Berna Ackerman. Liesbet
Delport se oorlogboek. Tafelberg Uitgewers, 1998. ISBN 0 624 03702 9.
Resensent: Joan Hambidge
Een van die verruklikste sub-genres in die vertelkuns is
die jong kind-as-waarnemer. 'n Mens dink hier aan die vroeë Truman Capote,
Carson McCullers en natuurlik J.D. Salinger se onvergeetlike The catcher in the rye.
Liesbet Delport se oorlogboek, geskryf deur Berna Ackerman, vertel die verhaal van 'n
jong kind se waarnemings tydens die Tweede Wêreldoorlog. Sy is 'n
laerskoolkind, maar hou reeds 'n dagboek oor al háár gewaarwordinge, vrese en
naïewe interpretasies. Die verhaal beklemtoon in welke mate vrees 'n mens se
lewe kan verander. As 'n jong kind byvoorbeeld nou 'n dagboek sou hou, kan 'n
mens waarskynlik oor 'n paar jaar die skokkende paranoïese kondisie van hierdie
land na behore registreer.
Liesbet Delport se oorlogboek is 'n vaardige roman. Dit lewer verslag van 'n familie
se reaksie op die oorlog, die onderlinge spannninge wat dit tot gevolg het en
hoe mense se daaglikse lewens deur die oorlog geraak is. Die vader, 'n
proefleser by Die Volksblad, verloor tydelik sy werk. 'n Huwelik moet op 'n
kleiner skaal plaasvind.
Maar dit is veral Liesbet se emosies wat 'n mens
interesseer. Dit is immers haar perspektief en in geleerde terme vind ons ook
hier 'n verslag van oedipalisering. In hierdie kort bestek verander nie net
haar liggaam nie, maar word sy gekonfronteer met die beperkinge van grootmense
en die dood.
Die sensitiewe kind se emosies word baie raak beskryf.
Soos by J.M. Coetzee se Boyhood het
'n mens natuurlik altyd twee vertellers in so 'n jeugdokument: die kind en
daaroorheen die ouer, ontnugterde grootmens wat saampraat. (Miskien is die kind
se waarnemings by Ackerman soms-soms net te gesofistikeerd - maar dit is 'n
klein beswaar.)
Daar is werklik ongelooflik eerlike momente wat 'n mens
bybly. Hiervan, meen ek, is die weergawe van Donnie se siekte en dood werklik
uitstaande beskryf:
“Liesbet staan by die voetenent van die bed en kyk. Sy
gesiggie is in haar rigting gedraai. Sy beweeg haar hand en probeer sy aandag
trek, maar sy oë is glasig en dood soos haar poppe s'n. (p. 132). En later kyk
die perseptiewe kind ook na hom in sy kissie: “Sy ogies is toe en sy handjies
rus oorkruis op sy borsie. Sy vel is wit soos die satynvoering van die kissie.
Die baret met die groot tossel sit potsierlik skeef op die koppie. Die
vreemdheid van die stil, beweginglose liggaampie laat Liesbet verskrik
terugdeins” (p. 134).
Ook die ontwikkeling in die dagboek verdien vermelding.
En daar is ander lieflike vinjette wat 'n mens altyd sal bybly: die ongedurige
pa wat nie die kind se ontsteltenis by sy werk kan hanteer nie. En die jong
kind wat die politieke spanning tussen haar pa en Jack kan aanvoel al kan sy
nie presies die verloop van die oorlog begryp nie.
Die skryfster sinkopeer die historiese verloop goed met
die persoonlike ontwikkeling van die kind. Dit is 'n boek wat 'n mens gerus kan
saamlees met die kinderpsigoanalis, Alice Miller se The untouched key – Tracing Childhood Trauma in Creativity and
Destructiveness (Virago, 1990).
In hierdie openbarende studie wys Miller daarop hoe
traumatiese ervarings die kind se psige kan verander. Sy maak onder meer
analises van Picasso en Hitler as voorbeelde van twee uiterste gevalle. Ook die
psige van die skryfster sou 'n mens kon analiseer volgense etlike sleutels wat
Miller verskaf in haar opwindende studie.
Liesbet Delport se oorlogboek is 'n hoogs leesbare roman. 'n Mens wonder of Berna
Ackerman nie dalk iets oor die konsentrasiekampe vir ons wil skryf nie? Haar
goeie insig in die geskiedenis en fyn waarneming van klein besonderhede behoort
haar goed te pas te kom.
Die roman moes baie navorsing gekos het; 'n mens sien
dit aan die subtiele draad wat regdeur die verhaal gevleg word. Maar die
werklike fokus is die uitwerking van verwoesting op die psige van die mens. En
hoe dit 'n litteken maak.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]