twee tome op pad is.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Fine Music Radio geplaas.]