Etienne van Heerden (Red.). Die mooiste liefde is verby.
Tafelberg Uitgewers, 1999. ISBN 0 624 03840 1.
Resensent: Joan Hambidge
Die Ontvangers van die M-Net-beurs vir kreatiewe
skryfwerk het al bykans almal naam gemaak as skrywers in eie reg. Onder hul
leermeester, Etienne van Heerden, het daar sopas 'n bundel kortverhale verskyn:
Die mooiste liefde is verby. Die
titel is ontleen aan 'n gedig van Gert Vlok Nel.
Die agterblad praat dan tereg van die weë van die
liefde: die eerste teer aanraking van die geliefde se wang, die donker blik van
versweë passie, vervoering en verlies.
Dit word ook die mens se grootste obsessie op aarde genoem en die liefde
verneem ons, word hier in al sy verrukking en wreedheid beskryf. Dit gaan om
die liefde èn obsessie; liggaam en liefdesdroom. En die nawerking van die
kragtige emosie.
Elke skrywer is uitgedaag om twee verhale te skryf.
(Waarom het Van Heerden nie ook deelgeneem nie? Daardie erotiese momente in Kikoejoe
was uiters opwindend.)
'n Mens wonder ook, gedagtig aan die waarskuwing dat 'n
jong skrywer (behalwe vir die ouer Rachelle Greeff) nie oor die liefde moet
skryf nie, of die skrywers hierin sou slaag? En is die vrouetydskrif-voorblad
bedoeld? Om te insinueer dat ons sieninge van die liefde alreeds geskryf is
deur ander tekste voor ons ervaring daarvan? La Rochefoucauld het immers
gewaarsku dat liefde een stuk nabootsing is. Miskien kon 'n voorwoord al
hierdie kwessies aangespreek of toegelig het.
Die skrywers word alfabeties opgeneem en behandel. Ook
sal die onderliggende liefdeswysheid telkens uitgelig word en die uitstaande
bydraes bespreek word. En ironies genoeg is die een eerste geplaasde 'n sterk
opening: Jaco Botha met “Sweisbril” en “Grensdraad”. Botha skryf skerp
metafories en ekonomies.
Izak de Vries het die opdrag “reg” verstaan. In “Naakstudies
in Hogsback” dekonstrueer hy die liefdesverhaal en in die opwindende “Die
sagkant van 'n vrou” is daar 'n soort meta-blik op die Kama Sutra. Met die
voorspelbare verlies aan onskuld en die ontnugtering wat die liefde, of
gewaande liefde meebring.
Tom Dreyer bekyk ook die fenomeen van die liefde met 'n
skerp gedistansieerde blik en het die vermoë om 'n slot met 'n mooi romantiese
oomblik op te vang (“Reep en Lalla”). Wilhelm du Plessis se “Die redding van
Vuyo Stofile” behandel die versugting en smagting na die liefde met die
ongelooflike verdriet wat dit meebring as die ervaring onbeslis afloop. Ook
word die gegewe vérder gedistansieer deurdat hy 'n swart man as hoofkarakter
het. Propvol subteks en 'n puik psigoanalitiese moment wanneer hy nie van die
waterpomp drink nie!
Sonja Loots het waarskynlik die moeilikste onderwerp
aangepak met “Spinning through”. Dit is 'n verhaal wat werk met suggestie en
met elke lees word die leser voor nóg 'n moontlikheid gestel asof hy/sy
inderdaad besig is om te dobbel. Die triestheid van 'n reeksmoordenaar (met die
suggestie dat moord die hoogste vorm van seksuele ekstase is) word so briljant
gedissekteer dat die leser besef Loots is alreeds in 'n klas van haar eie.
Nini Nöthling se aweregse blik op 'n gay onderwyser se
begeerte vir 'n skolier, is ruig van die subteks. En skreeusnaaks. Jeugdige
eksperimentering met die “liefde” word beeldend en oortuigend uitgebeeld. Die
verhaal van verleier en slagoffer word hier verbeeld as 'n komplekse
interaksie. Die meisie neem deel aan haar slagoffer-vriend se wraakaksie téén
die onderwyser; net om ten slotte uit te vind dat hy wél meegedoen het.
Ook die daad van wraak, naamlik 'n poging om brand te
stig wat dan gesien word as 'n heilige boodskap vir die onnie, word briljant
beskryf.
Liefde bepaald, en die ontgogeling dat jou sogenaamde
onskuldige liefdesobjek deur die ander booswig “verlei” is, word hier aan die
kaak gestel. Ook “Wag op die koningin” behandel die begeertes van 'n lesbiese
meisie en hoe sy uiteindelik met haar familie en voorgeslag (hier aanskoulik
verbeeld as Lady Diana) moet vrede maak. Ook bedui die dood van Lady Di die
dood van háár persoonlike mite en die aanvaarding van die nuwe identiteit.
Dit is beslis 'n versameling om aan te koop. En een wat
waarskynlik 'n onthutsende blik gee op jong mense se ervaring van die liefde in
die tyd van Vigs, reeksmoordenaars en ander patalogieë. En soos 'n karakter sê:”Liefde,
reverend, is 'n luxury”(p. 75)
Die boek is nie besonder mooi uitgegee nie. Wat jammer,
veral gedagtig aan die feit dat hier 'n nuwe generasie gebundel word.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]