Bladsye / Pages

Tuesday, March 5, 2013

Fiona Zerbst - Time and again (2003)



Fiona Zerbst. Time and again. UCT Youner Poets Series No 1, Snailpress, 2003. ISBN 187492360-4.

Resensent: Joan Hambidge

In die openingsvers word die leser reeds voorgestel aan die grimmige stilte van die digterskap en die wete dat donkerte, oftewel die melancholie waaroor Julia Kristeva so insigryk skryf, in Time and again aanbod sal kom. Dit is die eerste in die reeks van UCT se jonger digter-reeks wat deur Snailpress gepubliseer word.

‘n Reis in Rusland word ook betrek wat die leser natuurlik ook neem na die gedigte van Anna Akmatova en Marina Tsjetajeva, daardie twee groot beoefenaars van die stilte wat onder situasies en in mense broei. Die rivier in die Ukraiene is hier “siltless and polluted” in “At the dacha”. In “The bear” reageer die digter sterk beeldend op die reuk wat die opgehangde beer laat, ‘n soort gekruisigde Christus.

Ons vind gesprekke met Joseph Brodsky, Derek Walcott, Akmatova, o.a. wat opnuut bewys dat die digter wat haar tradisie ken, juis tegnies beter dig as die een wat ‘spontaan’ reageer.  Die verse oor die jeug, verlore liefdes, vriendskappe, familieverband word alles in beheer gehou deur ‘n tegniese beheer en kennis. Zerbst het ‘n suiwer, melancholiese aanslag wat deur die ysere tegniek in bedwang gehou word.

In “The room, again” word die pynlike afloop van ‘n verhouding beskryf met die wete:

a space I re-embrace,
and everything you are
can sit here in this poem,
a kind of prison, where
I regulate the hours
and the flow of air. 

In die puik “Rings” word die buurvrou se lewe ‘n replika van haar eie: hoe ‘n mens se lewe moet voortgaan ten spyte van privaat ellende en pyn. Hoe sekere indrukke en ervarings nooit verbygaan nie.  Die TV-nuus vertel van die wêreld wat voortgaan daarbuite…

”I’ve had my fill / of words that grieve and weep”, bely die spreker in die wete dat ‘n verhouding so vinnig, so finaal kan eindig. Tog vergeet ‘n mens die ervaring selde. Dit word deel van hoe jy alles hierna ervaar.

Ook wanneer sy oor die skilderkuns dig, is dit met vaardigheid en insig soos in “The lamentation”(Giotto di Bondone, c. 1277 – 1337). “Poem after Pierre Bonnard” verdien eweneens vermedling as uitstaande. Dit is ‘n suiwer debuut wat getuig van vakmanskap en beheer. En die digter het baie wysheid wat sy met haar leser deel. Tereg bedank sy twee voorste digters: Douglas Reid Skinner en Stephen Watson vir hul insette.

Die jong Engels Suid-Afrikaanse digters is tans die moeite werd om te lees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]